Aartappelslaai

Genoeg vir 6-8 porsies

BESTANDDELE

• 1 kg aartappels
• 1 middelslag-ui, opgekap
• 1 sopie appelasyn
• 1 sopie mosterd
• 1 koppie mayonnaise
• 1 koppie gewone wit jogurt
• sout en gemaalde swartpeper
• vars pietersielie, opgekap
Opsionele ekstras
• 300 g gerookte ham, in blokkies gesny
• 3 sopies agurkies, opgekap
• 3 radyse, gewas, stingels afgesny en fyngekap
• 3 hardgekookte eiers, afgedop en opgekap

METODE

1. Jy hoef nie die aartappels te skil nie, maar jy kan as jy wil. Wat jy egter moet doen, is om hulle te was, gaar te maak en te laat afkoel. Doen dit ’n paar uur vooraf of selfs die vorige dag. ’n Aartappel is reg wanneer die skil begin bars en jy ’n vurk met gemak daarin kan steek.
Al sal dit nie ’n krisis wees nie, probeer om hulle nie te gaar te maak nie; ons maak nie kapokaartappels nie.
2. As jy van die opsionele ekstras by jou slaai gaan voeg, berei dit voor en sit eenkant.
3. Sny die aartappel in skywe en meng dit met die gekapte ui.
4. Verhit die asyn en mosterd in ’n pan en gooi dit oor die aartappelskywe. Meng en laat staan vir ’n paar minute.
5. Voeg nou die mayonnaise, jogurt, sout en peper by, asook die opsionele ekstras van jou keuse. Meng die aartappels deeglik met die res van die bestanddele en laat die slaai minstens 30 minute in die yskas staan voor opdiening.
6. Garneer met pietersielie.

 

Website Security Test