83 LEKKER EET ... SONDER SKADE! verloor GEWIG Articles www.voelgoed.co.za

LEKKER EET ... SONDER SKADE!

LEKKER EET ... SONDER SKADE!

'n Mens kan maklik verkeerd eet - maar gelukkig kan jy reg kies ook!

2012-01-24

Die Desembervakansie en die eetgewoontes wat daarmee saam gaan kan dalk die rede wees waarom jy effens knap in jou eie vel voel.


In die vakansietyd is dit moeilik om reg te eet en te hou by gereelde etenstye soos wanneer jy werk. Wanneer die vakansie dan nou verby is, is jy heeltemal uit ritme uit en is dit moeilike om weer op die “straight and narrow” te bly.

My heel beste raad: Eet ’n gesonde ontbyt. Sorg dat jy ten minste vesel, vrugte en ’n melkproduk eet, want dit gaan jou lank genoeg versadig hou. Jy sal dan nie teen teetyd of middagete so honger wees dat jy jouself ooreet nie. En wat uiteet betref – sodra jy gaan sit, bestel ’n bottel water en ’n slaai, enige slaai. Terwyl jy dan besluit wat om te eet, peusel aan die slaai en drink die water. Teen die tyd dat jy kos moet bestel, sal jy nie meer so honger wees nie, en jou gevolglik nie ooreet nie.

Jy sal ook ’n kopskuif moet maak dat dit wel sosiaal aanvaarbaar is om net water te drink en slaai te eet. Jy het ’n keuse, jy kan kies wat en wanneer jy gaan eet. Moenie saam eet net om in te pas nie ... netnou pas jy nie in jou klere nie!

Wees ook baie versigtig vir alkohol, want dit bevat ’n ongelooflike hoeveelheid kilojoules. Een van die probleme met alkohol is dat jou liggaam nie etanol kan stoor nie. Sodra alkohol in jou sisteem inkom, moet jou liggaam onmiddellik werk daarvan maak om dit weer daaruit te kry.

As jy byvoorbeeld ’n drankie drink, gaan die persentasie alkohol daarin jou metabolisme vir ’n ruk lank stop om jou lyf kans te gee om van die alkohol ontslae te raak. Anders as oefening, wat jou metabolisme versnel, vertraag alkohol jou metabolisme. Drink water voor en na drankies sodat jy half versadig kan voel en nie te veel alkohol gebruik nie. Kyk ook na die alkoholpersentasie op die produk – hoe minder, hoe beter.

Op die ou end gaan dit oor selfbeheersing en om die regte keuses maak. Dis immers beter as dat jy na die tyd jou hare uit jou kop wil trek omdat alles in jou kas heeltemal te styf sit!

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]