Chereé se hoop na haar miskraam

Die country-sangeres Chereé Strydom ken die hartseer van ’n miskraam. Al het sy twee pragtige dogtertjies, weet sy daar moes eintlik drie gewees het ...

Ek maak my oë oop in die hospitaalbed op Vredenburg en vat onwillekeurig aan my maag. Dit voel leeg. Hierbinne my, waar daar nog ’n paar dae gelede die wonderwerk gegroei het, is nou niks.

Gelukkig stap ek nie alleen oor die dorings nie. Ek het meer as een baken wat my pad verlig. Wynand (my sangerman) is een van die engele langs my. Ek kan in sy oë sien dat hy net so swaarkry soos ek, maar hy laai nogtans my seer óók op sy skouers.

Ons kan nie die luuksheid van rou bekostig nie. Klein Tally (Taylor-Hope, ons dogtertjie, wat toe 11 maande oud was) wag dat Mamma en Pappa moet huis toe kom. Daar is nie langer tyd vir stilsit en tob nie.

Van die hospitaal af terug huis toe bel ek een’n vriendin, Francis Grobler. Nóg ’n engel op my pad.

Francis reageer met skok en hartseer, maar sy gee ook iets besonders terug – diepe begrip. ’n Paar minute na ons gesprek stuur sy ’n SMS wat baie belangrik vir my genesing sou wees.

Sy vra dat ek een van die gedigte in haar digbundel, Pyltjies Innie Sand, moet lees. “’n Roos te vroeg gepluk” lees ek die gedig se titel. “Dis waar. Dié rosie van ons is beslis te vroeg gepluk,” dink ek met ’n knop in my keel.

Noem dit moederlike instink, maar ek het al vroeg-vroeg op vier weke geweet ons tweede enetjie is op pad. Al die tekens was daar, nes met my eerste swangerskap.

Hierdie keer, net soos tevore, het Wynand ’n tuisswangerskaptoets gaan koop. Hy het weereens met groot entoesiasme die videokamera gaan uithaal, terwyl ek my ding “oppie stokkie” in die badkamer gaan doen het. Toe ek uitkom het hy, nes laas, die kamera ingezoem; eers op die stokkie se twee lyntjies en toe op my gesigsuitdrukking. Hy was die toonbeeld van ’n trotse man en pa wat nie een enkele detail van sy vrou en ongebore baba wou misloop nie.

Saam het ons begin dagdroom oor die twee prinsesse wat binnekort in ons huis sou rondbaljaar; want ek het onmiddellik vermoed dit sou weer ’n dogtertjie wees.

[pagebreak] Met Taylor-Hope se geboorte het my skoonma – nog ’n engel – juis vir my die mooiste duvet-oortreksel gemaak. Dit het drie harte op met die woorde: Hope, Love en Joy. “Drie dogtertjies ... en hierdie een is nommer twee,” het ek gedink.

Maar op nege weke begin ons droom verkrummel ...

Ek het skielik begin bloei. Die dokter het my en Wynand huis toe gestuur met die raad dat ons die bloeding moes dophou, en dadelik moet terugkom as dit erger word. In die spreekkamer was die hartkloppie nog normaal. Maar dié bietjie gemoedsrus het oor die volgende paar dae soos mis voor die son verdwyn.

Dit was baie hartseer om te dink dat ek en Wynie saam ’n traan gestort het toe ons vir die eerste keer ons babas se hartkloppies in die dokter se spreekkamer gehoor het. En nou moes ons weer, saam-saam, ’n traan stort toe ons in dieselfde spreekkamer hoor dat my swangerskap verby is. Ons opgewondenheid oor ’n tweede asempie in die huis moes plek maak vir vasbyt en aangaan, want die lewe staan vir niemand stil nie.

As ek vandag terugkyk, besef ek, meer as ooit, dat dit ’n reusegeskenk is om ’n baba te kan dra en geboorte te skenk aan ’n nuwe lewe. Dit is beslis een van die mooiste en kosbaarste ervarings ooit – ’n voorreg; nie ’n reg nie.

Ek is ook, meer as ooit, daarvan oortuig dat alles met ’n doel gebeur, en dat God slegs dinge en omstandighede toelaat wat Hy weet jy sal kan oorwin. Bo alles bly Hy in beheer.

My ma was omtrent ’n steunpilaar met my miskraam, want sy het presies geweet hoe ek voel en wat ons nodig het in hierdie donker tyd. Sy bly net vier huise van ons af en het ingestaan om na Taylor-Hope te kyk en veral om net ’n skouer te wees waarop ek kon huil.

Dit klink dalk snaaks, maar die miskraam, hoe hartseer dit ook al was, het nie op ’n ongeleë tyd gebeur nie. In my en Wynand se geval voel dit asof ons nog ’n bietjie tyd pasella gekry het om eers net vir Taylor-Hope te geniet. Ek dink dit sou rof gegaan het met twee babas in die Strydom-huis.

My miskraam het my ook dieper fasette van menswees geleer. Soos dat verlies deel van die lewe is, dat alles nie net oor my gaan nie, en dat ’n mens eers deur jou eie emosies en hartseer moet werk voor jy ander kan probeer heelmaak.

[pagebreak] Is ek al heel? Ja, ek glo so. My man se bystand, my ma en familie se ondersteuning, en veral ook my vriendin Francis se gedig, het daarvoor gesorg.

Na die lang rit van die hospitaal af terug huis toe, het ek daardie dag leeg en ongemaklik uit die motor geklim en met swaar voete die huis ingeloop. Net totdat ek vir klein Tally gesien het. Sy het haar arms in die lug gesteek en ek het haar dankbaar opgetel en ’n vet soen op haar bolwangetjies gegee. Sy het teen my hart gesmelt. Ek het ’n baba verloor, maar ek het steeds die voorreg om nog een in my arms te koester. ’n Voorreg wat ek nooit weer as vanselfsprekend sou aanvaar nie.

Toe dit later rustig geword het in die huis, het ek na die boekrak gestap waar Francis se digbundel gebêre is. Ek het die boek oopgeslaan by “’n Roos te vroeg gepluk” en huiwerig begin lees. ’n Paar reëls later het die trane oor my wange gestroom, want sélf sou ek nie die woorde beter kon gekies het nie. Francis het dit geskryf asof dit net vir my bedoel is.

Die gedig is só mooi dat dit dadelik ’n melodie in my kop aangeneem het. Ek het die woorde saamgeneurie en besef, hierdie is my terapie! Dis ’n liedjie wat doodeenvoudig opgeneem móés word. Ek het die deur agter my toegetrek en begin werk en skaaf om die woorde en melodie met mekaar te versoen.

Binne drie uur was die gedig getoonset en in ons tuisateljee opgeneem. Al my hartseer in een liedjie saamgevat! Die koorgedeelte veral is baie ontroerend: Ek sleep jou in my skadu saam, my hand vol trane sonder ’n naam. As die aarde sou ophou draai en ek so gelukkig is, kry ek jou in ’n wit kombers van ’n engel terug.

Vandag kan ek getuig dat die leemte in my binneste weer vol geword het. Die seer in my hart is gesond. Tog, elke nou en dan wanneer my oog die woorde Hope, Love en Joy vang wat met soveel sorg op die oortreksel geborduur is, sit dit my weer aan die dink ...

Taylor-Hope is twee en haar jonger sussie, Bella-Joy, is nege maande oud. Nogtans voel dit asof ons eintlik drie meisiekinders moes gehad het. Die tweede enetjie is die Love wat ons verloor het. Amber-Love om presies te wees.

Kliek hier om Chereé se nuwe liedjie “’n Roos te vroeg gepluk” te luister.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.