KAN 'N DAGSTUKBOEK DIE BYBEL VERVANG?
In ons gejaagde lewe is dit maklik om gou-gou 'n bladsy in 'n dagstukkieboek te lees en te dink jy kry genoeg geestelike kos.
2012-01-20
In ons gejaagde lewe is dit maklik om gou-gou 'n bladsy in 'n dagstukkieboek te lees en te dink jy kry genoeg geestelike kos.
2012-01-20
Maar is dit genoeg? Kan dit die Bybel vervang?
Ongelukkig kan geen dagstukkieboek ooit die Bybel vervang of daaraan gelykgestel word nie. Dit kan egter wel geestelik baie verrykend wees om dit te lees. ’n Dagstukkieboek is die skrywer se interpretasie van ’n teks, amper soos ’n preek. Die stukkies is gewoonlik baie prakties en in hedendaagse taal geskryf; daarom kan dit jou help om die Bybel beter te verstaan, veral omdat tye so vinnig verander.
Ek dink dagstukkies wat volgens temas ingedeel is, of wat een Bybelboek op ’n slag behandel, is die effektiefste. Dit help jou om die agtergrond en konteks van die Bybelboek of tema beter te verstaan, en op dié manier kom die boodskap beter tuis. ’n Dagstukkieboek wat jou help om sistematies deur die hele Bybel te werk is die ideaal.
Gebruik dagstukkieboeke verantwoordelik deur tyd af te staan om die teks te oordink en krities te lees wat die skrywer geskryf het. Onthou dat die skrywer van dagstukkieboeke soms ook foute kan maak.
So, moenie dat jou Bybel stof vergaar nie. In Psalm 119 staan daar: Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. God se Woord help ons om reg te leef en die regte besluite te neem.
Die Bybel is miskien nie ’n handboek vol antwoorde vir elke hedendaagse vraag of kwessie nie, maar dit gee vir ons baie duidelike riglyne en help ons vir seker met elke worsteling wat ons beleef.
Vandag het ons die voorreg om die Bybel in Afrikaans te lees. Daar was ’n tyd in die geskiedenis toe net kerkleiers en priesters die Bybel kon lees en verstaan en uitlê. Gelukkig hoef ek en jy nie na ’n spesifieke plek toe te gaan of met ’n beroemde geestelike leier te praat om God se stem te hoor nie. Nee, al wat nodig is, is dat ons ons Bybel oopslaan, dan hoor ons God se stem. Wat ’n voorreg! Moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar of dit deur jou vingers laat glip nie. Wanneer ons tyd met God se Woord deurbring, transformeer Hy ons lewens.
- Net sowaar soos dit is, kan geen nuwe vertaling van die Bybel die oue vervang nie...
- Ek stem saam Die Bybel is my kosbaarste besitting sal dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie - my Bybel is my lewe.
- Dit is werklik so dat ons elke dag moet stiltetyd hou met die Bybel. Dit gee ons die krag om weer aan te gaan en die Here se werking in ons lewens te ervaar.
- Ek het lankal opgehou om dagstukkieboeke te lees. Ek lees net die Bybel - en glo my, dit is meer as genoeg. God openbaar Hom aan dié wat Hom met 'n opregte hart soek. Hy praat met elkeen individueel. Ek het niks teen dagstukkieboeke nie, maar dit lyk vir my so al of dit 'n geldmaakstorie geword het. Elke Jan Rap en sy maat skryf deesdae 'n dagstukkieboek, terwyl God vir elke mens individueel iets wil sê deur Sy suiwer Woord.























