Drome en wat dit moontlik kan beteken

wat my drome beteken

Elke mens droom 3 tot 6 keer per nag, almal kan net nie hul drome onthou nie. Alhoewel dit partykeer voel asof 'n droom lank aangehou het, het studies bepaal dat drome gewoonlik so tussen 5 en 20 minute duur. 

Presies hoekom mense droom is niemand seker nie en oor die uitleg daarvan is daar baie teorieë. Hier is 20 van die algemeenste drome en moontlike betekenisse daarvan.

1. Slange

Tensy jy ʼn slangliefhebber is, val drome oor slange gewoonlik in die nagmerrie kategorie. Dit kan beteken dat jy bang is vir mislukking of bang is dat jy iets waardevol kan verloor. Slange kan ook ʼn aanduiding wees dat jy mense in jou lewe het wat jy nie vertrou nie en dat jy bang is vir die invloed wat hulle op jou lewe het.

2. Jy droom jy val

As jy droom jy val kan dit beteken dat jy voel jy is besig om beheer te verloor in jou lewe. Dit kan ook beteken dat jy met ʼn groot probleem sukkel wat jy nie weet hoe om op te los nie. Mense wat hulpeloos voel oor ʼn verandering in hul lewens waaroor hulle geen beheer het nie, bv. afbetalings by die werk, sal baie keer droom hulle val.

3. Jou man/kêrel verkul jou of jy verneuk hom

As jy droom dat jy jou ander helfte verneuk, mag dit wees dat jy iets in jou wakker wêreld gedoen het waaroor jy skaam voel, maar dit kan ook dui op impulsiewe keuses of dat jy bloot net ʼn ander opinie as jou wederhelfte het oor ʼn saak en nou droom jy, jy verneuk hom.

As jy droom hy verneuk jou, weet net die arme man is onskuldig in die wakker wêreld. So ʼn droom dui eerder op keuses wat jy gemaak het wat slegte gevolge kan dra. Jy sukkel dalk met iets wat van jou by die werk verwag word wat direk indruis teen jou beginsels of integriteit.

Sou jy so iets droom nadat julle ʼn argument gehad het, kan die droom simbolies wees van jou emosies. Jy dink dalk jou lewensmaat gee te min aandag aan jou en te veel aandag aan sy werk, vriende of stokperdjies.

4. Droom oor jou eks

As jou eks skielik in jou drome verskyn, kan dit wees dat jy sukkel om ʼn slegte gewoonte af te leer of dat jy probeer om die een of ander fout of mislukking in jou wakker wêreld te hanteer.

5. Familie byeenkoms

As jy skielik droom die hele familie sak op jou toe, van jou ooms tot by jou kleinniggies, kan dit wees dat jy ʼn belangrike besluit in jou wakker wêreld moet neem of dat jy oorweeg om dit te neem en nou al die voor en nadele opweeg.

6. Water

Dit is dikwels ’n simbool van emosie en die vloei van energie. Vroue wat menstrueer, droom ook baie van water. Dis ’n voorbeeld daarvan dat drome uitbeeld wat in ’n spesifieke stadium in jou lyf gebeur.

7. Babas en kinders

’n Baba of kind kan ’n nuwe ontwikkeling in jou lewe of persoonlikheid uitbeeld. Dit kan ook ’n simbool wees van onvolwasse aspekte van jou persoonlikheid wat nodig het om te groei.

8. Weerstoestande

Enige duidelike weerstoestande in ’n droom is ’n teken van jou huidige emosionele toestand. Stormagtige weer vir wanneer jy kwaad is, sonnig vir wanneer jy gelukkig voel, terwyl reën die vrystel van ’n emosie beteken.

9. Jy het nie geleer vir ’n eksamen nie

Daar is ook variasies van hierdie droom waar jy laat is of dat die deur van die eksamenlokaal gesluit is. Die oorheersende emosie in hierdie droom is angstigheid. Jy voel dalk dat jy nie die standaarde volhou wat aan jou gestel word nie.

10. Jy is kaal en hardloop in die straat af

Iets verhinder jou moontlik om die mens te wees wat jy wil en kan wees. Of mense het ’n kant van jou gesien wat jy nie graag wou wys nie. Nou is jy bekommerd oor wat hulle van jou dink.

11. Jy droom van iemand wat dood is

’n Baie algemene droom is dié oor mense wat dood is. Jy droom dit kort na die dood en selfs jare daarna. Dikwels is die oorledene nog jonk en gesond in die droom. Jy wil baie graag glo dat die oorledene deur die droom ’n laaste boodskap bring, maar dit is ook ’n manier waarop jy afskeid neem, berusting vind of onafgehandelde sake met die oorledene hanteer.

12. Jy is weer ʼn kind

As jy droom jy is weer ʼn kind mag dit dalk beteken dat jy jouself huidiglik in ʼn nuwe situasie bevind wat jy sukkel om te hanteer. As dit ʼn positiewe droom is, kan dit dui dat jy opgewonde is oor die nuwe geleenthede of situasies op jou pad.

13. Jy word aangeval of gejaag

Dit kan beteken dat jy onder baie stres is

14. Jy kry seer of sterf

Dit kan beteken dat iets in jou lewe besig is om te verwelk of “dood te gaan”, soos ʼn verhouding of ʼn persoonlike eienskap/gewoonte

15. Probleme met jou motor

Jou lewe voel waarskynlik buite beheer

16. Laat vir ʼn bus, vliegtuig, trein

Dis dalk jou onderbewuste se manier om te sê: “Ek is nie deel van wat gebeur nie. Ek is besig om die geleentheid mis te loop.”

17. Goed wil nie ordentlik werk nie

Iets in jou liggaam werk dalk nie meer so goed nie, of jy is besig om voeling met iets of iemand te verloor.

18. Jy verloor iets waardevols

Dit kan beteken dat jy bang is jy verloor iets wat kosbaar is vir jou. Dit kan ook jou onderbewussyn se manier wees om een of ander vorm van verlies te verwerk.

19. Jy kan vlieg

Jy is opgewonde oor die lewe en weet dat jy baie potensiaal het om groot hoogtes te bereik. Jy voel vry om goeie keuses te maak en kan jouself wees.

20. Jou tande breek of val uit

Jy het baie angs en bekommernis in jou lewe wat uitgesorteer moet word

Al hierdie moontlike betekenisse is natuurlik subjektief en jy moet van dit maar met ʼn knippie sout neem. Kanse is goed dat jy bv. ʼn nagmerrie sal beleef as jy na ʼn klomp rillers voor slaaptyd gekyk het of dat jy sal droom jy is terug in die skool as jy bv. oor jou skooldae die dag gepraat het en staaltjies vertel het. Sou jy herhalend ʼn droom kry wat jou erg ontstel is dit dalk ʼn goeie idee om ʼn berader te gaan spreek en die onderliggende stres op te los.

 

 

kommentaar (3)

  • Maria Mouton (kommentaar)

    Ek het gedroom n leeu hou my in sy tande gevange en deur my geloof laat dit my vry.

  • Petro (kommentaar)

    my man het oor die naweek gedroom dat hy sy pa weer sien wat al seker 30 jaar terug oorlede is, hy het sy hand geskud en hom gedruk, sy pa se 4 vingers van sy een hand is af en my man vra toe vir hom hoekom is pa se vingers af, sy pa antwoord hy werk op 'n plaas, my man vra toe waar, sy pa antwoord ek kan jou nie sê nie, maar ons sal weer eendag ontmoet. dit pla my man baie, wat sal so iets beteken.

  • Charmain W (kommentaar)

    Droom oor ongebore baba wat in bed gekry word dan word daar gesê is myne is baie geskok en gesê ek nie geweet maar onthou toe ek kan nie myne wees want ek het nie meer 'n baar moeder nie.

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test