Só wen jy as enkelma

Melanie du Bois

 

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Hoe om 'n superkind groot te maak
Leer hoe om jou kind beter te verstaan en kreatief gereed te kry vir die toekoms. Besef hoekom heelbreindenke nodig is om jou kinders “die beste” te gee. Dink van nou af nuut en anders oor ouerskap en besef: Hoe jy dink bepaal jóú lewe – én jou kind s’n!

KLIEK HIER om jou gratis Carpe Diem e-boek hier af.

lyn_3.png

Toe Melanie du Bois skielik alleen na Roxy moes omsien, was dit oorweldigend. Vreesaanjaend selfs. Sy vertel hoe sy die uitdaging van enkelouerskap aangepak het.

“En die prins en prinses het lank en gelukkig saamgeleef,” lees Roxy voor sy die boek op haar skoot toeslaan.

Ek vou die komberse lekker knus om haar toe. Gee haar dan ’n soentjie op die voorkop. “Onthou net altyd dat ons jou liefhet, maak nie saak wat nie.”

Skielik moet jy alleen for better, for worse

Vandat Roxy se pa uit die huis is, het ’n bedtydstorie ’n gereelde instelling geword. Met 7de Laan het ek so laat en so moeg by die huis gekom dat haar pa gewoonlik vir haar gelees het. Nou het dit ons spesiale tyd van die dag geword. Roxy soek dit. Sy slaap nie voor ons nie gelees het nie. Dis ’n tyd dat sy kan vergeet van al die omwenteling en onsekerheid in haar lewe.

Sy is mal oor sprokies. Ek hou meer van Roald Dahl, Enid Blyton, Suid-Afrikaanse stories. Dit voel nie vir my of daar nog iets soos ’n gelukkige einde is nie. Die hele liefdesding in my is dood.

As jy trou, glo jy aan ewigdurende liefde. Dit wat ons voor daardie kansel beloof, is tog heilig. For better, for worse. Letterlik. Meteens was daar net een wat for better, for worse moet doen, want die belofte was tog nie net een wat ons aan mekaar gemaak het nie. Deel daarvan was om ook saam ouers vir Roxy te wees.

Ons het verantwoordelikhede gedeel. Hy het haar met huiswerk gehelp. Toe my sussie en haar seun hulle eie lewe geneem het, was hy die een wat dit aan haar vertel het. En so het ons mekaar aangevul. As die een swak was, was die ander een sterk.

[VIDEO] Melanie du Bois vertel in die video hoe sy Roxy gehelp het om te rou na die afsterwe van haar tannie en nefie.

Dans, bad, maar maak tyd vir jouself

Hy is nou weer meer by haar betrokke, maar aan die begin was sy amper 24/7 by my. Spinning, my alleentyd, dinktyd, kon ek nie meer doen nie. Daar was nie regtig kans om te treur oor die egskeiding of my familielede se dood nie. Die lewe het net aangegaan en aangegaan. Onmoontlik om by te hou.

Uitbranding het sy tol geëis. Klein, alledaagse take was skielik oorweldigend. Ontbyt, middagete, aandete, kunswedstryde, skooltake...

Dinge het te veel begin raak. Ek het besef dat ek êrens vir myself móés tyd maak. Dis net wanneer jyself krag het dat jy die energie sal hê om jou kind te help. Dit klink soos ’n cliché en eintlik het ek ook nie geweet wat dit regtig beteken nie, maar dit is daardie tyd van die dag wat jy iets doen wat vir jóú lekker is sonder om skuldig daaroor te voel.

As jy nie meer dieselfde soort eie-tyd kan hê wat jy voorheen gehad het nie, kry iets anders. Selfs al is dit net ’n lekker lang bad met kerse. Dans is my ontvlugting. As ek dans, dink ek aan niks. Dis net die bewegings en musiek wat tel.

Maar Roxy het ook bederf nodig. Sy gaan soms saam met my na funksies sodat sy ook net ’n bietjie kan wegkom. Naweke het ons ons eie bederfdae. Dan gee ons vir mekaar ’n voetspa en gesels baie.

Laat mense toe om jou te help

My grootste raad aan ma’s wat skielik alleen hulle kinders moet versorg, is om die vrymoedigheid te hê om mense in jou ondersteuningsnetwerk te vra om te help met praktiese dinge. Nie net te vra nie, maar te aanvaar as mense aanbied. Ons familie is baie na aan mekaar en hulle het gehelp waar hulle kon, maar moes in hierdie tyd self oor die dood van ’n dogter en ’n kleinseun kom. Boonop vra ek gewoonlik nie maklik hulp nie.

Hulle sou enige tyd help, waar en soveel as moontlik. Jou familie en vriende is lief vir jou en dit is vir hulle ’n eer om jou te help. Moet hulle nie die seën ontsê wat hulle kry deur jou en jou kinders by te staan nie.

Wees sag met jouself. Dit is nie nodig om elke aand ’n driegangmaal te maak nie. Jou kind sal oorleef met visvingers en tjips. Daar is niks verkeerd daarmee om nou en dan oorskietkos te eet nie.

Egskeiding is baie erg vir kinders. Hulle hele wêreld val uitmekaar. Al hulle sekerheid en standvastigheid word weggeneem. Wees ook sag met jou kind. Selfs al is hulle vrese irrasioneel of vergesog, is dit baie werklik in hulle gemoed.

Roxy kan byvoorbeeld nie ’n oomblik sonder my wees nie. Selfs al gaan haal sy net haar skoolklere of pajamas in haar slaapkamer, wil sy hê ek moet saam met haar gaan. Sy het hierdie vrees dat ek haar gaan los soos haar pa haar op ’n manier gelos het. En al sê sy dit nie, is sy so bang ek los haar soos tannie Lucia ons gelos het...

Op die oomblik slaap sy by my in die bed. Dit gee haar sekerheid. As sy vrae vra, verseker ek haar maar net oor en oor dat ons lief is vir haar en haar nie sal los nie, maar dat ek en Pappa saam nie goed is vir mekaar nie.

Hanteer ook jou eie emosies

Om jou kind te help om haar emosies te hanteer, moet jy aandag aan jou eie gevoelens gee. Ek het geweldige skuldgevoelens omdat Roxy nie die gesinslewe gaan hê wat ek vir haar wou gee nie. Sy het nie hiervoor gevra nie.

Dit troos my op ’n vreemde manier dat daar deesdae baie min kinders is wat grootword in hulle gesin van herkoms. Daardie kinders oorleef. Roxy sal ook.

Sy het definitief sterker en onafhankliker geword in hierdie tyd. Ek ook. Ons veggees het uitgekom. ’n Mens is baie sterker as wat jy dink.

Ons konsentreer nou daarop om met ʼn nuwe hoofstuk te begin al is dit baie seer om die vorige een af te sluit. Dit is nie die toekoms wat ek vir my kind beplan het nie, maar dis ’n toekoms – een met eindelose moontlikhede. Dis ’n tyd om nuwe passies te ontdek, nuwe vriende te maak, en in my geval selfs nuwe beroepsmoontlikhede. Glo in jouself, ontdek die vrou in jou, want as jy nie meer selfvertroue as vrou het nie, gaan jy ook nie meer glo in jou vermoëns as ma nie. Om sekuriteit aan jou kind te kan gee, moet jy in jouself bly glo.

Ek leef van oomblik tot oomblik, minuut tot minuut, dag tot dag. My oorwinning is dat ek steeds staande is. Daar is goeie en slegte dae, maar ek leef nog. Daar is ’n rede vir my om te leef en daardie rede is Roxy. Sy is ’n geskenk uit die hemel – my engel.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

5 minute met Jesus - Dagstukkies vir kinders
Twaalf bekendes in die jeugbediening het saamgeskryf aan hierdie Bybeldagboek vir kinders. Hierdie mense ken die harte van kinders en weet presies met watter issues die jeug daagliks te doen kry. Die skrywers gee raad sonder om prekerig te klink en lewer ook persoonlike getuienisse, wat die dagboek lekker lewendig maak

Kliek HIER om die aanlyn te koop op www.voelgoedwinkel.co.za

lyn_3.png

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA