WAT OM NIE KANTOOR TOE TE DRA NIE!

WAT OM NIE KANTOOR TOE TE DRA NIE!

Daar is niks om jou terugkeer tot die kantoor so duidelik te maak soos die perfekte uitrusting op die eerste dag na die Desembervakansie nie ...

2012-01-23

As jou voete nog nie lus is om jou oor die kantoordrumpel te dra nie, maak ten minste seker jou klerekas kry jou in die regte bui. Hier is ’n paar wenke oor dinge wat jy eerder moet vermy as jy vir die kantoor aantrek:

Deurskynende klere is een van die grootste landmyne in ’n klerekas. As jy wil verseker jou kollegas sien eerder jou intellektuele talente, pak dan liewer die dun toppies diep weg. Die  tipe klere wat jy dra na jou werkplek, is net so belangrik soos die tipe professionele besluite wat jy moet neem.

Moet ook nie eers daaraan dink om met jou nuwe bypassende bra-en-broekie Kersgeskenk op kantoor te gaan spog nie. Forbeswoman se raad aan professionele werkende vroue is dat geen onderklere ooit mag ooit uitsteek nie – al is jou bra dieselfde kleur as jou nuwe pienk hempie. Onderklere is eenvoudig nie boklere nie!
 
Ja, jou bene is mooi bruingebrand en jy het sommer baie meer selfvertroue. Moet dit nou nie alles gaan bederf deur te twyfel of jy by die trappe sal kan op nie. Etiketkenners sê as ’n kort rompie jou ongemaklik laat voel wanneer jy regoor iemand sit, los dit eerder in jou kas.

Jy het miskien nou die lyf vir stywe, laaggesnyde jeans, maar ’n studie deur die Psychology of Women Quarterly het gewys dat vroue in hoë posisies wat te waaghalsig aantrek, nie ernstig opgeneem word nie – ten spyte van hulle kwalifikasies.

Dit maak ook nie saak hoe hoog die kwik styg nie, hou maar jou gemaklike kortbroek vir Saterdag. Hannon, sê jou kleredrag weerspieël jou beroep – so, vra jou af in watter kantoor hulle kortbroeke dra.

Plat voete en hoë torings is ’n moeilike een – veral in die somer wanneer plat plakkies tog so  gemaklik is. Maar het jy enige idee hoe ’n groot geraas hulle maak as jy in die gang afstap?
Nee! Careerbuilder.com sê dieselfde geld vir te hoë skoene. Hulle mag lyk soos kunswerke,  en jou bene langer en slanker laat vertoon, maar wat gaan dit jou help as jy voor almal neerslaan?

’n Sonbril op die kop is die een item wat nou al net so ’n groot somerbykomstigheid is as ’n goeie sonskerm. Maar jy is nie ’n rock-ster nie en jou sonbril is ook nie ’n kopband nie. Moderne etiket sê jou sonbril hoort in jou handsak sodra die kantoordeure oopswaai.

Daai T-hemde het lekker gedra en mooi gelyk terwyl jy in Knysna se strate rondgedrentel het, maar die vakansie is nou verby. As jou kantoor nie op ’n strand is nie, los maar die eilandherinneringe vir die kamera.

Voor dat jy in die oggend by die huis uit hardloop, loer net weer vir oulaas vir jouself in die spieël (van voor en agter) ...


 

Kommentaar
  • Dankie vir die positiewe inligting ! Kan ons ook etiket kry oor wat mense kerk toe aantrek - deesdae is dit skokkend!
  • Ja mens wonder partykeer of daar mense is wat glad nie 'n spieel in die huis het nie. Ek maak seker elke oggend voor ek by die huis uitgaan dat ek myself beloer het van voor en van agter, as ek dalk nog twyfel vra ek my man.
  • baie goeie rubriek, wens meer mense wil dit ter harte neem

gesels saam