Ons hou vakansie in Suid-Afrika

vakansie

Vroue praat oor...

Die woord laat ’n mens sommer glimlag. Of jy nou vir ’n naweek wegglip berge toe of vir ’n week see toe gaan, dit bly lekker.

So ’n wegbreek het nie vir almal dieselfde betekenis nie. Daar is mense wat glo hulle kan nie ontspan tensy hulle in ’n woonwa êrens onder ’n boom staan nie; vir ander wat meer van gemak hou, klink dit dalk soos ’n nagmerrie.

Gelukkig is daar ’n groot verskeidenheid dinge om in Suid-Afrika te doen. Die avontuurlustiges kan van brûe afspring, op wilde waters gaan roei of bo-oor die bome gly. Vir die besadigdes is daar baie oorde en strande waar hulle langs die water kan afpak en absoluut niks doen nie. Die mense wat hou van swem in die see, gaan KwaZulu-Natal toe en dié wat net vir die see wil kyk, gaan maak ’n draai in die Weskus. Daar is wynroetes vir fynproewers en talle monumente, museums en teaters vir diegene wat ons kulturele skatkis wil opsoek.

Ons het met vroue gaan gesels oor hoe hulle blaaskanstye in hierdie mooi land beleef en in die proses op interessante stories en staaltjies afgekom.

“Hier ontspan jou lyf en gemoed”

Marietjie Joubert woon in Southampton, maar sy is ’n boorling van Gauteng. Sy kom gereeld hier kuier en het onlangs die Noord-Kaap verken.

In Desember is Engeland maar koud, nat en donker, dié dat ek toe hitte in die Noord-Kaap gaan soek het. Dit is nou die son en die warm hartlikheid van die omgewing en sy mense.

Ek was dalk bevooroordeeld omdat van my beste universiteitsvriende rondom Upington, Keimoes en Kakamas bly, maar die kuier het alle verwagtings oortref. As ek hitte gesoek het, het ek dit gekry – 52 grade so net duskant Kersfees! Dit klink dalk onuithoudbaar warm, maar met luilekker kuiers langs die koel systrome van die Oranjerivier, of onder heerlike koeltebome, ontspan jou lyf en jou gemoed.

Dis asof gasvryheid in die Noord-Kaap met ’n beker vol ekstra vriendelikheid, rustigheid en verdraagsaamheid kom. Hier jaag jy nie. Die eindeloosheid van die Kalahari-vlaktes gee ruimte vir jou siel sodat jy weer jouself vind en één kan wees met dit wat vir jou belangrik is.

’n Sonsondergangbootrit op die Oranjerivier bied ’n asemrowende beeld tussen water en hemelruim wat geen skilder of kamera kan vasvang nie. Van vroegoggend se plaasgeluide, verby die middag se koelte soek, tot die aande se lang kuiers om ’n braaivleisvuur – ’n kuier in die Noord-Kaap is een wat jou vir jare sal bybly.

“Ons geniet die rustigheid van die bos”

Elsabe Bester, deesdae van die Weskus, onthou nog die lekker tye wat hulle gesin in Noordwes gehad het, veral in die gedeeltes wat aan die Bosveld herinner.

Dalk is dit maar omdat dit ons wêreld was en enige wegbreek vinnig beplan kon word, slegs ’n klipgooi weg van die huis af. Bygesê, met ’n man wat nie glo aan kort-kort stop nie, was dit ook prakties ’n makliker keuse. ’n Blaaskans in hierdie houshouding beteken gewoon dat ons wegbreek van alles wat ons elke dag besig hou. Ons reis lig, en weelde is nie deel van die voorvereistes nie. As ’n mens kan stort, slaap, braai, koffie maak en rus, is dit heeltemal genoeg. Hierdie vyfsterweelde in ons boekie was elke keer deel van die pakket op hierdie stukkie Bosveld-aarde.

Dit is asof jy die gejaagde lewe oombliklik verlaat wanneer die motorbande grondpad slaan net anderkant die treinspoor op soek na alles wat net die Bosveld kan bied. Mooi sonsondergange, wild, voëlsang en veilige voetpaadjies waar jou lyf weer mens kan word. Vir moeë volwassenes het hierdie stukkie paradys ook ’n verrassingspakkie: genoeg vir kinders om te doen sodat selfs ’n week sonder te veel selfoonopvangs nie in ’n verveelde gestry ontaard nie.

Ja, daar is mooi plekke weg van die see ook, in die hart van die land. ’n Mens moet net ’n bietjie moeite doen en dalk oor die treinspoor die grondpaadjies volg...

“Lekker lag help vir elke situasie”

Celia Willemse van Roodepoort onthou die dae toe hulle nog saam met hulle ouers gereeld weggebreek het Oos-Kaap toe. Daar het altyd iets gebeur...

Son, see, sand wat brand en sterk wind, maar ons gaan elke jaar see toe. Ek onthou die een keer in Jeffreysbaai. Ek het vir my ’n bikini en ’n naeltjiering aangeskaf en kon nie wag om op die strand te kom nie. Toe Pa sien wat ek aanhet, het hy net gesê: “Trek jou ordentlik aan.”

Vir my onbetaamlikheid moes ek die sambreel oppas. Ons sit nog so rustig, toe ruk die wind die sambreel tot in die water. Reken my suster mense sal my help as ek in my bikini agter die sambreel aantrippel. Moet nooit advies aanvaar van jou kleinsus nie...

Ek haal die sambreel in, maar draai my rug op die see. Net daar slaan ’n brander my onderstebo, sambreel en al! Soos ek na asem snak, sien ek hoe die bikini-toppie verby my dryf. En daar sit ek met net ’n sambreel. Almal op die strand, my suster inkluis, lê soos hulle lag en ek sien Pa is op ’n drafstap om te kom red.

Annelize het haar hemp vir my geleen, Pa het weer die sambreel staangemaak en ek en Ma is dadelik dorp toe om ’n eenstukbaaikostuum te gaan koop.

“Ek ontsnap gereeld berge toe”

Dis nou al meer as dertig jaar dat Marie Luyt gereeld afry na die Natalse Drakensberge toe om van die stadsgewoel in Pretoria weg te kom.

Dramatiese gille, mense wat mekaar agterdogtig uitvra, terwyl almal wonder wat van die wapen geword het... Dit was nou ’n naweek van ’n ander aard. Elkeen het vooraf ’n karakter gekry en moes daarvolgens aantrek. Ek het die rol gekry van ’n vrotsige aktrise in tweederangse flieks wat graag aan die gil gaan. Deur die loop van die naweek moes al die deelnemers toe saamspeel om te raai wie die moordenaar is. Wat ’n lekker manier om nuwe mense maklik te leer ken. Gesellig, en groot pret!

Elke keer in die Drakensberge is iets besonders. Selfs die reis is ’n vreugde, al kom die rammelrige pad waaraan hulle nou al jare lank werk, ook nie klaar nie. As jy eers by die pas uit is, lê die provinsie tot ver in die verskiet hier onder jou. Stres, bekommernis en moegheid klim sommer vanself uit die motor uit.

Oor die jare heen het Edmund-hulle derduisende inheemse bome en plante by die herberg geplant. Waar sou ’n mens nog so ’n natuurtuin vol wilde agapante, vuurpyle en allerlei veldblommetjies kry met so ’n uitsig oor die immer veranderende Berg? Hier is daar vrede. Kan jy ontspan. Mag jy maar net jy wees.

“Ek vind vrede by die dam”

Vir Elize Nieuwenhuizen van Brakpan is uitspantyd by die Vaaldam in die Vrystaat die ideale ontvlugting van stadslawaai. Langs die dam is daar stilte.

Somtyds moet ’n mens net afskakel en wegkom van die geraas en gedurige besigwees. Partykeer beplan ons lank voor die tyd, ander kere besluit ons sommer net in die week dis nou weer sulke tyd. Ons gaan visvang.

Dis eintlik ironies, want toe ek klein was, het my pa ons gereeld saamgevat viswaters toe en ek het dit gehaat. Noudat ek ouer is, besef ek watter sielerus ’n paar dae langs die water vir jou kan bring.

Ek sal nou nie sê ek is die wêreld se beste kampeerder nie, maar ek kan darem al tent opslaan. Kon net nie regkom met die tipiese geriewe langs die waters nie, dié dat ek toe vir ons die nodige opslaanstort en ’n met-permissie-gesê-sitplek aangeskaf het.

So ’n wegbreek gaan vir my oor kop skoonmaak en rustig raak. Nie dat jy noodwendig net kan sit en niks doen nie, want as die wind oor die dam begin stoot, kry jy meer as een oefensessie om te sorg alles waai nie weg nie.

As die wind gaan lê en die water word ’n spieël, dan steek ons die braaivleisvuurtjie aan en voel weer mens.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test