Robbie wessels – die man agter die legende

Hy is heeltemal anders as die skreeusnaakse Poena wat almal ken. Agter die publieke beeld skuil ’n man wat lief is vir die Here en sy mense. Ons het met sy familie gaan gesels oor die ware hy.

Ons ontmoet die gewilde Poena een oggend by sy huis in Pretoria. Op die stoep staan al sewe Wesselse ons en inwag. Hierdie is ’n hegte familie wat baie omgee vir mekaar, baie lag vir mekaar se grappe en glad nie skroom om embarassing geheime te deel nie!

Robbie, wat het jou pa jou geleer?

Om nederig te wees. Niemand het tyd vir mense wat te veel van hulleself dink nie. Enige mens bly steeds net ’n mens en dit is maklik om grootkop te kry as almal heeltyd vir jou vertel hoe wonderlik jy is. Ek hou nie eens van die woord celebrity nie. Bekend wees is ’n voorreg, maar die ware ek vind ek in my mense, my gesin.

Waar het alles begin?

Terwyl ek drama studeer het, het ek nooit gedink ek sou actually ooit op televisie wees nie. Ek wou nog altyd bekend wees. Op universiteit moes ek ’n drie minute stand up comedy stukkie voorberei vir een van Willie Esterhuizen se programme. Toe ek uiteindelik die stukkie moes doen, was die oomblik te groot! Gelukkig het ek nie te sleg daarvan afgekom nie.

Waar sien jy jouself in die toekoms?

Ek wil nie oor tien jaar terugkyk en sien dat ek niks gegroei het nie. Die Here besluit waarheen hy my vat. Ek weet ek sal nie groter rolle kan kry of beter liedjies kan sing as ek nie geestelik en emosioneel daaruit gaan groei nie. Ek gaan nie altyd leeuloop nie.

Vertel vir ons iets wat niemand weet nie

Ek dans soms in my onderbroek voor die spieël. Ek’s mal daaroor om op toer by ’n gastehuis aan te kom en ’n rustige bad te vat, en soms sal ek voor ’n winkelvenster verbyloop en na myself in die weerkaatsing kyk. Ek moet darem weet of ek oukei lyk.

As jy nie Robbie Wessels, sanger en akteur was nie?

Ek sou graag ’n krieketspeler wou wees! Ek sal definitief nooit ’n nege tot vyf werk kan doen nie; ek kan nie so lank stilsit nie.

[pagebreak]

Wat kan sy boeties en sussies ons vertel?

Robbie en Hamilton, die jongste Wessels en Robbie se medester in Poena is Koning, is in die werklike lewe net so stout saam soos in die film! Hamilton se gunsteling herinnering was die keer toe hy Robbie se broek afgetrek het in Spar, min wetend dat hy nie ’n onderbroek aangehad het nie! Robbie was baie kwaad en het my op en af gejaag, maar gelukkig was daar nie baie mense nie – net die werkers. Dit was beslis die moeite werd!”

Hou jy van sy musiek?

Ek is mal daaroor. My gunsteling is ‘Hartswater’. Sy diep liedjies kan kompeteer met enige van ons land se ‘grotes’ en sy kuiermusiek is perfek vir alle geleenthede.

Wat sou jy aan hom wou verander?

Hy is altyd op sy selfoon! Hy maak sommer video oproepe as hy bestuur!

Ouer broer, Francois, het ook ’n klein rol in die film vertolk – hy was die klawerbordspeler in Poena se orkes al kan hy glad nie ’n instrument bespeel nie. “’n Mens moet net maak of jy weet wat jy doen en glimlag.”

Lag julle baie saam?

Heeltyd! Daar is altyd iets aan die broei. Toe ons saamgebly het, het hulle (Robbie en Hamilton) my elke nou en dan met ’n bak water van die balkon af natgegooi. Saam is hulle baie gevaarlik; hulle tydsberekening is perfek! Ek moet maar altyd die verantwoordelike een wees tussen hierdie twee grapmakers.

Wat is jou gunsteling herinnering?

Een aand, toe ons saam in Londen getoer het, het ons ’n komedie-vertoning gaan kyk in Leicester Square. Hulle roep toe toevallig vir Robbie verhoog toe om iets te doen. Toe ek weer sien, staan Robbie op die verhoog en strip stadig tot by sy onderbroek! Die mense het hulle pap gelag – meer as vir die komediant!

Wat van Robbie verbaas jou?

Dat hy so goed is met sy fans. Dit kom natuurlik vir hom. Ek sal mal word as mense heeltyd met my wil gesels, maar Robbie kom dit amper nie eers agter nie. Dis vir hom lekker!

Vir sy suster Annarie, was die oomblik amper te groot toe hy verlede jaar as Huisgenoot se Beste Nuweling aangewys is. “Hy het so mooi gepraat daardie aand, ek sal nooit vergeet hoe hy vir die Here dankie gesê het nie.”

Jy doen al sy besprekings vir hom. Hoe is dit om jou broer as baas te hê?

Hy is die beste baas wat daar is. Hy het nie hang ups nie. Mense wat hom bespreek vir optredes is altyd so bekommerd oor wat hy eet en drink en wat hulle vir hom moet voorberei. Ek voel gerus om te sê hy eet en drink enige iets. Hy het net eenkeer tydens ’n lang toer gevra of ek nie vir die mense wil sê hy soek ’n bord gekookte kos nie. Hy was so lank van die huis af weg, hy het gesmag na kookkos!

[pagebreak]

Wat weet niemand van hom nie?

Hy is baie besluiteloos. Hy sal die een oomblik sê hy weet hy gaan iets doen, dan reël ek alles. Twee ure later sal hy bel en sê dat hy van plan verander het of nog ’n rukkie daaroor wil dink, maar ek neem hom nie kwalik nie.

Kleinsus Sophia, is mal oor sy liedjie, ‘Halley se komeet’. Robbie het dit vir hulle oupa geskryf. “Ons raak baie nostalgies as ons daarna luister, omdat hy ons kinderdae so goed vasgevang het in daardie liedjie.”

Wat sou hy wees as hy nie in die vermaakbedryf was nie?

’n Sielkundige. Hy gee altyd goeie raad! Of ’n dominee, want hy preek konstant vir ons oor boyfriends.

In watter opsig is julle goeie sussies vir hom?

Robbie het nie styl nie. Hy sal in ’n PT- broekie onderhoude doen en glad nie dink dis vreemd nie. Ons probeer hom nou leer dat hy nie uit die huis uit kan gaan as hy sleg lyk nie. As hy op toer gaan, pak ons sy hele tas vir hom in. Maar laat ons nou net iets vergeet...

Enige raad vir sy toekomstige vrou?

Kyk asseblief net verby die verstrooidheid en vergeetagtigheid en sien sy hart raak. Sy sal moet weet hoe om ’n plug om te ruil, ’n gloeilamp in te sit en ’n e-pos te stuur, want hy is so ontegnies soos tien!

Nou ja toe. Dít is die ware Robbie, uit die monde van die mense wat hom die liefste het en die beste ken.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test