Altyd hoop!

by Blogger - Christel Coetzee / Mar 07, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 2395 mense.

Ek woon 'n vroue-aand, getiteld “’n Hart vol Hoop”, by. Ek is opgewonde om 'n aand in die geselskap van opregte vriendinne te spandeer en iewers binne my wonder ek of ek tog miskien ook hier sou wegstap met 'n tikkie hoop in my hart! 

 Terwyl die spreker haar aangrypende storie deel kom gee Heilige Gees vir my flitskaarte van die areas in my huwelik wat verlate staan soos ʼn dorre woestyn, waar die lafenis van hoop lank reeds opgedroog het.

Daar is dinge waaroor ek al so lank bid, nie die tipe “opsê gebedjies” wat jy in jou gedagtes afmerk nie. Ek praat van die gebede waar jy jou hart ontbloot en met alles in jou, jou saak voor die Here kom stel.

Dit is makliker om vas te sit oor die klein dingetjies waaroor jy nie saamstem nie, want jy wil minstens nog veg daarvoor. Die gevaar lê egter in daardie areas wat jy met ʼn laken toegegooi het, soos wat jy met meubels maak in ʼn huis wat vir lank leeg sou staan, sodat dit nie stof opgaar nie.

God kom gee my eindelik die moed om hom toe te laat om die laken af te trek en voor my sien ek ʼn verlate vertrek vol hopeloosheid.

“Hoop het ʼn naam, die naam bo alle name, die een wat die prys volkome betaal het, hoop is Jesus!” Ek hoor die spreker se woorde en beleef die waarheid van wie Jesus in elkeen van hierdie areas in my lewe is.

Daar is dinge in my huwelik waarin ek al vir jare lank geen deurbraak sien nie en selfs al lyk  hulle vandag nog nie anders nie besef ek dat Jesus lewe bring in elke area waarin jy hom toelaat.

Ek ontvang ʼn geskenk om huis toe te neem en daarop staan hierdie kragtige woorde van ons eie Madiba “May your choices reflect your hopes, not your fears.”

Ek bid saggies “Vader, laat my tog deur U oë kyk sodat ek moontlikhede kan sien in plaas van die tekortkominge wat die wêreld so graag vir my wil uitwys.”

Ek voel skielik anders! My hart is vol hoop! Ek lyk ook sommer anders, my skouers is teruggetrek en elke tree wat ek neem spreek van hernude determinasie.

Hoop het ʼn naam en daardie naam bring lewe! Daar is geen situasie waarop God sy rug draai nie, geen “issue” te groot vir Hom nie.

Hy wil jou gesig in sy hande vat, in jou oë kyk en liefdevol oor jou fluister “Jy is myne en vir jou sal ek veg!” God beplan vir jou en my ʼn mooi toekoms, ek glo dit, daarom kies ek vandag hoop!

  • Blogger - Christel Coetzee

    Christel Coetzee geniet die ligter sy van die lewe, maar haar hart vind ook anker in dinge wat werklik saak maak! Sy streef ewig daarna om die perfekte balans te vind tussen vrou-wees, Ma-wees vir haar pragtige drie seuns, ‘n huweliksmaat vir haar man, Braam en haar dinamiese rol in die korporatiewe wêreld. Sy droom daarvan om regoor die wêreld te reis en om haar deel te doen om ‘n veranderde wêreld te sien.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.