Dis wat 2010 se wenner te sê het

’n Tante van my het altyd gesê elke vrou het drie mans in haar lewe – die een met wie sy getrou het, die een met wie sy eintlik moes getrou het … en die een wat sy altyd sal liefhê. Maar dié gelukkige vroue het net een: ’n Manlief!

FINESSE se Manlief van die Jaar raak elke jaar meer opwindend! Dit word al moeiliker om net een uit die duisende inskrywings te kies. Dis die lekkerste gevoel om te weet daar is soveel wonderlike mans! Geliefde mans, oor wie hulle vroue gek is.

Ons beoordelaars was net so beïndruk! Nadat ons die finaliste aangewys het, moes die beoordelaars kies. Zane Meas en sy vrou, Megan; Rina Hugo en haar man, Johan van Rensburg; en Liesel Krause-Wiid en haar man, Siebert, het gehelp om die wenner te kies. Daarna was dit natuurlik julle beurt – en die SMS’e het behoorlik ingestroom. Ons hoop jou gunsteling het gewen!

Pieter Lombard (49) van Gordonsbaai is baie skugter oor die hele Manlief-ding … hy gee sy vrou, Elize, al die skuld! Op sy eie, vertel hy, sou hy hom nooit in so iets begewe het nie. Iemand het hom blykbaar reeds as ’n Manlief-finalis herken en in Pick ’n Pay voorgekeer: “Ek wou sommer met my kop onder die rakke induik … ek’s regtig baie skaam.” Hoewel dit vir hom ’n eer is, is hy nie ’n man wat loop en spog nie. Sy nuwe titel reflekteer eerder wat sy vrou van hom dink.

Pieter is baie trots op sy gesin wat so na aan God leef en ander inspireer. Nie omdat sy vrou siek is en oor hulle gestremde seuntjie nie, maar omdat hulle mekaar innig liefhet. Pieter is gek oor sy vrou omdat sy hom in alles bystaan en nooit oor enigiets verwyt nie. Dan sê hy: “My vrou is ’n geskenk van God, en as ek haar te na kom, kom ek Hom te na.”

Elize borrel behoorlik as jy haar oor Pieter pols. “My arme man! Ek het nie besef daar gaan ’n fotosessie en als wees nie!” giggel sy toe die foto’s pas klaar geneem is en sy reg is vir ’n paar vrae.

Wat is die een ding wat jy vir Pieter wens?

Rus. Pieter werk regtig hard aan die besigheid wat hy twee jaar gelede begin het. En wanneer hy gedaan tuis kom, help hy in en om die huis, en veral met Wynand (8), ons gestremde seun. Wynand kan niks vir homself doen nie, en hy is al so swaar, ek kan hom nie meer dra nie. As dit nie vir Pieter was nie … Ons het al baie saam by Wynand se bed gesit en huil as hy siek was. Dit maak nie saak hoe gestremd jou kind is nie, ’n ouer is nooit gereed vir ’n kind om te sterf nie. Ek en Pieter dra mekaar hierdeur. Dit het ons verhouding beslis versterk.

Verder is ek ’n onstabiele diabeet wat vier keer per dag insulien moet kry. Soms het ek ook Pieter se hulp nodig. Dit het al gebeur dat Pieter gelyk met my en Wynand spook. Ek weet hy is moeg, al sê hy dit nooit nie.

Is Pieter meer soos Superman, Chuck Norris of MacGyver?

Meer soos MacGyver, die planmaker. Maar hy is ook beslis my Superman!

Wat bewonder jy die meeste omtrent Pieter?

Die lewe en liefde wat hy uitstraal. En sy rustigheid. Pieter sal nie sommer opgewerk raak nie, hy benader probleme logies en bly kalm al is die omstandighede om hom ook hoe rof.

Stel ons almal gerus: Baklei jy en Pieter soms, en waaroor?

Ja, ons baklei ook maar soos enige getroude paar. Maar hoe ons dit hanteer, is belangrik. Ons baklei nie lelik nie, en sal nooit kwaad gaan slaap nie.
Soms kom ek moeg en knorrig by die huis. Dan sal die wag voor my mond partymaal ’n bitsige aanmerking laat deurglip! As dit gebeur, sal Pieter sy arms om my sit en sê: “Ek kan sien jy’t ’n rowwe dag gehad.”
Om die waarheid te sê, ons lewe is so besig, daar is nie regtig tyd vir baklei nie. Dalk is dit die geheim: Ons wil ons oomblikke saam geniet, nie om baklei nie.

Hoe bly julle gelukkig getroud?

God is die basis van ons huwelik, en Hy laat alles ten goede meewerk. Van ons kant af sou ek sê dis wedersydse respek; ons is beste vriende en vennote. Ons bid saam en waardeer mekaar. Daardie geykte raad wat almal gee, dat jy altyd aan jou huwelik moet werk, is beslis waar. Moet mekaar nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons leef elke dag asof dit ons laaste is … en soms verras ons mekaar, wanneer die ander een dit die minste verwag.

Pieter en Elize is nog effens verstom oor die Manlief-titel – so asof hulle liefde vir mekaar agter elke bos uitgeskop word. Maar ons weet dat hierdie twee mense iets besonders het en dat ons baie by hulle kan leer. Dis nooit “wat” met jou gebeur nie, maar “hoe” jy dit laat afloop.

Geniet jou man, al raak hy voor die televisie aan die slaap. Waardeer hom, al maak hy jou soms kwaad. Onthou, elke man is net ’n mens, maar dis jý wat van hom ’n MANLIEF maak!