Wat as die lewe jou versmoor?

lewe jou versmoor

Jy lag nooit meer nie, trouens, jy is sielsmoeg. Pasop! Jy is dalk na aan uitbrand. Grense vir jouself en ander is die groot geheim.

Dit is elke oggend ’n stryd om die kinders uit die bed te kry. Tussendeur maak jy ontbyt, sit toebroodjies in, gee die hond kos en kry jouself reg vir werk. Dan moet jy jaag om die kinders betyds by die skool af te laai.

Op kantoor sukkel jy om aan die gang te kom. Elke taak lyk soos ’n berg; daar is ’n magdom dinge wat afgehandel moet word. Jy voel moeg, treurig en eensaam. Al waaraan jy kan dink, is om te slaap tot volgende jaar.

Vroue het ’n groter kans om uit te brand

Jy het ’n beroep of jy ry die hele dag rond agter die kinders aan. Maar saans, as almal stokflou by die huis kom, is jy die een wat moet kos maak en beplan vir die volgende dag.

Vroue moet gewoonlik ’n dubbele rol vervul en laai heeltemal te veel op hulle skouers. Een mens is ook net tot ’n sekere hoeveelheid werk in staat en as jy nie briek aandraai nie, is uitbranding jou voorland.

Daar is natuurlik ’n verskil tussen gewone moegheid en uitbranding. Jy het dalk ’n paar weke of maande hard gewerk en min geslaap, en jy is doodmoeg en neerslagtig. Vir hierdie kortstondige moegheid is goeie ontspanning, ’n paar nagte se goeie slaap of ’n kort vakansie die regte medisyne. As jy ’n slag lekker gerus het, voel jy weer perdfris.

Die sindroom van uitbranding is egter ’n proses wat onopvallend oor maande, selfs jare, kan ontwikkel, meen die kenners. Dit gebeur nie oornag nie. Vir iemand wat al lank in hierdie uitmergelende siklus vasgevang is, is dit nie so maklik om daaruit te ontsnap nie. Dis hoekom voorkoming beter is as genesing.

Jy móét leer om nee te sê!

Daar is ’n oplossing, glo Annelize Endres, skrywer van Voorkom Uitbranding. “Dit is belangrik om aan jouself grense te stel waarbinne jy moet leef. Die grense is as’t ware veiligheidsones wat jy vir jouself skep.”

Jy het dit al tot vervelens toe gehoor, maar hier is dit weer: Leer om nee te sê. Moenie opkrop en iets doen net omdat jy nie die moed het om nee te sê nie. As jy jou emosies binnehou, skei jou liggaam te veel kortisol af. Dit veroorsaak dat jy geïrriteerd voel en hoofpyne en lyfpyne begin kry.

Tree selfhandhawend op. Sjoe, dis nogal ’n tameletjie. Christene word grootgemaak met die idee dat hulle altyd ander in ag moet neem en moet sorg dat dié mense gelukkig is. Dis nie heeltemal waar nie. Jy móét leer om ook aan jouself te dink en eerlik oor jóú behoeftes te wees.

Wees eerlik wanneer jy weier om iets te doen. Moenie verskonings maak nie, want dan gee jy ander mense ’n inkomplek en gaan hulle jou nooit ernstig opneem nie.

Bederf jouself sonder om skuldig te voel

Gun jouself bederf- en ontspantyd. Jy sal dalk van voor af moet leer hoe om te ontlaai, want jy het moontlik al vergeet wat vir jou lekker is. Maak daardie afspraak met jouself, al is dit net ’n kort rukkie elke dag. Dié tydjie moet die uitsluitlike doel hê om jou battery te herlaai vir die volgende taak wat voorlê.

Leer dus ook om te delegeer sodat jy tyd kan hê vir ’n bederf. En benut jou tyd reg. Werk uit hoe lank ’n taak gaan neem en bepaal dan of jy dit by jou besige program kan inpas.
Dis belangrik om realistiese verwagtings te hê en te onthou dat jy net sóveel op een dag kan doen. Moenie die lewe te ernstig opneem nie; lag ’n slag vir jou geskarrel om suksesvol te wees. Van dié humor raak jy ligter én gesonder.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test