ONS GESELS MET ... JEREMY MANSFIELD
Sy persoonlike Rude Awakening het eers aangebreek die dag toe hy hoor hy het leukemia.
2012-02-01
Sy persoonlike Rude Awakening het eers aangebreek die dag toe hy hoor hy het leukemia.
2012-02-01
As omroeper van 94.7 Highveld Stereo, was Jeremy Mansfield terselfdetyd een van die mees geliefde en kontroversiële radio persoonlikhede in die land. Maar sy persoonlike Rude Awakening het eers aangebreek die dag toe hy hoor hy het leukemia. Maar ten spyte van sy stryd teen kanker gee hy steeds onvoorwaardelik om vir mense en diere en het homself belowe dat hy nooit sal tou opgooi nie.
“Ek is nou nie ’n man wat elke dag huil nie, maar in 2009, toe die nuus insink dat ek leukemie het, het ek in trane uitgebars. Ek dink die woord kanker, of enige iets wat daarmee geassosieer word, laat jou dadelik die ergste glo. Jy dink dadelik aan die dood.”
Die dokter het egter die situasie vinnig vir Jeremy Mansfield opgesom: “Jy is jonk, fiks en sterk genoeg om strawwe behandeling te kry, en dis presies wat volgende gaan gebeur.” Daar was nie veel tyd vir dink,tob of selfbejammering nie, en dit was waarskynlik Jeremy se redding.
“Ek was nog altyd ’n positiewe mens, maar met dié siekte moes ek tot in my diepste reserwes gaan grawe om elke stukkie positiwiteit in myself te ontgin ... Agt maande se chemo het my amper laat tou opgooi. Maar ek het geleer hoe belangrik dit is om jouself, in enige traume-situasie, met die regte mense te omring. Dis nie simpatie wat jou help nie. Dis mense se krag en sterkte wat jou help. Mense wat sê: “Staan op, ek is saam met jou hier in. Jy loop nie alleen nie.” Mense soos my vrou, Jacqui, familie en goeie vriende.”
En vandag is sy kanker in remissie. Jeremy kyk ook baie anders na die mense na aan hom. “Ek besef nou eers hoe ongelooflik belangrik hulle is. Hulle is my vangnet. Met ’n vangnet in jou lewe kan jy bietjie meer waag, groei en jouself uitstrek om die onmoontlike reg te kry. As so baie het om te verloor kyk jy met nuwe oë na dit wat regtig vir jou belangrik is.”
Om ander te help om ’n beter lewe te lei het een van Jeremy se grootste dryfvere geword wat hom gemotiveer het om in die oggend op te staan. “Ek wil so ver gaan om te sê dat as jy nie ’n positiewe impak op hierdie planeet maak nie, jy dit nie verdien om hier te wees nie. My grootste geluk lê daarin om ander mense gelukkig te maak. Ek is deesdae by baie korporatiewe uitreikprojekte betrokke, nog meer as in my radio-dae, en dit maak my baie gelukkig. Onlangs het ek en Jacqui in Libië die getraumatiseerde diere in die dieretuin langs die Ghadaffi-kwartiere in Tropili gaan help ... Die mense kon vlug, maar die diere kon nêrens heen gaan nie. Dit was erg om in so ’n onstuimige tyd in die land te wees, maar dit was ’n ongelooflike voorreg om te kon help.”
Niks gebeur sonder ’n rede nie. Soos in die dae toe Jeremy Mansfield betrokke was by Highveld se gewilde Christmas Wishlist. Na maande se insameling het hulle uiteindelik genoeg geld bymekaar gemaak om baba Tyler van Zimbabwe se lewe te red. Die gemeenskap het kort daarna bymekaar gekom om te bid en dankie sê; maar Tyler is dieselfde aand oorlede. Die nuus het Jeremy verpletter. Tog was daar ’n rede daarvoor. Die geld is gebruik om nie een nie, maar tien ander se lewens te red.
“Die doel met my leukemie, is sodat ek meer daarop ingestel kan wees om met liefdadigheid en kankerbewusmaking te help. Dít is my doel hier op aarde. Ek weet ook vandag: “I’m loved.” Met my leukemie-ervaring het ek dit vir die eerste keer regtig besef. Een van die wow-oomblike was toe ek hoor dat ’n Facebook-omgeegroep van meer as 80 000 mense gestig is om my te ondersteun.”Is 80 000 baie?” het ek my vriend gevra wat die nuus met my gedeel het. Hy het geantwoord: “Jeremy, dit is meer as party radiostasies se totale aantal luisteraars.”


.jpg)




.jpg)

















