GESKEI, MAAR STEEDS 'N GESIN

GESKEI, MAAR STEEDS 'N GESIN

Sy kon nie haar huwelik red nie, maar hoe kon sy haar egskeiding laat werk?

2012-01-11

Riva Schoeman se rou menswees en opregtheid is duidelik oor die luidsprekers van baie radio’s. Maar wanneer sy haar mikrofoon afgeskakel het, het Riva ’n ander stryd gestry.



Dis stil in die huis sonder hom. Die seuns se lawwe gelag vul nie hulle pa se plek nie. Hulle is nog so klein: Ruben is sewe en Sam net vier jaar oud. “Is ek net deel van die statistiek? Net nog ’n mislukking?” vra ek myself oor en oor. My huwelik van agt jaar is op die rotse. Ek is ’n geskeide vrou.

Ek onthou nog baie duidelik ons beloftes voor God om mekaar vir altyd lief te hê en by te staan. Hoe kon dit met óns gebeur het? Nagte deur het ek geworstel, gebid en gehoop, maar daar was net nie ’n ander uitweg vir ons nie. Voordat ons vier weer gelukkig kon wees, het die lewe eers ʼn paar ander draaie met ons geloop. Afsonderlik en saam.

My galante donkerkopheld wat vroeër my voete onder my uitgeslaan het, het nou die wêreld onder my uitgeruk. Hy is weg. En nou bly hy in Johannesburg en ek in Bloemfontein. Geskei. Die werklikheid is vir my bitter soos gal. Die steilste kronkelpaadjie was om van voor af te begin. Van voor af gewoond te raak aan enkel wees, van voor af alleen besluite te neem, van voor af mense te ontmoet en weer te begin spaar. En sekerlik heel boaan die lys: om kinders alleen groot te maak.

Deur die gespartel om van voor af te begin het my kinders ook grootgeword. Hulle het die fase betree waar hulle hulle nie veel aan my steur nie. Ek was raadop. “B, help my asseblief,” stotter ek oor die foon, my trots diep in my sak gebêre. My stem gee my hulpeloosheid te kenne. “Ek kan nie meer met die seuns nie. Wat moet ek doen?” Daar is ’n lang stilte, en dan sê hy: “Dalk het hulle hulle pa nodig.” Natuurlik het hulle hulle pa nodig, hulle is dan seuns!

Maar hoe gaan ons dié vlieër laat vlieg? Hy werk in Johannesburg en ek is baie gelukkig in Bloemfontein. Ek wil nie Gauteng toe trek nie, maar ek is ook nie bereid om my kinders eenvoudig net weg te stuur na hulle pa toe nie. Ek het nou net gemaklik geraak in my enkelma- skoene, hoe kan ek nou weer die bootjie skud? Ek bid. En bid weer. Die kinders is gelukkig in die skool en ek het ’n goeie werk. Maar hy kan nie Bloemfontein toe trek nie. Bid nog ’n bietjie. Ek moet ’n heeltemal onselfsugtige ding vir my seuns doen. Ek moet net aan hulle dink – nie aan my of B nie. Net aan my kinders.

Toutrek, dié kant toe en daardie kant toe. “Ek is moeg, Here. Wys U vir my die pad,” gee ek my las oor. En toe kom die vrede. Ek moes bedank, Pretoria toe verhuis met my seuns en die Here blindelings vertrou. Wat ’n geloofstap, nee, sprong! Ek is op pad Gauteng toe met geen vooruitsigte vir ’n werk nie. Hoe gaan ek oorleef? Maar tog het ek ’n diep, onbeskryflike vrede.

Vandag, meer as sewe jaar ná daardie eerste lang, stil winter sonder hom, bly ek en hy ’n hanetreetjie van mekaar af. Trouens, ek en my eks is bure – en dit werk baie goed vir ons. Nooit in ’n miljoen jaar sou ek kon dink dat ek en hy weer vriende sou wees nie, laat staan nog goeie vriende! Die kinders is ewe tuis in my huis as in syne. Hulle kom en gaan tussen die twee huise soos dit hulle pas. Ons deel steeds die verantwoordelikhede, en hy sorg baie goed vir hulle.

Vergifnis is ’n wonderpil. Dit is soms moeilik om te sluk, maar terwyl jy dink jy doen die ander persoon ’n guns, word jy self genees! Ek moes hierdie pil sluk. Soms was daar ’n bitter nasmaak, maar God het ons die genade gegee om deur te druk. In ons donkerste ure is Hy by ons. Die diep trane waarvan net my kussing weet, is deur Hom afgedroog. Op die mees ondenkbare manier is ons stukkende gesin weer aanmekaargelap – tot voordeel van ons almal. God kan enigiets gebruik om uiteindelik sy wens vir jou waar te maak.

Riva se boodskap van hoop aan enkelma’s:
Ek weet dit is seer en sleg. Ek verstaan dat jy voel jou lewe is aan skerwe. Maar daar is soveel om na uit te sien, vriendin! Gee jouself ’n drukkie en weet net dat jy ’n wonderlike vrou is. Jy is ’n wonderlike ma! Jy is so mooi soos die mooiste model! Jy is die beste sjef en vriendin. Jy gaan weer dolverlief raak! God verstaan waardeur jy gaan, al verstaan niemand anders nie. Vertrou op Hom. Bid vir Hom. Hy is lief vir jou. En onthou, jy verdien die beste in die lewe. Jy is God se prinses, so, gaan koop vir jou daardie lieflike parfuum!



Kommentaar

gesels saam


soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]