WEES 'N SUPER-DUPER MA!
Celebs gee raad
2011-05-24
Celebs gee raad
2011-05-24
Ouerskap is die mees bevredigende en lewensveranderende gebeurtenis in enige vrou se lewe. Jou uitkyk op die lewe verander skielik, jy is verantwoordelik vir ’n nuwe lewe en jou hart is nooit meer jou eie nie. Ons wil almal goed gebalanseerde, verantwoordelike en gelukkige kinders grootmaak. Ons het sommer by ’n paar celebs gaan raad vra oor ouerskap ...
Bekendes is ook maar net mense …
Gedink die celebs het dit makliker as die res van ons? Ons het ’n paar bekendes gevra hoe hulle ouerskap hanteer.
“Die tyd vlieg so vinnig”
Vermaaklikheidskunstenaar Margit Meyer-Rödenbeck en haar man, Jurg Human, se dogtertjie, Luca, is nou 1½ jaar oud. Sy is 10 weke te vroeg gebore, en het net 2,1 kg geweeg toe sy na vyf weke kon huis toe gaan. “Dit was in die middel van die winter, en ek het gewonder hoe ons dié klein wurmpie gaan warm hou. Een aand het ons haar tussen ma en pa in die bed gesit, en dis waar sy nou nog slaap.”
“’n Baba maak jou senuwees klaar en dis normaal. Aanvanklik het ek skuldig gevoel omdat ek haar groot wens, want die tyd vlieg so vinnig.
“Dis belangrik om jouself ’n blaaskans te gee. Vra iemand om ’n rukkie na die baba te kyk en gaan drink ’n koppie koffie of bederf jouself met ’n massering. Dis goed vir jou en ook vir haar.”
“Kyk self wat jou kind gelukkig maak”
Anri van der Linde, model en dogter van die sangeres Rina Hugo, is ma van Enzo (2½) en Annabel (7 maande). Anri sê hulle het Enzo, wat gewoond was daaraan om die middelpunt van die aandag te wees, goed op sy sussie se koms voorberei. “Ons het hom heeltyd betrek, selfs nog voor die geboorte. Nou en dan is daar klein probleempies – soos wanneer ek van sy ou speelgoed vir haar wil gee – maar daar was nog nooit lelike uitbarstings nie.”
Anri se raad aan ma’s is om hulle gut feeling te vertrou. “Jy kan self sien wat jou kind gelukkig maak. En gebruik hulp as dit aangebied word; as jy uitgerus is, kan jy ’n beter ma wees.” Sy vertel sy was die eerste keer doodbang om Enzo in haar man, Etienne, se sorg te los – maar besef nou ’n kind moet van kleins af leer om ook met ander mense as sy ma oor die weg te kom.
“Een dag op ʼn slag”
Aktrise Heléne Lombard het drie seuns, Lucien (6), Marcel (4) en Ronin (2). As ma van drie woelige knapies meen sy haar grootste uitdaging is om haar kinders vryheid te gee, maar tog streng genoeg te wees. “Een seuntjie is woelig, twee woelig kwadraat en drie tot die derde mag!” lag sy. “Hulle steek mekaar mos aan!”
“Pak die lewe een dag op ʼn slag aan,” is haar raad. “Soms moet jy maar dinge vat soos dit kom: Jy kan hulle leiding gee, maar jy kan hulle nie beheer nie. Gaan slaap saam met die kinders. As jy moeg is, kan dinge te veel raak. En onthou om nou en dan ’n slag diep asem te haal ...”
“Geniet jou kind”
Martie Kruger, kinderboekskrywer, is ma van Dian (7) en Mia (4). Sy sê: “Dian het nou pas sewe geword en is in graad 1. Skielik kry ons huiswerk, die juffrouens is strenger en daar word soveel goed van hulle verwag op hierdie ouderdom. Ek kan sien dat Dian soms oorweldig word deur al die nuwe eise wat aan hom gestel word, en ek moet bieg dat ek ook soms oorweldig voel.
“Dian sit nog op my skoot en soen my as ek hom smeek! Geniet sulke goed terwyl jy kan, maak seker dat jou kind veilig voel en genoeg tyd vir homself het.
“Kyk mooi wat hy elke dag nodig het vir skool en wees ingelig oor wat aangaan. Hou hom in ’n roetine en gesels baie met hom, sodat hy die vrymoedigheid het om met jou oor enigiets te praat.”
“Begin vroeg”
Vika Bruwer, kunstenaar, het twee tieners, Haneck (18) en Mia (16). Sy meen as jy van jongs af ʼn goeie verhouding met jou kinders het, sal die tienerjare nie moeilik wees nie. “Leer hulle kleintyd dat jy hulle vertrou. My kinders sal nie sommer vir my jok nie, want hulle weet ek waardeer eerlikheid. Ek sal liewer straf wanneer hulle jok as wanneer hulle iets verkeerds doen en eerlik is daaroor.
“Gee hulle vryheid, maar ook verantwoordelikheid. As jy hulle goed ken, sal jy dadelik agterkom as daar ’n probleem is. ’n Bietjie rebelsheid is natuurlik en dis ook belangrik dat jou huis oop is vir hulle vriende.”
Carlien Wessels
argief
HOE VEILIG IS JOU KIND HIERDIE MAAND?
Oor minder as 'n week sluit die skole en dan is ons land se kinders vir 6 weke op vakansie weens die Sokker Wêreldbeker.MAAK JOU KINDERS STERK
Is jou kind regtig gereed om die stampe en stote van die lewe te hanteer? In 'n onvoorspelbare wêreld is dít een van die beste v...MAAK JOU HUIS ’N TUISTE
"Waarom bring my kind nooit haar vriende huis toe nie?" wonder jy. Hier is 'n paar kreatiewe aanpassings waarmee jy kan verseker d...KWEEK RESPEK BY JOU KIND
Voorletters uitkerf op bome, 'n gevloek, 'n laatkommery en smalende aanmerkings oor ander kulture is maar enkele voorbeelde van disrespek ...AANVAAR DIE BRUID
Jou seun wil trou … maar hoe gemaak as jy nie tevrede is met sy keuse vir 'n bruid nie?JOU KIND AS JY SKEI
Vir jou is egskeiding 'n uitkoms ná 'n ongelukkige huwelik, maar hoekom voel jou kinders dan so skuldig?GRENSE VIR KINDERS
Die meeste kinders smag na groter vryheid in byna alles wat hulle doen. Maar wat moet wanneer toegelaat word?JOU KIND SE WOEDEBUIE
Ouers ontlok dikwels onbeheerbare woedebuie by hulle kinders. Met hierdie vier eenvoudige wenke kan jy dit voorkom…BREEK DIE BEDERFSIKLUS
Om duur skoene te koop of gedurig vir jou kind verskoning te maak mag heel onskuldig klink. Maar oormatige bederf kan ook langterm...LEER JOU KIND HOE OM MET GELD TE WERK
Leer jou kind vandag hoe om met geld te werk en jy sal eendag die vrugte van n finansieel verantwoordelike volwassene pluk.























