WAT GEE JY JÓÚ KIND OM TE EET?
Het jy geweet dat jy jou gesin se hero kan wees deur net om te sien na wat hulle eet?
2010-08-11Ilana Scholtz
Het jy geweet dat jy jou gesin se hero kan wees deur net om te sien na wat hulle eet?
2010-08-11Ilana Scholtz
As ma’s wil ons die beste vir ons kinders hê, maar dit wat ons vir hulle gee om te eet is nie altyd goed nie. Deur slegs ’n bietjie te beplan kan jy gesonde maaltye voorsit wat jou gesin se lewe kan red.
Jamie Oliver wat onlangs op Oprah was, voel baie sterk oor die kos wat ouers vir hul kinders gee om te eet en ook inpak skool toe. Hy gaan selfs só ver as om te sê dat ouers hul kinders mishandel as hulle net gemorskos vir hul kinders gee om te eet. Die groot fout wat ouers maak, is om te dink dat jy net gemorskos kan koop. Maar eintlik word kos met lae voedingswaarde ook by die huis voorberei. Dink bietjie aan al daai vetterige kosse wat ons daagliks vir ons kinders gee: olierige chips, vetkoek, brood, sjokolade, koekies, pizza, gebraaide hoender, ens. Visualiseer bietjie die kosse wat nou net genoem is ... Kom jy agter dat al die kos amper net een kleur is? Goudbruin! Waar is die kleure? Waar is die groente en vrugte?
Die APA (American Psychological Association) stel voor dat ouers ’n gesonde lewensstyl by hul kinders kweek, deur die volgende gewoontes aan te leer:
• Maak seker dat die meerderheid kos in die huis gesond is. Selfs deur net die nageregte met gesonder opsies te vervang, help dit alreeds baie. Roomys kan bv. vervang word met gevriesde joghurt en vrugteslaai.
• Kinders kyk na wat hul ouers doen en eet. As ouers het ons ’n verantwoordelikheid om goeie voorbeelde vir ons kinders te wees.
• Vermy situasies waar jy vir jou kind kos as ’n beloning gee vir goeie gedrag. Baie ouers sê vir hul kinders dat hulle ’n lekkerny kan kry as hulle soet is. Dit is ’n slegte gewoonte en jou kind dink dan dat goeie gedrag beloon word met gemorskos. In die toekoms kan jou kind ook dan kos as beloning sien of iets wat jou beter laat voel. Die Engelse praat van comfort food.
• Probeer om jul groot etes saam as familie of gesin te geniet. Hier kan ouers hul kinders goeie eetgewoontes leer. As kinders voor die televisie eet, raak hulle opgewonde oor dit wat op die televisie gebeur en die kos word dan net in die mond gestop en nie ordentlik gekou en verwerk nie.
• Beperk die hoeveelheid keer wat julle per week uiteet. Nie net is dit baie duur om uit te eet nie, maar dit kan ook ongesond wees. Jy weet nie wat restaurante in die kos sit nie en daarom is dit moeiliker om gesonde keuses uit te oefen. As jy kos self maak, sal jy weet watter voedingswaarde die kos het wat jy voorberei en jy kan ook die porsiegroottes beter beheer.
Wat sê die kenner?
Ina Nortje het nie net ’n graad in Dieetkunde nie, maar sy het ook haar eie praktyk waar sy mense raadgee oor aanvullings, gesonde eetgewoontes, ens. Ina is ons voelgoed-kenner in dieetkunde. Wat sê sy is gesonde koskeuses vir kinders?
Goeie voeding op ʼn daaglikse basis is nodig vir optimale funksionering, groei en ontwikkeling. Chroniese siektes in die toekoms het ʼn basis reeds in die kinderjare. Dit is nie net wat kinders eet nie maar wat hulle nie eet nie wat ʼn onmiddellike en langdurige impak het.
Sywurm kan op blaarslaai oorleef maar hulle produseer baie meer en beter kwaliteit sy, indien hulle moerbei blare eet. Kinders kan dus op tweedehandse kos oorleef maar hulle gaan nie hulle volle potensiaal ontwikkel nie.
60% van ons brein bestaan uit vette en 75% bestaan uit water. Studies het bewys dat kinders wat die regte tipe vette, lae GI koolhidrate, optimale voedingstowwe en water inneem, se totale neurone in hul brein meer is as kinders wat swak eet.
"Wat se voordeel is daar as kinders gesond eet?
• Konstante energievrystelling: bloedsuikervlakke beïnvloed gedragsprobleme, fokus en konsentrasie en as jou bloedsuikervlak reg is kan dit cravings voorkom.
• Behou ideale suiker vlakke: dit beperk die risiko van oorgewig wees en om diabetes te ontwikkel.
• Die regte tipe vet en energie inname: beperk die ontwikkeling van hartsiektes en hoë cholesterol.
• Vesel voorkom oorgewig, hardlywigheid en kolonkanker.
• Voorkom allergieë, chronies infeksies, en deurlaatbare dermkanaal. "
Die ideale kosblik ...
ʼn Kind se maag is die grootte van sy vuis.
• ʼn Maer proteïen, die grootte van die palm van ʼn kind se hand bv.
ʼn frikkadel, stukkie kaas, ½ klein hoenderborsie.
• Sluit ʼn kind se vuisgrootte lae GI stysels in bv.1 sny brood, pastaslaai
• Ten minste 2 verskillende kleure groente of vrugte om die ½ van die
kosblik te vul bv. baba tamaties, seldery, komkommer stokkies, druiwe
• Slegs een vet bv. hand vol neute, mayonnaise, ¼ avokadopeer, olyfolie
• 1 Bottel water
Indien jy nog vra het oor gesonde kosblikke of as jy dalk net bietjie meer wil weet oor gesonde eetgewoontes, maak ’n draai by ons kennerafdeling en vra vir Ina of een van ons ander dieetkundiges vir raad.
Bronne:
http://www.apa.org/helpcenter/healthy.aspx
www.oprah.com


.jpg)




.jpg)

















