As jy teleurgesteld is in God

geloofsplan

7-dag geloofsplan

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Gered deur genade

In Gered deur Genade deel 50 Radio Kansel luisteraars hulle stories van genade met jou! Jy sal nooit weer kan twyfel nadat jy hierdie stories gelees het nie.

Kliek HIER en laai hierdie e-boek GRATIS af.

lyn_3.png

Dit maak oneindig seer om jou knieë deur te bid en jou diepste hartsbegeertes uit te stort, en dan ’n “nee” te kry.

DAG 1

Hoe maak jy as God nee sê?

Die lewe is vol teleurstellings – ’n droomvakansie wat gekanselleer word of iemand wat jou in die rug steek. Wanneer jy met jou hele hart vertrou het dat jou gebed verhoor sal word en dit gebeur nie, is jy platgeslaan. Dan is goedkoop trooswoorde die laaste ding wat jy wil hoor.

Jy voel moontlik nou ontnugter. Jy het nog altyd geglo God is liefde, maar toe tref kanker jou. Moes jy dan nie daardie seerkry gespaar gebly het nie? Dis egter nie ’n verskoning om moedeloos jou skouers op te trek en jou rug te draai nie. Kyk eerder hoe jy jou eie idee van die situasie kan verander en steeds glo dat daar iets goeds van kan kom.

Jy is nooit alleen nie, selfs al voel dit soms so. Onthou, jou hemelse Pa antwoord altyd op die manier wat op die ou end die beste is vir jóú. Daarom sal daar altyd hulp van Bo af kom, al is die uitkoms dalk nie presies wat jy verwag het nie. Soms kom die oplossing net in ’n ander gedaante!

Jesus het die ontsettende dubbele dood gesterf sodat dit nooit vir ons nodig sal wees om vir ewig van Hom geskei te word nie. As daar reeds soveel vir jou siel gedoen is, hoeveel te meer sal jou ander behoeftes nie ook aandag kry nie?

Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt. 27:46)

DAG 2

“Nee” is soms die begin van mooi dinge

Dit was dalk jou hartsbegeerte dat jou man die verhoging moes kry. Dan kon julle klaarspeel met julle skuld en die stres wat dit veroorsaak. Julle wou ’n groter huis koop met genoeg plek vir almal in die gesin. Julle sou soveel gelukkiger wees! Maar toe kry die (onbevoegde) kollega die pos.

Jy voel platgeslaan en verbitter. Miskien is jy selfs in ’n stryd met die Here gewikkel. Jy wonder elke sekonde wat jy dan verkeerd gedoen het. Jy kan nie help om dit in jou binneste te vra nie – hoe besluit Hy hieroor? Hoekom moes jy op daardie één versoek wat jy glo die beste vir julle lewe sou gewees het, ’n “nee” hoor?

Dis nie ongewoon om gekneus, teleurgesteld, ontevrede en selfs kwaad vir God te wees nie. Maar dit hoef nie die einde van julle gesprek te wees nie. Dikwels is dit juis die begin van ’n wonderlike ontdekkingstog.

Daar is Iemand wat die hele tyd agter die skerms werk – tot jou voordeel! Een wat presies weet wat jy wanneer nodig het. As jy met hierdie gesindheid begin bid, sal jy leer om geduldiger te wees. En jy sal later sien dat daar toe al die tyd ’n beter plan was waarvan jy nie geweet het nie.

So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou oë hê nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word, sê die Here, jou kinders sal uit die vyand se land terugkom (Jer. 31:16).

DAG 3

Raak ontslae van geestelike bagasie wat julle verhouding belemmer

Dit voel soms asof jy ’n “besettoon” hemel toe kry. Jy het baie vrae, maar kry geen antwoorde nie. Job (van wie ons lees dat sy gelyke nie op aarde is nie) het self vir 41 uit die 42 hoofstukke geworstel om antwoorde op sy vrae te ontdek.

Die geheim lê in die “plekke” waar Job hom bevind het. Eers was hy op ’n ashoop van selfbejammering, vol vrae, verwyte en doodswense. Toe, op ’n dag, het ’n sak-en-as-jammerte oor sy persoonlike afdraaipaaie hom beetgepak.

Net soos Job moet jy eers ontslae raak van die dinge wat jou siel besoedel. Onnodige bagasie soos ou griewe, selfverwyt en bitterheid kan verwoesting saai in jou lewe. Eers as jy hierdie dinge hanteer en verwerk het, sal jy die “skakeltoon” kan hoor. Dan sal jy begin verstaan hoekom dinge anders uitgewerk het.

Onthou, God is in ’n vennootskap met jou en doen nie alles vir jou nie. Jy moet self die nommer wat jou oproep gaan deursit, ontdek. Job het byvoorbeeld na sy belydenis vir sy vriende begin bid. En toe verander sy lot en kry hy dubbel soveel terug as wat hy verloor het.

Wanneer ons tot bekering kom, word ons sondes vergewe op grond van wat Christus gedoen het. Ons hou egter aan om sonde te doen en daarom moet ons voortdurend jammer sê en regmaak.

As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh. 1:9).

DAG 4

Praat eerlik oor jou seer as jy bid

Jy sal tog maklik jou hart vir ’n vriendin oopmaak: “My man is so besig en die kinders het hulle eie dinge. Ek voel partymaal so afgeskeep,” of: “Ek sien so uit na hierdie kursus. Dit gaan my regtig in ’n beter posisie plaas om daardie droompos te kry!” Maar vertel jy ook vir God hoe jy voel?

’n Mens dink baiekeer dat jy net mooi, dankbare dinge moet sê wanneer jy bid. God stel egter ook in ons minder “heilige” emosies belang. Daarom hoef jy nie skynheilig te wees nie. Martin Luther het mos gesê die eerste wet van gebed is: “Moenie vir God lieg nie.” As jy kwaad is vir Hom of voel dat Hy jou in die steek gelaat het, sê dan so!

Herstel die kommunikasie tussen julle. Jy hoef nie net te bid wanneer jy iets wil hê nie. Jy mag ook soms net sê hoe jy dinge verstaan en ervaar. Deel gerus jou opinies en gevoelens wanneer jy bid.

Moenie vassteek by die pyn wat jy op die oomblik ervaar nie. Jy moet begin aanbeweeg. Beskryf hoe jy voel en werk dan stelselmatig deur jou emosies. Jy hoef nie altyd jou droom te laat vaar nie, jy kan dalk net ’n nuwe plan uitwerk om dit te verwesenlik. Jy kan miskien nie saam met die gebrokenheid leef nie, maar wel saam met die heelwording.

Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef en my lewe lank verneder te word? (Jer. 20:18)

DAG 5

Luister fyn en jy sal die antwoord kry

Om te kan sê dat die antwoord “nee” was, moes jy mos eers geluister het! Maar hoe luister ’n mens sodat jy regtig kan hoor? Hier is ’n strategie wat kan werk. Bid eers hierdie gebed:

“My Vader wat in die hemel is, ek wil my volkome aan U verbind. Ek wil die regte strategie vir my toekoms volg. Ek weet, om U stem te kan hoor, moet alles wat tussen ons twee staan, eers weg wees. Wys vir my deur die Heilige Gees watter van my versoeke en verliese is belangriker as U. Ek weet daar is dinge in my lewe en omgewing wat nie tot U eer is nie. Was my skoon en vergewe my, asseblief.”

Nou kan jy probeer om die antwoord te herken. Die antwoord is partykeer meer as “ja” of “nee”. Skryf eerstens jou onbeantwoorde versoek(e) neer. Hou dan jou oë (en ore) oop vir insidente, mense, TV-programme, boeke of enigiets anders wat met jou versoek verbind kan word.

Raak rustig en voel hoe die son van Sy genade op jou skyn. Wees geduldig, soms neem dit tyd om die kolletjies met mekaar te verbind en die groter prentjie te sien. Die heel belangrikste is: Moenie moed verloor nie. Dis nie net die resultate wat tel nie, die proses is net so belangrik.

Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (Ps. 139:23-24).

DAG 6

So leer jy wat “nee” regtig beteken

Soms wag God eers dat jy Sy hulp vra wanneer jy seer het. Weet jy dat ons woorde Sy besluite beïnvloed? Hy stol selfs hosannas om fluistergebede te kan hoor!

Dit kan ook wees dat jy verkeerd bid. Die volk het destyds gebid, ja, maar terselfdertyd was die bloed van hulle leiers se korrupsie, omkopery en onreg aan hulle hande. Daar word nie eers na sulke gebede geluister nie.

Moenie dink jou gebede vir eie gewin, wense en drome sal beantwoord word as dit nie inpas by die groter prentjie nie. Jesus waarsku ook teen gebede waarmee ons ander probeer beïndruk. Dit help jou net mooi niks om mooi woorde te sê, maar dit nie opreg te bedoel nie.

Soms is dit nie God wat weier nie, maar ons wat vir onsself “nee” sê. Chemikalieë in uitlaatgasse, insekdoders, plastiekverpakkings, sintetiese klere, skoonmaakmiddels en verf versteur byvoorbeeld die estrogeen-progesteroon-balans en maak vroue (en mans) onvrugbaar.

Lees oor wat jou probleem ook al mag wees, raak ingelig, pas jou lewenstyl en eetgewoontes aan en doen jou deel om die omgewing op te pas.

Gebed is nie ’n manier om tot elke prys te kry wat jy begeer nie. Jy moet eerder ’n aanvoeling ontwikkel vir wat God wil hê, en dan jou eie wil prysgee, sodat jy die dinge kan sê en dink en doen wat Hy wil hoor.

Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie (Jer. 33:3).

DAG 7

Soek eerder God se plan vir jou lewe

Wanneer moet jy bes gee as dit lyk asof jou gebed op dowe ore val? Dis eenvoudig: Hou aan bid totdat jy weet wat die finale antwoord is. Doen intussen alles wat jy moet en kan doen om jou geloof sterker te maak. Moenie passief raak terwyl jy wag nie, maar gebruik hierdie wagtyd om te leer. Gaan aan met jou lewe, fokus op die goeie dinge, doen goed aan ander en hou aan getuig.

Ons sien dikwels nie die groter prent nie omdat ons so besig is met ons eie agenda. Daar is ’n perfekte plan vir jou lewe! Sodra jy by dié plan aansluit, sal dit wat jy aanpak, sommer baie beter werk. As daardie plan van joune verskil, volg dit heelhartig. Indien jy nie weet wat dit is nie, doen dan moeite om uit te vind.

’n Onbeantwoorde gebed beteken nie Hy is nie lief vir jou of verstaan nie waardeur jy gaan nie. Hy was mos self op die aarde en ken jou menslike natuur en vrese baie goed. Jy mag egter nie toelaat dat jou emosies handuit ruk nie.

Sê dankie, selfs al het jy nie gekry wat jy so graag wou gehad het nie. Verander wat jy kan, maar aanvaar die finale besluit. Jy hoef geen verduideliking te verwag nie. Hy weet tog wat die beste vir jou is – glo dit net!

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord (Ps. 130:5).

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Die dood en die lewe hierna

DR. ISAK BURGER is ’n kerkleier, prediker, gesinsman en veral iemand wat Jesus Christus liefhet en verkondig. Een van sy grootste vreugdes as skrywer is om te hoor hoe  mense vrede vind deur sy boeke. Hy skryf met passie omdat hy die hel armer en die hemel ryker wil maak. Kliek hier om die boek te bestel.

Jy spaar 30% en betaal slegs R100. Aanbod geldig tot 10 April.

lyn_3.png

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA