Kry ’n plat maag vir die somer

23 Oktober 2012

Jy dra te veel gewig om jou middellyf terwyl jy weet dis die gevaarlike soort gewig. ’n Boepmagie lyk nie sexy nie, maar jy is al raadop met joune. Watter oefeninge en raad werk regtig?

Boepens, oliebol, muffin top, spaarwiel – noem dit wat jy wil. Niemand wil ’n vet maag hê nie. Jy wens daardie televisie-advertensies was waar ... dat as jy 10 minute per dag met ’n wondermasjien oefen, jy wonderbaarlik sespak-maagspiere gaan ontwikkel! Die rede waarom dit te goed klink om waar te wees, is omdat dit ís. Vir blywende resultate is dit belangrik om uit ’n holistiese oogpunt na jou lyf (en maag) te kyk. Dit beteken jy kan nie nét oefen, nét gesond eet of nét die regte aanvullings neem nie. Kenners glo jy moet ’n kombinasie van verskillende hulpbronne en metodes gebruik om die beste langdurige resultate te verkry.

Is die omtrek van jou middel meer as 88 cm?

’n Pap maag is nie net onaantreklik nie, dit kan ook lewensgevaarlik wees. Daar is bewys dat gewigsverlies om jou middellyf een van die belangrikste vereistes vir goeie gesondheid is. Die vet om jou maag is juis gevaarlik omdat dit so naby aan jou lewensbelangrike organe sit. Dit verhoog jou risiko vir verstopte are en hartprobleme. Volgens webmd.com behoort ’n man se middelmaat minder as 102 cm en ’n vrou s’n minder as 88 cm te wees. Enigiets meer as dit en jy is ’n kandidaat vir tipe 2-diabetes, hartsiektes en ander lewensbedreigende kwale. Meet só jou middellyfomtrek: Moenie jou asem ophou nie en meet die dunste deel van jou middel, net bo jou heupbeen, ongeveer gelyk met jou naeltjie.

Oefening

Honderd opsitte ’n dag is ongelukkig geen waarborg vir ’n plat maag nie. Ons Westerse dieet behels dat ons meestal te veel kos inneem wat as vet onder die vel geberg word, veral in die romp. “Die eerste stap is om ’n goeie aërobiese oefenprogram te volg,” sê Russel Millen, biokinetikus van Sandton, Johannesburg. Oefeninge vir jou hele lyf en oefeninge met gewigte verhoog jou metabolisme. Dis een van die maklikste maniere om vet te verbrand. Hoe hoër jou spierdigtheid, hoe meer kilojoules sal jy verbrand – selfs in jou slaap. Sterk kernspiere (diep maag- en rugspiere) is net so belangrik. Dit verseker goeie postuur, wat jou slanker sal laat lyk. “Dis jou kernspiere wat jou moet regop hou. Hierdie spiere help ook om rugbeserings te voorkom.” “Die meeste maagoefeninge teiken net die oppervlakkige spiere,” waarsku Russel. “Pilates-oefeninge is baie gewild om die kernspiere te teiken en sal ’n plat maag bevorder.” Doen altyd eerste kern-oefeninge (wat baie spiere en beweging insluit) en daarna “eenspier”-oefeninge soos crunches. Maklike oefeninge met groot impak wat groter spiergroepe op ’n slag teiken, soos squats en lunges, is ’n slim benutting van tyd. Moenie vergeet om altyd jou maagspiere te “aktiveer” (styf te hou) terwyl jy oefen nie. Jy sal makliker by ’n oefenprogram bly wat pret is, so, kies iets wat jy geniet!

Porsiegrootte en tipe kos

Vir ’n plat maag moet jy die regte tipes kos eet. Dr. Rosemary Stanton, bekende Australiese voedingkundige en kampvegter vir diëte sonder gemorskos, sê: “Hou op gemorskos eet en let op jou porsiegroottes. Deesdae verorber mense ’n bak pasta wat so groot is, dit sou voorheen as ’n skottel kos vir ’n hele gesin kon dien. Daar is bewys dat dit goed werk om kleiner borde, bakkies en selfs wynglase te kies. As jy uit ’n kleiner bordjie eet, voel jy gewoonlik steeds tevrede na ete.” Eet stadig en geniet jou kos.

Hier is ’n paar slim voedselkeuses vir ’n plat maag

Vrugte gladdejantjie: Gee jou metabolisme soggens ’n skop met ’n veselryke smoothie. Die vesel in die vrugte ruim as’t ware die onsuiwerhede in jou lyf op. Die gevolg? Jou spysvertering werk goed en jy voel nie winderig of opgeblaas nie.
Avokado: Die mono-onversadigde vette in avokado’s verminder die vet wat om jou maag saampak. Avokado’s verteer ook op ’n manier wat nie jou spysvertering stadiger maak nie. ’n Kwart avokado tel as een porsie vet (’n teelepel botter of eetlepel olyfolie) in jou dieet.
Jogurt: Die probiotika in jogurt verbeter jou spysvertering deur die tempo waarteen kos verteer word, te versnel. Jogurt bevat ook kalsium wat – volgens navorsers aan die Universiteit aan Tennessee – vetverbranding aanhelp.
Peperment: Dit werk uitstekend om jou opgeblaasde maag as gevolg van prikkelbare dermsindroom (PDS) te streel. Drink ’n koppie pepermenttee of geniet water met mentblaartjies. Brandrissies: Hierdie klein brandvruggies wakker jou metabolisme aan omdat dit vertering stimuleer.

Vyf top wenke vir ’n plat maag

  1. Oefen minstens 30 minute per dag, vyf dae per week.
  2. Kombineer kardiovaskulêre oefening met gewigte. Na gewigoefeninge sal jou metabolisme vir drie tot vier uur vinniger wees. Wissel gereeld jou oefenprogram af.
  3. Eet stadig.
  4. Eet laevetproteïene met elke ete. Jou lyf sal kilojoules moet verbrand om dit te verteer.
  5. Doen maagoefeninge aan die begin van jou oefensessie. So aktiveer jy die spiere. Doen dit ook weer aan die einde van die sessie. Begin vandag nog. Eet reg, oefen gereeld en verbeter jou liggaamshouding. Dis nie net jou man en jou jeans wat jou sal bedank nie, maar jou hart sal ook daarby baat vind.
Deel/Stuur
isabel van niekerk (anoniem)
besoeker's picture
dis fantasties

Deel jou kommentaar

CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Sleutel die karakters in wat vertoon word.