RAAK ONTSLAE VAN DAARDIE BAGASIE ...
Dit verhinder dat jy op die hede fokus en weerhou jou so van 'n lewe van oorvloed.
2012-01-19
Dit verhinder dat jy op die hede fokus en weerhou jou so van 'n lewe van oorvloed.
2012-01-19
Jou emosionele bagasie bepaal jou lewensvreugde. Raak ontslae van hierdie laste en gaan 2012 ligter binne.
Onthou jy van al die nuwejaarsvoornemens wat jy al in jou lewe gemaak het, net om langs die pad te besef jy het êrens uit die bus geval? Hoekom hou hierdie voornemens nie? Die antwoord is eenvoudig: Dit gaan oor al die emosionele bagasie wat jy saamsleep! Ons almal word met grootse potensiaal gebore. Om weer nuut te begin, moet jy jouself losmaak van jou verlede en van al die dinge wat jou ontwikkeling strem.
Brian Tracy, ’n Amerikaanse selfhelpghoeroe, is van mening dat, net soos ’n motor se wiele gereeld gebalanseer moet word vir die beste werkverrigting, moet ’n mens se gedagtes, gevoelens, emosies en waardes in balans wees voordat jy voluit kan lewe. As jy ’n klomp onverwerkte emosies soos skaamte, skuldgevoelens, woede of bitterheid saam met jou dra, kan jy nie opregte liefde, vrede, vreugde en tevredenheid ervaar nie.
Wat is emosionele bagasie?
Emosionele bagasie kan basies beskryf word as die pynlike herinneringe, wantroue en seer wat jy weens teleurstellings, onreg en trauma uit jou verlede saamdra. Jy bou dan gewoonlik vir jouself ’n ondeurdringbare emosionele muur waarbinne jy al jou woede, bitterheid, haat en negatiwiteit koester. Ongelukkig hou hierdie muur ook alle lewensvreugde uit. Die uiteinde is ’n leë, bitter bestaan. Herman Veitch, ’n lewensafrigter van Bloemfontein, meen emosionele bagasie is ons lewenstorie waaruit ons sin probeer maak. “Ons probeer orde uit ʼn probleemsituasie kry (byvoorbeeld hoekom jou man jou gelos het) deur ’n prentjie daarvan in ons kop te maak en as’t ware daardeur te praat of te redeneer. Hoe meer ons oor die situasie dink en met ander daaroor praat, hoe meer waarde heg ons aan die storie. Mettertyd gaan ons verbeelding op loop en ’n onrealistiese gewig word aan die storie (emosie) geheg. Elke keer wat die ‘storie’ herleef of oorvertel word, word die (emosionele) bagasie swaarder en swaarder.”
Maak só sin uit jou ervarings
Jy kan net jou beste self wees as jy jouself werklik ken. Volgens Audrey Marlene, ’n Amerikaanse lewensafrigter en veranderingskenner, “is dit belangrik om jou waardestelsels te definieer: Waarin glo jy? Wat maak jou opgewonde? Hoe wil jy hê moet ander mense jou ervaar?” Jou gedagtes, oortuigings en bedoelings word jou realiteit. Met ander woorde, jy is wat jy dink! ’n Positiewe eiewaarde bou ’n positiewe werklikheid.
Om meer sin aan jou gedagtes te gee, beveel Herman aan dat jy die lewe soos ’n regisseur benader. “As regisseur kyk jy meer objektief na ’n situasie omdat jy vanuit alle hoeke na die saak kyk en dus die geheelbeeld sien.” As regisseur van jou lewe het jy vier belangrike doelwitte: om jou situasie eerlik te evalueer, om jouself te vergewe, om dankbaar te wees en om vrede te beleef.
Om van emosionele bagasie ontslae te raak, moet jy dus eerlik met jouself wees en verantwoordelikheid aanvaar vir jou eie emosies. Jy moet weet wat jy uit die lewe wil hê, en volgens Audrey Marlene kan jy dít net regkry as jy ’n sterk waardesisteem het en gesonde emosionele grense stel. Met sulke grense leer jy ander hoe om teenoor jou op te tree, beskerm jy jouself teen toekomstige misbruik en kan jy proaktief optree indien nodig.
Kry jou lewe op koers
Om weer nuut in die lewe te begin, moet jy al die negatiewe bagasie van die verlede afgooi. Hier is ’n paar wenke wat kan help:
• Jou fisiese omgewing soos jou huis, lessenaar of motorhuis is gewoonlik ’n aanduiding van die emosionele geraas wat jy ervaar. Reinig jou kop deur van die warboel ontslae te raak. Stel realistiese doelwitte en gooi weg, gee weg, pak weg. As jou omgewing skoon en aan die kant is, sal jy meer in beheer en bemagtig voel. Waak net daarteen om weer in die opgaar-groef te verval.
• Terwyl jy aan die skoonmaak is, raak sommer ook van toksiese verhoudings ontslae, of dit romanties is of met werk, vriende, familie of kinders. As die verhouding nie waarde tot jou lewe toevoeg nie, los dit! As jy nie permanent daaruit kan kom nie, stel duidelike emosionele grense en hou daarby. Moet egter nie sinies raak en alle toekomstige verhoudings summier afmaak nie. Gaan met ’n oop gemoed in ’n nuwe verhouding en vriendskap, geniet die ervaring en haal die positiewe daaruit.
• Ons emosionele bagasie kan ons persoonlikheid en gedrag bepaal. Ouers is geneig om hulle verlede as maatstaf te gebruik wanneer hulle hulle kinders opvoed en dissiplineer. Indien jy in ’n outokratiese huis grootgeword het, mag jy óf self ’n outokratiese ouer word óf presies teenoorgesteld optree deur alles toe te laat. Balans en ’n sterk grondslag is die geheim in die opvoeding van gelukkige kinders.
• Jou emosionele bagasie kan ook jou geldsake beïnvloed. Jy kan besonder inhalig wees uit vrees dat jy nooit genoeg geld gaan hê nie, of finansieel roekeloos lewe. Beide kan jou en jou geliefdes groot skade berokken. Jou geld moet vir jou werk en nie andersom nie. Stel daarom ’n begroting op en hou daarby of kry hulp by ’n finansiële adviseur.
• ’n Gesonde liggaam en gees is belangrik as jy emosioneel gesond wil bly.
Wees bereid om kanse te waag, al is dit hoe vreesaanjaend. Dit is die enigste manier hoe jy emosioneel gaan groei en jou volle potensiaal gaan bereik. Om weer nuut te begin, moet jy ’n geloofsprong maak en verwonderd staan oor al die goeie dinge wat daar in jou lewe kom.


.jpg)




.jpg)

















