Help sy passie ontdek

Hettie Brittz

Ouerskapkenner: Hettie Brittz

lyn_3.png

GRATIS

365 wyshede uit die pen van Hettie Brittz.

KLIEK HIER om jou gratis Carpe Diem e-boek hier af.

lyn_3.png

'n Kind is besig om sy passie en roeping te ontdek as jy hulle dinge hoor sê soos: “Sjoe, ek wil graag...”

Die sinnetjie kan voltooi word met woorde soos: “Ek wil graag eendag die beste rugbyspeler wees!” of “Ek wil graag eendag ’n boek skryf.” Die dag wanneer jy weet wat dit is wat jy graag in hierdie wêreld wil doen, ontdek jy jou passie.

Ontdek wat jou kind intens gelukkig of ongelukkig maak

Passie is die innerlike energie wat jou dryf om ’n verskil te maak. Sonder passie maak dit nie saak of jy jou roeping ken nie, jy sal dit nie kan vervul nie. Want wanneer dinge moeilik raak, is dit passie wat jou vorentoe stuur deur die swaar tye, sodat jy kan uitkom by dit waarvoor jy gebore is.

Ons lewensroetes verander kort-kort. Ons bevind ons gedurig op nuwe plekke met nuwe uitdagings. Help jou kind verstaan dat hulle roeping beteken dat hulle geroep is om ’n wonderlike avontuur te beleef op aarde

Wees soos ʼn spieël wat sy intense belangstellings uitlig

Hou jou kind se emosionele pieke dop: die lang trane oor ’n spesifieke gebeurtenis of die uitbundige opgewondenheid oor iets. Die dinge wat jou kind emosioneel in beweging bring, is soos ’n kompasnaald wat aandui waar sy roeping en passie lê. In plaas van om jou kind emosioneel te probeer kalmeer, kan jy vir hom sê: “Hierdie ding maak jou so ontsettend hartseer dat ek glo die Here wil jou hier gebruik.”

Aanvanklik gaan ons nie presies weet waar hulle roeping lê nie. Hulle is dalk passievol oor ’n paar dinge. Ons moet maar net aanhou om die spieël op te hou en hulle bewus te maak van wat hulle in beweging bring.

Kinders moet ’n groot verskeidenheid dinge in en van die lewe beleef voordat hulle weet watter “skoen hulle pas”. Party mense ontdek hulle roeping al op ’n jong ouderdom, en dit ontwikkel uiteindelik in die beroep wat hulle eendag gaan beoefen. Vir die meeste kinders en selfs grootmense werk dit egter nie so nie. Jou kind het dalk stokperdjies en belangstellings, maar dit is nie noodwendig sy lewenspassie nie.

Een van die grootste vreugdes in ’n ouer se lewe is as jy uiteindelik kan sien jou kind weet wie hy is en waarheen hy op pad is. Onthou, jy hoef nie daardie besluit vir jou kind te neem nie. Jy kan net die vriendelike spieël ophou en seker maak jou kind weet sy is uniek genoeg, en dat die wêreld haar nodig het.

Daar is gesinne wat gelukkig deur die lewe draf. Lees hier wat maak hulle anders.

Fokus op dit wat jou kind se liggie verhelder

Kinders kan vandag gek wees oor tuinwerk of klavierspeel, en môre haat hulle dit, veral as hulle beste maatjie ook nie lus het daarvoor nie. Wat jy eerder kan doen, is om aandag te gee aan dit wat jou kind se liggie helder laat brand. Leer ken jou kind en wat hom laat tick.

Jy wil dalk hê jou kind moet in netbal of rugby uitblink, omdat jy ’n sportster was, maar omdat al die kinders rugby speel, beteken dit nie jou kind moet ook nie. Hy mag dalk eerder ’n hoofrol in die skool se opvoering verkies. Volg maar net die leidrade wat jou kind los.

Omdat ouers subjektief is as dit by hulle kinders kom, is ’n meetinstrument om hulle persoonlikheidsprofiel, aanleg of belangstellings te bepaal ook baie waardevol. Daar is gratis persoonlikheidstoetse aanlyn beskikbaar of besoek ’n professionele persoon. So sal jy jou kind beter kan navigeer in die rigting van die dinge wat hom opgewonde maak.

Jy kan nie jou kinders se passie vir hulle skep nie, en jy kan dit beslis nie koop nie. Jou kind se passie sal vanself ontwikkel op sy tyd, somtyds selfs heelwat later in die lewe. En dit is reg so.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Koop vandag Hettie se “Kweek kinders met karakter” vir slegs R100.

 

lyn_3.png

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.