’n Superma is net ’n mite

Lizanne du Plessis

 

lyn_3.png

GRATIS

365 wyshede uit die pen van Hettie Brittz.

KLIEK HIER om jou gratis Carpe Diem e-boek hier af.

lyn_3.png

Lizanne du Plessis wou die beste ma in die wêreld wees tot sy besef het sy gaan haar superheldstatus vroeër eerder as later verloor.

Die sirenes is oorverdowend, geboue swiep verby, maar ek sien niks. Al waaraan ek kan dink, is hoe klein my dogtertjie hier langs my in die ambulansbed lyk. Aan hoe blou haar gesiggie was toe ons in haar kamer gekom het.

Die dag toe my jongste, Cara, ’n koorsaanval gekry het, was die waterskeiding in my moederskapsreis. Omdat my man baie weg was van die huis, móés ek baie maal al die balle in die lug hou. Maar nie net móés nie, ek wóú ook. Ek het die idee in my kop gehad dat ek die kenner op die gebied van ouerskap was.

Ironies genoeg, was dit my man wat daarop aangedring het dat ons steeds ’n monitor in haar kamer hou. Ek het gevoel sy is twee jaar oud, sy het dit nie nodig nie, maar as dit nie was vir die geluide wat ons daardie aand gehoor het nie, kon daardie insident in ’n onbeskryflike tragedie geëindig het.

Toe ons uiteindelik by die hospitaal kom, het ek net geweet: Ek hoef nie ’n perfekte ma te wees wat perfekte kinders grootmaak nie. Ek hoef nie ’n superma te wees nie.

Maak kinders sterk deur dinge te verdien

Perfeksionisme is een van die redes hoekom daar tye is wat ek bykans onmoontlike eise aan myself stel. Ek wil net nie ’n slegte ma wees nie. My kinders moet tog net nie swaarkry of gebrek ly nie.

Toe ons na jare in Londen onlangs Kaapstad toe trek, het my kinders voor die grootste uitdaging tot dusver in hulle lewe te staan gekom. Waar hulle in ’n klein skooltjie van ongeveer 100 kinders was, is hulle nou in ’n skool met meer as 1 200 leerders. Nie net het ek en my man hulle uit ’n bekende wêreld weggeneem nie, maar hulle moes ook afskeid neem van alle betekenisvolle verhoudings wat hulle reeds opgebou het

Cara (nou 9) en Lize (13) het ons baie verwyt, maar, alhoewel ek steeds skuldig voel, het ek besef dat nie ek of my kinders skoene sal kry wat te groot is vir ons nie. Die aanpassing hier was iets wat hulle alleen moes aanpak, ek kon dit nie vir hulle doen nie.

Deur uit hulle gemaksone te moes kom, het hulle geweldig gegroei en lewenservaring opgedoen. Selfs met die langafstandvriendskappe weet hulle nou dat dit nie net gaan gebeur nie. Dit neem moeite en ’n doelgerigte besluit om verhoudings te behou.

[VIDEO] Ontmoet Finesse se nuwe ouerskapkenner, Lizanne Du Plessis wat saam met elke ma ʼn pad van doelgerigte ouerskap gaan stap.

Doen wat jy sê en sê wat jy doen

As arbeidsterapeut werk ek baie met kinders wat oorweldig word deur “groot” emosies, soos angs en onsekerheid. Hierdie emosies spoel dan oor in gedragsprobleme. My werk is om ander te help om hulle emosies te reguleer, maar soms kan ek nie al my eie gevoelens hanteer nie.

Tussen kinders, werk, praatjies en huishou deur gebeur dit nou en dan dat die wiele ’n bietjie afval. In sulke tye dink ek aan goed waarvoor ek dankbaar is. Dit help om my perspektief te verander.

Dankbaarheid is een van die waardes wat ek graag aan my kinders wil oordra. Ons het nou die gewoonte om met ontbyt elke oggend dinge waarvoor ons dankbaar is, in ’n joernaal te skryf.

Dis wonderlik om te sien hoe klein goedjies soos hierdie ’n indruk op hulle maak. My dogters is dankbaar vir groot dinge, soos ’n huis en ’n motor, maar ook iets eenvoudigs, soos ’n potlood om mee te skryf.

Op ’n ligter noot: My kinders sal my eendag seker onthou as die tiran wat ek is wanneer dit by tegnologie kom. Natuurlik kan ek hulle nie weghou daarvan of dit uit hulle lewe neem nie, maar ek wil hê hulle moet dit doelgerig gebruik.

Wanneer ons gesin op ’n Sondag ’n tegnologievrye dag het, moet ek self net baie versigtig wees dat ek nie elke kort-kort op my foon is nie. Preke help niks as jy nie self doen wat jy vir jou kinders sê om te doen nie.

Moenie alle dinge persoonlik opneem nie

Vroeg reeds het ek besef dat my kinders anders is as ek. Cara is visueel begaafd en ’n regte boekwurm. Ons sien haar byna nooit sonder ʼn pen of ʼn boek in haar hand nie. Sy maak sin van die lewe deur dit te teken of neer te pen. Soos nou die dag toe sy ʼn scenario wat homself in haar klas afgespeel het wou deel by die etenstafel en ʼn papier en pen gegryp het om alles visueel voor te stel. In teenstelling met Cara wat ʼn introvert is, is Lize ʼn ekstrovert. Sy is ʼn mens-mens wat verhoudings koester en vinnig kan aanvoel as iets nie pluis is nie.

As ma moes ek besef dat kinders nie replikas van ons is nie. Hulle het nie dieselfde persoonlikheid of talente nie en dit is hoe dit moet wees. Ek wil kinders hê wat kreatief en onafhanklik vir hulleself kan dink. God het Cara en Lize vir my gegee omdat ek die beste ma vir hulle twee is. Dit is deel van my taak om hulle te help om hulle talente te vind en hulle te lei dat hulle die werk doen wat hulle veronderstel is om hier op aarde te doen.

’n  Lokval waarin ons dikwels val is wanneer ons onsself met ander ma’s vergelyk. “Daardie ma verloor nooit haar humeur nie,” het ek al dikwels gedink, net om later uit te vind dat nie alles wat mense op Facebook plaas, noodwendig die waarheid is nie. Elke ma en kind se reis is anders as joune; mense kan nie aan dieselfde kriteria gemeet word nie.

Vat ’n bietjie af sonder om skuldig te voel

Of jy nou ’n werkende of ’n tuisblymamma is – tyd vir jouself is ’n luukse. Soms moet ek myself letterlik in die badkamer gaan toesluit om ’n bietjie privaatheid te geniet. Nou die dag het daar mense aan ons dak gewerk en tussendeur moes ek alles regkry vir Lize se partytjie daardie aand. En toe moet ek dokter toe jaag met ’n siek kind. Dit hou nooit op nie.

En alhoewel ek vir almal vertel hoe belangrik dit is om tyd vir jouself te vat, bederf ek myself net af en toe, soos wanneer ek met ons hond in ’n bos hier naby ons huis gaan draf. As daar nie ’n waterskaarste is nie, lees ek terwyl ek bad. En ja, vir almal wat wonder, ek het al ’n boek in die bad laat val!

Om vir ’n paar dae weg te gaan is nie ’n behoefte wat ek het nie. Ek is meer soos ’n moederhen. As my man en kuikentjies op hok is, wil ek nie wegvlieg nie. Maar ek is nie ongelukkig daaroor nie. Dit is ’n keuse wat ek maak. Moederskap werk in siklusse en hierdie tyd gaan vinniger verby wees as wat ek dink. Dan gaan ek my kinders mis.

Ek dink dit is belangrik dat ons onsself ken en ons kinders se uniekheid verstaan. Sodoende kan ons doelgerig wees in ons ouerskapreis, kan ons doen wat vir ons en ons kinders werk sonder om links en regs te kyk vir goedkeuring.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Oulike Ma verstaan jou en bevat al die wenke wat jy nodig het om die ma te wees wat jy wil wees. Hierdie eerlike boek praat in 100 stukke reguit met jou hart én verstand. Om jou as ma al hoe ouliker te maak, is daar ware verhale van gewone én buitengewone vroue, en die praktiese advies van kenners en deskundiges wat ouerskap ken.

Kliek HIER om die aanlyn te koop op www.voelgoedwinkel.co.za

lyn_3.png

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.