85 SUKSES BY DIE WERK Gerda de Sousa ondersoek ... Articles www.voelgoed.co.za

SUKSES BY DIE WERK

SUKSES BY DIE WERK

As jy na sukses by die werk streef, moet jy dié vyf dinge reg doen en begin leef!

2012-05-04

Tjirp minder!
Kom ons Facebook eerder as wat ons met mekaar praat, want dit sal mos tyd spaar. Regtig? Ken jy die persoon wat die boodskappe ontvang of ken jy net die voorgestelde karakter wat jy op die skerm sien? Sosiale media neem jou werkstyd en verhoudings oor. Die 15 minute teepouse is nie meer ’n probleem nie, dis nou die getjirp op Twitter! Sulke netwerke beroof jou van produktiewe tyd op kantoor en maak dat jy stres omdat jou werk nie op datum is nie. Tel ’n bietjie die tyd bymekaar wat jy “navorsing” gedoen het. As jy meer gewerk het, kon jy sekerlik ’n dag verlof ook geneem het. Gebruik jou teetyd om te netwerk met jou kollegas of herlaai jouself om helder te kan dink.
 
Klaarpraat met konflik
Kantoorkonflik en ’n etenstafelrusie kan nie op dieselfde manier hanteer word nie. Op kantoor is daar baie meer druk op almal om te presteer, as om te kyk wie kry die grootste geskenk vir Kersfees. Kantoorkonflik is onnodig, want dit veroorsaak dat daar minder gewerk word, omdat almal deel wil hê aan die opwinding. Haal net asem en dink eers wat om te doen. Konflik gaan nie finansiële nagmerries, herstrukturering of afskaling minder maak nie; inteendeel, jy is een geveg nader daaraan om werkloos te wees. Praat rustig met jou kollegas oor die kwessies wat jou pla en hanteer dit met volwassenheid.
 
Lyk jy suksesvol?
Jou uiterlike voorkoms is die eerste ding wat iemand opmerk, nog voor jy jou mond oopgemaak het. By die werk hang jou sukses van jou kleredrag af. Dit maak nie saak of jy voor ’n rekenaar sit, rondry of voor ’n klas staan nie. Moenie deurskynende klere dra nie – kollegas wil jou intellektuele talente sien – en dit geld vir onderklere wat uitsteek ook! Rompies wat te hoog sit of langbroeke wat te laag gesny is … hoe kan jy daarin sit? Moet net nooit lyk asof jy op vakansie gaan nie. Los die plakkies, kortbroeke en sonbril op die kop vir wanneer jy weer see toe gaan.
 
Organiseer is die sleutel
Jy voel al soos ’n uitgebrande kooltjie, maar daardie vuurtjie wil net nie doodgaan nie. Dis tyd om ’n bietjie te ontspan, want nie eers ’n kooltjie is goed genoeg vir enigiets nie. As jy soos ’n warrelwind deur die kantoor gaan, doen jy meer kwaad as goed, so –
  • Stel vir jouself realistiese doelwitte, want daar is net soveel werksure om dit te doen. Voltooi jou take in volgorde van belangrikheid en fokus vir eers net op een taak.
  • Vat vakansie, dis net so belangrik soos jou werk. Niemand kan volstoom aangaan en suksesvol wees sonder om net ’n bietjie te rus nie.
  • Oefening! Dis ’n natuurlike manier om spanning te verminder en sal jou meer energie gee. Oefening maak ook jou kop oop, wat jou beter sal laat dink en jou sal help om van onnodige dinge ontslae te raak.
 
Wees suksesvol met selfvertoue
Om in jouself te glo is nie om selfsugtig te wees nie, dis net dat jy weet waartoe jy in staat is. Die feit dat jy nog geen ondervinding in ’n spesifieke rigting het nie, beteken nie jy kan nie daarin uitblink nie. 
 
Almal begaan foute. Om jou te verknies oor ’n fout wat jy gemaak het, gaan dit nie verander nie. Om suksesvol te wees, moet jy die kritiek kan vat en daarop kan bou vir die toekoms. Moenie in ’n hoekie gaan sit en dink iemand gaan jou jammer kry nie, want al die ander is ook besig om hulle foute te verbeter.

 

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]