SORINA ERASMUS PRAAT OOR ANNIE ...
Met sy kraaloog dogtertjie en perfekte huwelik was Wouter se lewe volmaak. Vir Sorina Erasmus was hulle 'n inspirasie.
2010-09-02Annelize Steyn
Met sy kraaloog dogtertjie en perfekte huwelik was Wouter se lewe volmaak. Vir Sorina Erasmus was hulle 'n inspirasie.
2010-09-02Annelize Steyn
En Lize se geboorte was die kersie op hierdie spreekwoordelike feestelike koek. Min het sy geweet wat daardie Sondag-aand sou gebeur.
Annie, my skoonsussie, het op ’n laat ouderdom haar trouman gekry. Wouter is met die hand vir haar uitgesoek. ’n Man met inbors wat sy kinders met sy lewe sou beskerm. Maar hy het vir haar ook gebid – ’n vrou wat hom onvoorwaardelik sal liefhê en vir wie hy ’n leeftyd sou wag.
Die Booysens het mekaar aangevul en gekomplementeer. Ek het altyd gehoop dat ek en my man (wat toe maar net my kêrel was) se liefde soos hulle s’n elke dag voller sal blom.
Wouter was mal oor kinders en wou ’n string hê. Toe hulle ’n paar maande na hul troudag hoor daar is ’n dogtertjie op pad, het Wouter se bors van trots geswel.
Hy het die dae afgetel vir sy engeltjie om die lig te sien, en toe daag sy sommer ook twee weke te vroeg op! Hy het elke oomblik van haar lewe in sy kop, in foto’s en op video vasgevang.
Ek was besig om my woorde vir 7de Laan te leer toe Braam (my man) my daardie aand bel. Daar was seer in sy stem. Wouter is op 34 met ’n hartaanval van ons af weggeneem. Twee weke na klein Lize se geboorte.
Skielik was ’n splinternuwe ma sonder ’n man, en ’n pasgebore baba sonder ’n pa.
Pyn het Annie se lyf stuk vir stuk verteer, sy het begin wegkwyn ... letterlik en figuurlik. Die baba kon nie meer geborsvoed word nie, want die skok was vir haar ma se lyf een te veel. Klein Lize het ernstig siek geword. Gaan ons nou vir haar of haar ma ook verloor? Het almal gewonder toe sy in die hospitaal opgeneem word. Dit was asof Lize, Annie se seer kon vóél.
Die vrae was aanhoudend, die seer diep, en die verlange permanent. Hoe maak jy jouself bymekaar as jy elke oggend alleen wakker word. En jou man al meer in jou kind se oë kan sien. ’n Blywende herinnering aan wat jy so skielik verloor het.
Maar dan is daar ook die verwondering, die geskenk wat jy daarmee saam gekry het. Lize is twee weke te vroeg gebore. Dit was daardie twee weke waarin Wouter sy dogtertjie kon vashou. Dít is wat ons en Annie elke dag inspireer en deur die eina-tye dra. Sy móés te vroeg gebore word sodat hy haar (al was dit net vir ‘n kort rukkie) kon liefhê en belééf. Sodat sy haar pappa se arms om haar klein lyfie kon voel.
Die seer is steeds daar. Met elke kleuterskoolkonsert waar pappas en mammas saamdrom om hul wit eiertjies af te neem. Met elke maatjie se partytjie waar die pa’s trots hul kleintjies se verjaardagkersies aansteek. Met elke swemles of balletklas waar pa’s hul bolla-dogtertjie kom oplaai en deur die lug swaai. Met elke “eerste” ding in Lize se lewe, wanneer Annie se hart brand om dit met Wouter te kon deel.
Lize word een van die dae vier jaar oud en elke keer wanneer ons haar sien, groei Wouter al meer in die klein lyfie. Annie sê: “Ek cope nie, maar ek het aanvaar ...” Selfs Lize weet haar pappa is in die hemel. Sy verstaan nog nie en het onlangs gesê: “Ek wil hê hy moet afkom en hier kom bly. Hy was nou lank genoeg daar Bo en ek wil hom net ’n drukkie kan gee ...”
Hierdie twee vroutjie-mense is my inspirasie. Elke dag. En elke dag steeds my hoop. Die pappa-lose dogtertjie met die bokkie-oë en haar sterk, krulkop ma wat soms wegraak tussen die kiekies van die man vir wie sy so lief was.
Ek en Christa Steyn het destyds vir Annie ’n liedjie geskryf, wat op my eerste CD Engel met ’n angel opgeneem is. Daar is ‘n klomp Annies in die wêreld en ek deel graag hierdie liriek met elke Annie daar buite.
Annie, ek weet jy worstel met die wete, dat hy weggeskeur is van dit wat jul nog gister gehad het.
Maar Annie, jou dankbaarheidsgebede, tussendeur jou trane van julle wonder-wonder jare is die krag wat jou sal dra.
Want hy was net aan jou geleen, te vinnig weggeneem in die groeityd van jul liefde.
Maar sy is as troosgeskenk gegee, met hom in haar geweef dat hy steeds deur haar sal bly leef.
Elke dag opnuut deur die oë van jou kind sien jy hom en begin sy meer en meer soos hy te klink.
En elke kinderlaggie wat uit haar lyfie kom – weet ek is aan jou, spesiaal met liefde van hom.


.jpg)




.jpg)

















