LAG SOVEEL AS WAT JY KAN!

LAG SOVEEL AS WAT JY KAN!

"Pret is nie iets waarna ek soek nie, dit gebeur elke dag in my lewe," só sê Elize Cawood een van ons land se lieflinge.

2010-08-11Madge Booth

Gee vir haar enige rol onder die son en sy speel dit asof dit haar ingebore persoonlikheid is wat sy daar versinnebeeld.

In die splinternuwe Afrikaanse reeks, Die Uwe Pottie Potgieter, Vrydae aande 18:00 op SABC 2 speel Elize die rol van Baby. Sy is Pottie (Frank Opperman) se skoonma wat by hom ingetrek het om huis te hou terwyl haar dogter, sy vrou, in Saoedi-Arabië verpleeg om die potjie aan die kook te hou. Want Pottie is werkloos. En volgens Baby kan Pottie maar al die werk doen, hy sit mos net by die huis...

Oor Baby is Elize baie opgewonde, “Ek het dit geniet om haar te speel, al verskil ons geweldig baie. Haar lewe is maar vervelig teenoor myne,” vertel sy. Dit is die hele probleem in ons land, vroue raak heeltemal te prim en propper hoe ouer hulle word.

“Soms moet hulle maar net hulle pers hoede opsit en hulle skoene uitskop en die lewe geniet!” Volgens Elize is daar nie veel salf te smeer aan suur ou tannies nie. “Nee, hulle is so omdat hulle so wil wees. Ek sien die ligter kant van die lewe raak, my kop is so geprogrammeer: om fun te hê en lekker te lag vir klein dingetjies wat gebeur. Soos as ek en my dogter in ’n mall rondloop kan ons gil van die lag vir iets wat iemand doen of iemand se manier van loop – dit is in ons aard.”

Elize is mal oor haar werk en sien dit nie eens as werk nie. “Ek hoef nie pret, werk en verantwoordelikheid te probeer balanseer nie, want dit is alles vir my dieselfde ding,” vertel sy. “Tog moet vroue dapperder wees as mans wanneer dit kom by komedie, dit is soms moeilik om al jou inhibisies oorboord te gooi...”

Vir die legendariese aktrise is dit die heel lekkerste om mense te laat lag. Lag maak haar lewe die moeite werd, en sy glo dat lag baie belangrik is. “Daar is altyd iets om oor te lag, al is die situasie hoe tragies, kan jy iets vind om oor te lag, sê Elize.”

Kommentaar
  • Elize jy is in die kol!Lag werk wondere. As ek af voel laat kom ek my lag vriendin en ons kan skater dat almal rond kyk. Dink ons lag vir hulle wat soms waar is! "You make my day!

gesels saam