selfhelp
glo nuut
:
Wanneer jy hoop verloor ...
Dit is deesdae nogal moeilik om altyd hoopvol te bly. Mense kry finansieel swaar en daar is soveel goed wat ons negatief en bang maak.
Liesel Krause Wiid gee raad ...
Teen dié tyd weet jy al dat geloof nie ’n waarborg vir ’n moeitevrye lewe is nie. Maar hoe moet jy positief bly as dit voel of alles om jou in duie stort? Dit is goed en wel om te sê dis net aardse dinge, maar wanneer jy finansieel sukkel, word jou veiligheidsnet onder jou uitgepluk.
Gelowiges is nie gevrywaar teen wanhoop nie. Kyk byvoorbeeld na Elia. Toe hy die Baäl-profete verslaan het, het hy onder die braambos gaan sit en vir die Here gesê: “Neem tog net my lewe.” Sulke tye mag dit dalk verregaande klink, maar juis dan is dit belangrik om God se vrede te soek.
En hoe doen jy dit? Jy fokus op die groter prentjie. Nie jou tienjaarplan nie – maar op God se plan: die wonder van die ewige lewe en die doel wat jy hier op aarde het. Daar is die pragtige storie van ’n seuntjie wat tydens ’n filmvertoning oor Jesus se lewe by die kruisigingstoneel uitroep: “Moenie bekommerd wees nie! Hy staan weer op!” Jy weet die skuldlas is betaal, die rekening is vereffen. En dít bied eindelose hoop.
Dit gebeur so maklik, maar jy moet jou nie blindstaar teen ’n donker toekoms soos die media, ekonome en politici skets nie. In Openbaring staan daar: “Die Here wen.” Niks of niemand kan Hom keer nie. A.W. Tozer het gesê die gemiddelde mens kan sowat veertig dae sonder kos oorleef, drie dae sonder water, agt minute sonder suurstof, maar sonder hoop, nie eers een sekonde lank nie.
Dr. Johan Pienaar, skrywer en predikant, vertel dat hy en sy tuinier in die doodsnikke van die winter in die tuin gestaan het. Al was dit nog bitter koud, was ’n vinkie reeds besig om nes te bou. Die tuinier merk droogweg op: “Hierdie vinkie weet iets wat ons nie weet nie.” En dit is ook hoe hoop werk: om in die middel van die winter ’n nes te bou. Om te weet die lente kom! Hebreërs 11:1 sê: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
vra vir Liesel


.jpg)




.jpg)

















