Stres se impak op jou lewe

25 Julie 2013

Stres is deel van almal se daaglikse bestaan. Alhoewel dié woord ’n negatiewe konnotasie het, het elke mens tog ’n mate van stres nodig. Die geheim is om dit reg te hanteer vir ’n positiewe effek.

  1. Is dit vir jou moeilik om aan die slaap te raak of aan die slaap te bly?
  2. Kry jy gereeld hoofpyn, lae rugpyn, of ’n seer nek en skouers?
  3. Is jy gereeld sommer net senuweeagtig?
  4. Word jy al meer gereeld siek?
  5. Voel jy net uitgeput en afgemat?

     

“Al is jou probleme menslik onoplosbaar en jou moeilikheid menslik onoorkombaar, God kan jou altyd help. Vir Hom is niks onmoontlik nie.
NINA SMIT

verandering bring stres

Met al die nuutste tegnologiese verwikkelings word ons daagliks gekonfronteer met verandering en ons word gedwing om al vinniger ons keuses maak.

Ek is nie ’n mens wat maklik kan verander, of wat werklik van verandering hou nie. Dit laat my onseker voel. Dit laat my stres. Daarom dat die jaar 2001 so traumaties vir my was, en myns insiens het 9/11 té veel psigologiese verandering gebring. Kombineer dit nog met 1994, toe ons ’n rewolusie in ons land gehad het ... Omdat dit gekontroleer en geleidelik  plaasgevind het, het ons nie die effek dadelik beleef nie, maar geleidelik het ons die veranderings ervaar. Vir iemand soos ek was dit katastrofies. Nie vreemd dat ek die einde van daardie jaar drie ligte beroertes gehad het nie.

definisies van stres

Daar is baie, en dikwels uiteenlopende, definisies van stres. ’n Vriend van my glo byvoorbeeld dit is iets wat met jou gebeur voordat jy vloek. ’n Meer akkurate definisie is egter dat stres dit is wat weerspieël hoe jou liggaam op verandering of op ’n uitdaging reageer. Daardie veranderinge kan kom van gevoelens, situasies en mense. Om na ’n ander dorp te verhuis of van werk te verander is byvoorbeeld stresvol, of ’n nuwe werk of skool kan ook stres meebring.

Stres is dus die liggaam se reaksie op ’n gebeurtenis wat as emosioneel of fisiek bedreigend beskou word.

elke mens het ’n mate van stres nodig

Stres is normaal en het ’n positiewe uitwerking op ons lewens.

Wanneer ons oor stres dink, dink ons gewoonlik negatief daaroor.

Jy het egter ’n sekere mate van stres in jou lewe nodig. Fisieke en emosionele stres help jou liggaam byvoorbeeld om gereed te wees vir aksie en sodoende beter te presteer. Dis waar dat te veel stres nie goed vir jou is nie. Maar net so kan te min stres veroorsaak dat jy ’n onderpresteerder word. Die regte hoeveelheid stres kan ’n motiveerder wees wat jou na prestasie lei.

Ek het eenkeer gehoor van ’n tengerige vroutjie wie se kind onder ’n kar beland het. Sy het so gestres oor die kind, wat meegebring het dat haar liggaam baie adrenalien en kortisol afgeskei het. Dit het haar soveel energie gegee dat sy vrou-alleen die motor van haar kind opgelig het.

Al ooit gesien dat Olimpiese rekords op stil oefenbane opgestel word? Nee. Dit word net onder die stres van mededinging en voor reuse skares gedoen. Stres verhoog duidelik jou  prestasie, maar elke mens het ’n stres-drempel; ’n punt waar druk te veel word; en as jy daardie kritieke grens tussen genoegsame en te veel stres oorgesteek het, sal jy tot min in staat wees. Dan word alles te veel vir jou.

Dit is nie jou situasie of omstandighede as sodanig wat tot jou stres lei nie, maar hoe jy oor hierdie omstandighede of verandering dink. Net so is emosies en gedrag nie altyd die gevolg van wat met jou gebeur nie, maar hoe jy daaroor dink. Dit verklaar waarom verskillende mense in dieselfde omstandighede so verskillend op goed reageer. Jy kan jou stressituasie dus verander deur bloot jou houding teenoor die situasie te verander.

om stres te hanteer ...

Dink aan ’n onlangse gebeurtenis wat negatief was.

Trek vir jou ’n tabel op en vul die volgende daarop in:

Eerste kolom – die gebeurtenis.
Tweede kolom – jou gedagtes daaromtrent.
Derde kolom – jou stresreaksie.
Vierde kolom – watse ander gedagtes kan in die toekoms ’n meer positiewe reaksie by die derde kolom tot gevolg hê?

Doen hierdie “stresontleding” gereeld en wees eerlik met jouself as jy die tabel invul. Dit sal daartoe lei dat jy jouself beter sal leer ken en dit sal jou ook motiveer tot meer positiewe reaksies.

0 kommentaar oor "Stres se impak op jou lewe"

Lewer Kommentaar

Full HTML

  • Web page addresses and e-mail addresses turn into links automatically.
  • Lines and paragraphs break automatically.

Filtered HTML

  • Web page addresses and e-mail addresses turn into links automatically.
  • Allowed HTML tags: <a> <em> <strong> <cite> <blockquote> <code> <ul> <ol> <li> <dl> <dt> <dd>
  • Lines and paragraphs break automatically.

Plain text

  • No HTML tags allowed.
  • Web page addresses and e-mail addresses turn into links automatically.
  • Lines and paragraphs break automatically.
CAPTCHA
Sleutel die karakters in wat vertoon word.
Image CAPTCHA
Sleutel die karakters in wat vertoon word.