AS ONS 'N MANSTYDSKRIF KON SKRYF ...
As vroue op die redaksie van manstydskrifte was, sou ons...
2010-08-18
As vroue op die redaksie van manstydskrifte was, sou ons...
2010-08-18
In die vorige eeu was dit nie snaaks as ’n man die redakteur van ’n vroue tydskrif was nie. Dit is net hoe dit gewerk het, vroue het nie sulke “hoë” posisies beklee nie. Maar deesdae is dit ’n totale ander prentjie ... Dis amper ondenkbaar dat dit só kon werk. Maar dink bietjie aan die teenoorgestelde ... Wat as vroue manstydskrifte geskryf het ...? Ons het bietjie daaroor gesels en ons gevolgtrekking is dat dié tydskrifte baie beter sou wees as vroue aan die stuur van sake was!
Wat ons sou verander aan manstydskrifte:
• Ja, so uit ons ervaring met manstydskrifte, is die fokus omtrent net op seks en sport. Ons sal vir hulle meer verskeidenheid gee om te lees. Soos byvoorbeeld meer doen dit self artikels om jou vrou in en om die huis te help met huishoudelike takies ...
• Ons hou ook nie baie van die foto’s in dié spesifieke tydskrifte nie. Die vroue is abnormaal mooi gebou, hulle het kunsmatige borste en die meeste het bleach blonde gekleurde hare ... Hoekom nie foto’s van gewone vroue nie, dan sal mans minder onrealistiese verwagtinge van vroue hê, of hoe?
• Wat is aantrekliker as ’n man wat mooi aantrek en na homself kyk? Ons sal verseker meer mode en skoonheid in die blaaie sit. Sommige mans het al die hulp nodig wat hulle kan kry!
• Die raadgewers in manstydskrifte is duidelik almal mans, en ons dink nie in die verhoudingsarea is ’n ander man noodwendig die beste een om sy onbeholpe mede-man te help nie. Hulle sê self hoe onverstaanbaar vroue is, so kry eerder vroue om hulle te help met hulle liefdesprobleme...
• En op daardie punt, sal ons verseker ook ’n afdeling maak wat nét handel oor hoe om vroue beter te verstaan. Iets soos: Sy hou ook soms daarvan om op ’n Saterdag middag iets anders te doen as rugby kyk. Of, jy mag beloon word as jy soms die kinders bad terwyl sy Oprah kyk...
• En sommer nog iets in daardie rigting... Ons sal maklike (maklik genoeg vir mansmense) resepte in ons manstydskrif hê sodat hy geen verskoning het om jou nie nou en dan af te los in die kombuis nie.
• Dan wil ons ook die bekende vroue in hulle tydskrifte bietjie verander, in plaas van mooi meisies sal ons inspirerende ikone plaas. Minder Paris Hilton, meer Meryl Streep! Mooi, oppervlakkige poppies moet vervang word met inspirerende ikone. Weereens om wanindrukke uit te skakel.
• En kan ons net sê ... die lewe gaan nie oor seks nie. Manstydskrifte se obsessie met seks maak ons sommer naar! Seks is ’n pragtige ding tussen ’n man en ’n vrou binne die huwelik, nie ’n losbandige ding wat sy ego moet streel nie. Manstydskrifte maak van seks ’n lelike, grillerige ding en dit is glad nie wat dit bedoel is om te wees nie.
• Mans se lewens is ook maar dol, hulle moet hard werk om vir hulle families te sorg en dit is maklik om perspektief te verloor op dit wat regtig belangrik is. Daarom sal ons ook ’n gees-afdeling in die manstydskrif plaas sodat hy sy balans en vreugde kan put uit die Bron van die lewe – God..
Wat dink jy? Hoe sou jy te werk gegaan het as jy die redakteur van ’n manstydskrif was? Vertel ons deur hier onder kommentaar te lewer...























