Pieter Lombard
Ons is getroud op 27.10.1993. Ek is ’n baie onstabiele diabeet wat 4 keer per dag insulien spuit. My suikervlakke val snags tot bitter laag, so erg dat ek nie eens wakker word nie, maar manlief word keer op keer wakker en het my al menige kere van die dood gered.
Op 24.05.2001 het die Here ons geseën met ’n baie spesiale baba. Hy was perfek gebore, maar sy hartjie het 3 keer gaan staan na geboorte. Hy het die ergste graad van breinskade opgedoen wat daar bestaan. Volgens die medici is ons bondeltjie liefde ’n wonderwerk. Niemand kan glo dat hy vandag nog lewe nie. Hy kan nie sit, loop, staan, praat of selfs sluk nie, en word deur middel van ’n buisie gevoed.
My man se liefde vir my en ons kinders is so groot. Hy slaap met my en sy siek baba op die bed, kry nooit ooit genoeg rus nie, want hy moet so lig slaap dat hy kan hoor wanneer wynand ’n asem nood het, of ek in ’n diabetiese “hypo” ingaan. Dit het al ’n paar keer gebeur dat hy op dieselfde tyd met beide van ons moet spartel – kan jy dink hoe erg dit moet wees??
Hy maak my elke oggend wakker met koffie, en dan is my badwater reeds getap. Saans wanneer ek pootuit is na werk, sal hy vir my ’n lekker skuimbad tap en kerse aansteek en daarna nog ’n lekker massering ook gee.
My manlief kla nooit ooit nie. Hy is werklik die wonderlikste mens in die hele wye wêreld. – Ek dank die Here elke dag vir hom, want ek weet soveel huwelike sou al verbrokkel het met omstandighede soos ons s’n.










