Nedine Blom gesels oor haar kinders

Elke kind is uniek, en so ook die maniere wat hulle liefde gee en wil ontvang. Nedine Blom verduidelik hoe sy haar eie kinders se liefdestale verstaan.


Adriaan, my jongste met die klein hartjie

Ek begin sommer by die jongste. Adriaan se liefdestaal is beslis aanraking met kwaliteit-tyd tweede op die lys. Hy reconnect met ons na ’n lang skooldag vol stres en toetse, deur sommer net op die bed by ons te kom lê. Hy gooi sy arm en sy been so oor jou lyf en so cuddle hy, soos hy dit noem. Dit is sy debriefing in ’n veilige plek. Hy is ook ’n kind wat gereeld vra vir kwaliteit tyd en sommer by jou sal kom staan en sê “ek soek nou jou aandag”. Natuurlik kry hy nie altyd daardie aandag wanneer hy dit vra nie, want die lewe is gejaag en ons dag tot dag verpligtinge is legio. Die feit dat ek van die huis af werk, maak dit ook baie moeilik. Werk en gesinslewe is noodgedwonge iets wat vermeng raak. Ons sukkel nog baie om die grens te trek tussen werkstyd en gesinstyd.

Adriaan kry baie min pakslae, dis baie meer effektief om voorregte by hom weg te vat wanneer hy gedissiplineer moet word. Ons sny egter nooit aan die cuddle-tyd nie. Hy is amper soos ’n plantjie wat daardie water nodig het. So as hy oortree, sal ons die voorregte ding doen, en dan is die resultate nogal baie vinnig. Hy is ’n besonderse sensitiewe seuntjie met ’n klein hartjie. So ons is maar versigtig met die woorde wat ons gebruik wanneer ons met hom praat. Hy noem homself ’n creative.

Ons sagte middelkind, Christiaan, hou van woorde

Christiaan is ons middelkind, ook met ’n besondere sensitiewe kant. Sy primêre liefdestaal sou ek sê is opbouende woorde met kwaliteit tyd tweede in die ry. Van kleins het hy daarvan gehou om alleen saam met een van ons iets te gaan doen. Ons gaan graag ’n milkshake saam drink of ons twee gaan smul aan kaaskoek iewers. Wanneer ons hom dissiplineer met woorde, kry ons die mees effektiewe resultaat. Hy is egter nou al ’n tiener en besef die gevolge van sy handelinge gelukkig baie goed. Hy is wel ’n kind wat baie na binne leef, wat dit moeilik maak om altyd te weet wat in sy hart aangaan.

Amor kan ure om gesels, tyd is baie belangrik

Amor is ons oudste en haar primêre liefdestaal is beslis kwaliteit tyd. Sy hou daarvan om tot 3 uur in die oggend te lê en chat op die bed oor alles en nog wat. Om geskenke te ontvang feature nie op Amor se liefdestaal lys nie maar wel die gee van geskenke. Dit is vir haar wonderlik om ander mense te bederf en haar oë kry sommer sulke blink sterre in as sy vir ander kan gee. Haar grootste geskenk is aandag en tyd (natuurlik ook dan tyd saam met haar vriende). Sy is ’n sosiale vlindertjie. Van kleins af het ons haar gedissiplineer deur voorregte weg te vat. Dit het beslis die gewenste effek gehad. Amor was baie bang vir ’n pakslae toe sy klein was en het ons dit met al drie ons kinders beperk tot die minimum.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test