WAT DIE KENNERS DOEN OM GESOND TE BLY

WAT DIE KENNERS DOEN OM GESOND TE BLY

Hulle gee dagin en daguit raad, maar watter goeie leefstylgewoontes pas die gesondheidskenners self toe?

2012-01-31

Is dit net praatjies of maak hulle soos hulle sê?  Drie kenners op dié gebied deel ’n paar van hulle geheime.


Andrea du Plessis, 39, woon in Stellenbosch en is ’n geregistreerde dieetkundige met ’n passie vir voeding en ’n gesonde leefstyl. Sy is ook ’n gereelde gas in verskeie TV-programme.

“Voeding speel ’n ongelooflik belangrike rol in ’n gesonde leefstyl. My groot passie is om vir mense te wys hoeveel pret hulle met voedingwetenskap kan hê.

As ek iets interessants lees of op nuwe navorsing afkom oor die waarde van sekere kosse, begin ek dadelik dink aan resepte en idees oor hoe ek dit op ’n interessante manier in my dieet kan insluit. Ek het onlangs nuwe navorsing teëgekom oor die hoeveelheid vitamien C in soetrissies. Ek was heel verbaas, want soetrissies bevat meer vitamien C per 100 g as lemoene of aarbeie. My eerste gedagte was: Hoe kan ek meer soetrissies eet? Vind maniere om gesonde produkte in jou dieet in te sluit. Hou dit maklik, vinnig en lekker.

Ek het oorerflike hoë cholesterol, maar ek wil dit ten alle koste vermy om medikasie daarvoor te gebruik. Die enigste manier waarop ek my cholesterol kan beheer, is deur aanvullings, gesonde kos en oefening.”


Dr. Minée Moolman, 45, is ’n gesinspraktisyn met ’n besige praktyk in Pretoria. Sy is getroud en het twee tienerdogters.

“Ek weet hoe maklik dit is om jou eie simptome te diagnoseer. Veral met die internet tot jou beskikking, kan jy jou simptome navors en sommer jou eie diagnose ook maak. Ek moedig my pasiënte aan om die inligting wat hulle ingesamel het, met my te bespreek. Ons kan dan ’n gesprek hê oor die moontlike oorsake en behandelings.

Moenie te intens by enige siekte betrokke raak wat jy kry nie. Dis belangrik om steeds die lewe te geniet, en nie so verstrengel te raak in jou siekte dat dit al is waaraan jy dink nie.

Ons fokus in die mediese veld het verskuif van behandeling na voorkomende gesondheid. Die ideaal is om toestande te behandel vóórdat dit gebeur. Dit behoort vir almal ’n manier van leef en dink te wees. Moenie wag tot jy dodelik siek is nie. Besoek eerder jou dokter sodra jy voel iets is fout.

In ons ongesonde Westerse wêreld sit ons met die pandemie van metaboliese sindroom. Dit beteken dat jy drie of meer van die volgende toestande het: abnormale vetsug, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, abnormale bloedsuikervlak, ’n groot maag en insulienweerstandigheid. Dis hoekom dit baie belangrik is om gereeld ondersoeke te ondergaan sodat jy hierdie toestande kan voorkom of vroegtydig kan laat diagnoseer. ’n Voorkomende ingesteldheid behels ook om ’n gesonde leefstyl te handhaaf deur onder andere meer aktief te wees en genoeg te ontspan.”

Hermien Mostert, 41,  is ’n persoonlike fiksheidsinstrukteur en persoonlike afrigter wat haar eie ABC oefenkamp (www.adventurebootcamp.co.za) bestuur. Boonop werk sy voltyds by SAA. Sy en haar man woon in Johannesburg.

“In my besige program is tydsbestuur my heel grootste uitdaging. Goeie organisasie spaar kosbare tyd, verminder stres en help my om my doelwitte te bereik. Ek hou by ’n baie streng rooster sodat ek alles in my lewe kan inpas. Oor naweke doen ek inkopies en kry my etes reg vir die res van die week. Dit werk goed om nie-bederfbare kosse vooraf in te pak sodat ek nie etes oorslaan nie.

Ek vra gereeld vir myself: Wanneer laas het ek ’n bietjie ek-tyd gehad? Die heerlikste ontspanning vir my is om ’n uur of meer op my eie te oefen. Hierdie alleentyd laat my siel goed voel terwyl ek sommer ook my lyf fiks hou. Ek waardeer hierdie tye, want ek het nie altyd hierdie luukse nie.

Na ’n motorongeluk drie en ’n half jaar gelede sukkel ek nog steeds met ’n rugprobleem. Dit het my lewe drasties verander. Voor die ongeluk was ek ’n professionele Spaanse danser en ek moes dit laat vaar. Ek moes ander maniere vind om my passie vir oefen uit te leef en aktief daarop fokus om myself gemotiveerd te hou. En daar is altyd stof tot dankbaarheid. Veral as ek met gestremde kliënte werk, besef ek hoe bevoorreg ek eintlik is.

Selfs met dieet gaan dinge nie elke dag so maklik nie. Ek het ’n vreeslike suikertand, so, ek kroek ook af en toe – dis net menslik! Maar dan gaan ek weer die volgende dag aan met my goeie gewoontes.”

Kommentaar

gesels saam


soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]