85 HOE OM GEWIG TE VERLOOR BY DIE WERK Gerda de Sousa ondersoek ... Articles www.voelgoed.co.za

HOE OM GEWIG TE VERLOOR BY DIE WERK

HOE OM GEWIG TE VERLOOR BY DIE WERK

Sal ek my eerste koppie koffie sonder suiker drink? En eerder die trappe klim as met die hysbak ry? Wat ek wél weet, is dat ek motivering nodig het.

2012-02-07

Ek blameer altyd vir Murphy. Jy weet, die een van “Murphy’s law”. Ek dink sy is ’n jaloerse vrou wat ek dalk in ’n vorige lewe iets verskrikliks aangedoen het. Ek en sy verstaan mekaar glad nie. En as dit by kos kom, nog minder. Die dag as ek besluit om by die werk met ’n dieet te begin, is dit sowaar die dag wat die kostannie vetkoek en maalvleis kom verkoop. Of beter, dis die oggend wat ek begroet word deur die man wat presies op daardie oomblik die kilojoule-masjien vol nuwe eetgoed kom prop.

Dit verg nie ’n intellektuele reus om uit te pluis dat die kostannie en die glasmasjien my aartsvyande behoort te wees as ek by die kantoor gewig wil verloor nie. Wat ek bitterlik nodig het, is alternatiewe. Nuwe idees om my te motiveer om my te laat wegsmelt soos ’n geel grenadella-roomys op ’n snikwarm somersdag.

Vergeet maar van die roomys, sê Francesca Esposito, ’n dieetkundige van Anne Till & Associates. Heeltemal te veel suiker, en ons almal weet watter skade dié soet korreltjies kan aanrig. Maar hoe anders moet ek dan deur die laatmiddag kom, wanneer dit vir my voel of ek al reg is om my gesig te was en in die bed te klim? Esposito sê dis hier waar ons moet begin slim dink. Springmielies! Lekker koue vrugte wat jy vanoggend al in die yskas gaan bêre het! Maer biltong! En hier is die geheim – moenie te veel inpak nie en moet ook nie jou middagruskos agter jou rekenaar sit en eet nie. Dan kom jy eenvoudig nie agter hoeveel koskoeëls jy by jou mond sit en invuur nie.

Vat jou kosblik en gaan loop ’n bietjie. Briljante idee, meen Tim Pearson, ’n gekwalifiseerde biokinetikus wat ook sy eie sportrehabilitasie- en kondisioneringsentrum in Johannesburg besit. Hy is een van dié wat weier om te val vir die verskoning: “Ek het nie tyd nie!” Tim sê ons sal verbaas wees watter verskil dit aan jou lyf maak as jy probeer om net drie keer ’n week om die kantoorgebou te stap. Jy dink ek grap? Kry ’n oorstuk vir die selfoon, gryp jou bakkie springmielies en laat waai. So kry jy jou oproepe gemaak, oorwin die namiddaginsinking en dit verrig boonop wondere vir die gees.

Aangesien ons nou aan die loop is, onthou om te vergeet om die heel naaste aan die deur te parkeer. Bêre jou kar so ver moontlik sodat jy ’n lekker stewige ent het om te stap, en sommer so jou fiksheidsvlak kan opstoot.

Een van die beste idees wat ek in ’n lang tyd gehoor het, kom juis ook van Tim af: Skaf ’n Pilates-oefenbal aan, pak hom in kantoor toe en gooi jou stoel by die venster uit. Dit versterk jou maagspiere, lae rug en ruggraat en maak terselfdertyd ook seker jy sit so mooi regop soos jou ma altyd gepreek het. En watter beter manier is daar nou nie om die bal in die kantoor aan die rol te kry nie. Ek wed jou jy begin op die plek ’n nuwe gier!

Gerda se wenk:

“Dit gaan ook makliker wees as jy en ’n kollega saam-saam planne maak om die kilogramme aan te vat.”


Kommentaar

gesels saam