WAT NIANELL WIL HÊ JY MOET WEET ...

WAT NIANELL WIL HÊ JY MOET WEET ...

Andrea Bocelli dink sy sing soos 'n engel. Vir haar man lyk sy soos een. En drie cute, klein dogtertjies weet sy ís een!

2010-09-02

As buitestaander lyk alles so perfek, dit maak jou jaloers. Kan een mens soveel geluk hê?

Nianell het alles. ’n Loopbaan wat bly groei, ’n staatmaker-man teen wie sy kan lepellê, en ’n drie-dubbele dosis dogtertjies! Maar wêreldwyd is daar vroue met Purity-kolle op hul pakkies, kougom onder hulle stiletto’s en sonarfoto’s op hul rekenaars , wat wonder hóé sy dit regkry ... Hoe hou sy al die balle in die lug?

Navorsing toon dat vroue ongelukkiger is as veertig jaar gelede. Dít ten spyte van ’n era vol geleenthede, keuses en moderne tegnologie wat veronderstel is om ons lewens te vergemaklik. Marcus Buckingham se nuwe boek, Find Your Strongest Life, het vroue wêreldwyd aangegryp. Hierin verwerp hy die idee dat vroue moet probeer om al die fasette van hul lewens te juggle. Hy stuur die strewe na balans maan toe!

“Streef eerder na volheid,” sê hy. “Jy het een lewe. Een verstand. Een hart. Een beker, as jy dit so wil noem. Jou uitdaging is nie om dinge in hierdie een beker van mekaar te skei nie. Om grense daartussen op te rig en dan te probeer om dit op een of die ander manier te laat balanseer nie. Jou uitdaging is om jou lewe pal te herrangskik, te kantel en doelbewus jou lewe in ’n wanbalans te plaas. Met die gewig ná daardie spesifieke oomblikke wat jou een beker gaan volmaak.” Makliker gesê as gedaan, Marcus!

“Ek is op ’n goeie plek en baie dankbaar daarvoor,” vertel Nianell. “Maar natuurlik het ek slegte dae. Dan oortuig ek myself dat ek partykeer móét af voel om weer die goeie dae te kan waardeer.” Op sulke dae doen sy iets spesiaals vir iemand anders, lees ’n opbouende boek, kyk ’n romantiese komedie of bederf haarself met ’n lekker bord kos. Sy gaan stap ook gereeld in die natuur. “Jy kan enige probleem wegstap en nuwe energie en woema in jou lewe kweek.” Sy laat ook nie toe dat ander se emosies haar onderkry nie. Daar is soveel vroue wat onder druk is, omdat hulle toelaat dat ander hulle onderdruk met eise of negatiewe emosies.

Oor haar sukses glo Nianell aan voorbereiding. Daarom het sy ’n persoonlike afrigter en ’n lewensafrigter. Voor haar optrede saam met Andreo Bocelli, was sy ’n honderdpersent voorbereid. “Ek het verskeie kenners gaan sien om my te help met my gesindheid en my Italiaans.” Wanneer jy voorbereid is, glo sy, kan jy soveel moontlike verrassings elimineer, wat weer jou stresvlak verlaag. “Dít, glo ek, is die geheim van sukses. Mense wat suksesvol is, stap nie net blindelings ’n onbekende situasie binne nie.”

Natuurlik maak sy foute. “Maar ek is ’n spirituele mens en sal myself maklik vergewe. Ek is ook nie bang om te sê ek is jammer nie.” Wanneer sy skeef trap, martel sy haarself nie daaroor nie. “Ek vergeet áltyd my ma se verjaardag. Ek praat hóéveel keer per week met haar, maar ek is nie goed met verjaardae nie. Dit maak nie regtig vir my saak wanneer mense gebore is nie, net dat hulle wel gebore is en hier is! Ek is ook nie bang om te sê ek is jammer nie.”

Nianell kan ook die goed in enige sleg raaksien. Soos die keer toe hulle ’n oornag met ’n trein gery het. Nét hulle vyf. “Al drie meisiekinders het diarree gekry! En ek maak graag self die vuil doeke skoon, sodat ek kan seker maak dit is góéd skoon. Andrew help my met die piepiedoeke, maar ek het die hele pad lank poo-poo’s skoongemaak! Tog was dit vir my een van die lekkerste trippies nóg want dit was net ons vyf en dit was so spesiaal …”


Sukses is ook ’n relatiewe begrip. “Toe ek 28 was, het ek besef ek het reeds alles wat ek begeer. Dit was nog voor ek my eerste CD vrygestel het. Ek het eendag net besef hoe gelukkig ek is om te kan doen waarvoor ek lief is. Ek het ’n wonderlike man in my lewe, familie, vriende, gesondheid, liefde, ’n dak oor my kop, kos, klere en ’n lewe vol geleenthede voor my. Ek het besef: Ek is rééds suksesvol. En eers wanneer jy suksesvol vóél, sal jy suksesvol wees.” Maar die jare het sy ook geduld aangeleer. “Veral omdat dit my so lank geneem het om my eerste album vry te stel,” vertel sy. “Ek was dertig en dit was een van die hoogste berge wat ek ooit moes klim, maar ek verstaan nou dat alles op die regte tyd gebeur. Tyd is ons vriend in soveel opsigte, maar wanneer ons daarteen baklei, maak ons die lewe vir onsself soveel moeiliker.”

Op 35 was haar loopbaan al lekker op dreef toe sy swanger geraak het met ’n drieling. En dit het beslis nie die mat onder haar uitgeruk nie. “My kinders het my ’n hupstoot hemel toe gegee. Hulle het my kom leer hoe om my lewe en optredes meer te geniet en nie net te fokus daarop om alles perfek te doen nie. Hulle inspireer my kreatiwiteit en motiveer my om ’n goeie voorbeeld te wees deur myself lief te hê en net te wéés. My loopbaan is nou soveel meer die moeite werd as gevolg van hulle.”

Maar dit is soms moeilik om mooi na haarself te kyk: “Met ’n besige loopbaan en ’n drieling bly daar maar min tyd vir my oor,” bely Nianell. “En ek moet hard daaraan werk en regtig vir myself tyd maak As ek dit nie doen nie, beteken dit dat ek nie myself lief het nie. En dit is nie die voorbeeld wat ek vir my kinders wil stel nie. Daarom is dit noodsaaklik dat ek rus en soms net tyd vir myself afvat. Partykeer kry ek dit nie reg nie, maar ek is trots daarop om te sê dat ek nooit ophou probeer nie!”

Met die kinders se geboorte het Andrew sy eie werk laat vaar om as Nianell se bestuurder op te tree. “My man is nog altyd my rots, die wind beneath my wings.” Almal weet dat dit een ding is om jou kinders gelukkig te hou, maar wat dikwels gebeur is … sodra die kleintjies gelukkig is, begin die grote brom. “Dit was ’n groot verandering vir my en Andrew,” vertel sy. “Vir lank was dit net ons twee en skielik was daar ’n huis vol mense.” Maar hulle was voorbereid en het begin saamwerk die oomblik toe hulle hoor hulle verwag ’n drieling.

“Ek en Andrew is ongelooflik lief vir mekaar en daar is ’n paar dinge wat ons baie help in spanningsvolle situasies: Ons werk deur ons probleme en vra raad as ons nie meer weet nie. Ons vergewe mekaar en ons vra baie omverskoning. Ons besef dat ons werk en ons kinders nie ‘ons’ is nie en dat dit noodsaaklik is om tyd vir mekaar te maak. Ons werk albei daaraan om onsself lief te hê want slegs dán kan ons mekaar liefhê.” Hulle het onlangs hul tien jaar herdenking gevier en hul huweliksbeloftes hernu.

Vir Nianell is die lewe ’n geskenk. “Die blote feit dat jy leef, behoort genoeg te wees om jou elke dag te inspireer en te motiveer om elke oomblik te geniet. Ons fokus te veel op vrae: Is ek ’n suksesvolle ma? Vrou? Sakevrou? Vriendin? Of wat ook al … daardie dinge maak jou nie vol nie, dit tap jou leeg. Wat jou vol maak, is ’n liefde vir jouself, jou medemens, die natuur en alles daarin, God.

“Ek dink nie daar word van vroue verwag om Supervroue te wees nie. Hulle verwag dit partykeer van hulself en dink dit is die wêreld se verwagting. Solank jy jouself meet aan wat ander van jou verwag, gaan jy altyd onvervul en soos ’n mislukking voel,” verduidelik sy.

Daar is ’n monitor met ’n televisie in die drieling se kamer en soms hou sy en Andrew die drie dop asof hulle sit en Big Brother kyk, lag sy. “Dan vat hulle mekaar se handjies of gee mekaar drukkies – dit is ongelooflik spesiaal en ons kan vir ure so na hulle kyk!”

“Om saam met my man en kinders iewers in die natuur te wees, is vir my die hoogste vorm van geluk. As hulle geliefd voel en ek myself koester, waardeer, respekteer en vertroetel … dán voel ek suksesvol.” Dit klink alles goed en wel, maar wat as dinge nie volgens plan verloop nie? “Dan maak ek ’n ander plan,” antwoord sy sonder huiwering. “Een van my grootste gawes is my deursettingsvermoë. Daar is baie paadjie na jou eindbestemming en as die een doodloop, vat eenvoudig ’n ander een! Ek het ook geleer dat ek kan beplan en voorberei tot op ’n sekere punt. Daarna moet ek dit laat los en laat God!”

 

Kliek hier vir:

NIANELL – MY GELUKKIGSTE OOMBLIKKE

WEN NIANELL SE VOORBLAD-ROK


Kommentaar

gesels saam