Baarde en soene

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Apr 18, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 395 mense.

'n Welkome breuk is altyd goed vir die siel. Vir ons is die Kaap een van daardie mooi plekke wat jy gereeld moet besoek. Verkieslik daar waar niks en niemand is nie, sodat jy kan rus.

Die eerste paar dae is altyd interessant met kuierplekkies en mooi omgewings. Dit is opstaan wanneer jy wil en gemaklike klere wat jy sommer weer en weer kan dra. Die belangrikste van alles, is geen skeer. Ja, presies, geen skeer!!!.

So gaan ons die vakansie deur en die blou baard van my groei mooi. ʼn Bokkie-baard sal dit wees. Ek vra vroulief: ‘So wat dink jy?’ ’Mooi’ sê sy. Maar soos wat die tyd aangaan kom ek agter die soene skuif van die mond na die voorkop. Die eerste twee dae is dit van pas, maar dan begin ek wonder, gaan jy my nooit weer soen nie? Die derde dag kan ek dit net nie meer hou nie en vra: “Hoekom soen jy my nie?” Sy kyk my mooi in die oë en sê: “Die baardjie is mooi, maar dit steek te veel”. Geskok besef ek, as ek liefde wil beleef gaan ek moet kies wat bly – die baard of haar soene?

Dit laat my dink aan Johannes se gedagtes in 1 Johannes 2:16 : “Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” Johannes waarsku ons om onsself nie besig te hou met dit wat steel van ons verhouding met God nie. Net so steel ons mooi lyk, in my geval my baard, van die intimiteit wat ek kon beleef het as ek meer ingestel was op my lewensmaat as my voorkoms.

Wat kies jy in jou verhouding? Baarde of Soene?

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.