DIE X-FAKTOR

DIE X-FAKTOR

Haar woorde was skaars 'n fluistering. Asof sy sopas die ergste geheim verklap het. Ek was effens onkant gevang ...

2012-01-25

Een sonnige middag het ek my seuns by die skool gaan haal. Onder ʼn boom het ek ʼn bekende ma sien staan. Sy’t effens verwese gelyk. Nie haar gewone joviale, sorgvrye self nie. In ʼn sagte stem het sy my nader geroep ...
“Iemand sê jy’t ʼn kinderboek oor egskeiding geskryf,” sê-vra sy.
“Ja, ek het.”
“Waar kan ek ʼn kopie kry?”
“Wel ... dis is in die boekwinkels. Hoekom? Het iemand in jou familie so iets nodig?” wou ek by haar weet.
“Ja ...” het sy met ʼn verleë glimlag en neergeslane oë gesê. “Ek.”

Haar woorde was skaars ʼn fluistering. Asof sy sopas die ergste geheim verklap het. Ek was effens onkant gevang. Die ma en ek het al baie skoolpartytjies saam bygewoon. Sy was by die swemgalas en skoolpieknieks – besig om sonskerm aan haar kinders se gesigte te smeer. Soms ʼn streng maar liefdevolle aanmaning oor tuiswerk gemaak en haar spruite herinner aan goeie maniere in die snoepie-ry ... soos wat alle ma’s maak.

Ek het nooit besef dat haar lewe in die stilligheid heeltemal omgedop is nie ... sy’t probeer leer om onderwater asem te haal. En swaar titel “eks” te dra.

Ons het vir ʼn rukkie gesels. Sy was die jongste in haar eie gesin, en die eerste een om te skei. Beslis haar grootste vernedering. Sy was nog vasgevang in die vrees vir mislukking en baie ver van die helende lig af.
“Waarvoor is jy bang?” wou ek saggies weet.
“Vir wat almal gaan sê ... dat ek ʼn slegte vrou is.”

Om jou vrese reguit in die oë te kyk is soms die beste manier, toe sê ek vir haar: “Jy weet my huwelik was vervuil met affairs?” Sy’t hard gesluk. “Ja,” het ek voortgegaan, “teen die end het ʼn hele klomp jong poppies uit die kas uit geklim.” Haar oë het al hoe groter gerek. “Dit was sex, hugs and rock and roll baby!” het ek gelag. En toe asem geskep. “En ek weet presies wat jy nou dink,” het ek gesê.
“Regtig?” wou sy weet.
“Ja ... jy dink: ‘Sjoe, sy is seker regtig vrot in die bed!’ ... nie waar nie?”

Sy’t vir ʼn oomblik gefrons en toe bars ons albei uit van die lag. Ons het so lekker gelag dat die ander ma’s ons half jaloers aangekyk het ... hulle aandag effens afgelei van die rompslomp van buitemuurs en kosblikke. Ons het gelág!

Ek daag jou uit ...
Lag een keer elke tweede dag lekker uit jou maag uit. Wanneer laas het jy? Wel ... probeer dit minstens een keer. ʼn Sin vir humor het my al baie keer gered wanneer ek verlam deur vrees te bang was om die volgende tree te neem. Gebruik jou geheime wapen en lag!
Probeer dit ...
Een van die mens se grootste vrese is onsekerheid. En glo my, tydens ʼn egskeiding is daar meer as genoeg daarvan. Daarom is dit ʼn goeie plan om so veel as moontlik uit te vind oor wat die egskeidingsproses behels. Lees op die internet, vra rond, lees. Dis oukei om soms in ʼn bondeltjie te gaan lê en huil, maar om te ignoreer wat gebeur gaan dit nie laat verdwyn nie, dit gaan jou net nog swaarder laat kry.

Maak vir jou ʼn lêer met al die nodige inligting in, plaas dit in afdelings wat sin maak soos: Die regsproses, Wat is jou regte? Finansiële veranderinge. Hoe werk toesig? Jy kan ook oulike tydskrifartikels uitskeur en liasseer – dit is dikwels baie goeie, gratis raad!

Deur te weet wat wag, en wat mag, neem jy beheer oor jou egskeiding, in plaas daarvan dat dit jou beheer en jou bang maak.


Kommentaar

gesels saam