MOEDERSDAG IN <i>CELEBVILLE</i>

MOEDERSDAG IN <i>CELEBVILLE</i>

Dis amper Moedersdag! Dié week kan jy elke dag kyk wat het celebs soos Heinz Winckler en Cindy Nell met hul ma's in gemeen!

2010-05-05

Jana is haar ma se bruinoog!

Ek dink ek het ‘n paar trekke na my ma, Pikkie, maar die mees prominentste is haar donker oë wat ek geërf het. Hulle word nog donkerder as ons vies is!  Vandaar die ‘familie bynaam’ Swartoog Miem (wat as ligte “reprimering” gebruik word om ons uit die kwaai bui te kry)

Ek voel gevlei as mense sê ek lyk na my ma – daar’s iets omtrent erfenis wat ‘n trots in my wakker maak.  My ma is ‘n sterk, dinamiese, maar warmvrou met gevoelvolle oë en ‘n hart wat altyd plek het vir nog een. 

MY MOEDERSDAGBOODSKAP AAN MY MA...

DANKIE!  Dankie vir die voorbeeld wat ma stel... Die liefde, bystand, geduld en raad waarmee ma nooit suinig is nie en dankie dat ma MY ma is.  Ek hoop om eendag dieselfde vir my kinders te kan beteken.


Heinz erf lewe by sy ma!

Ek sou sê die eerste en belangrikste ding wat ek by my ma “geërf” het is lewe. Sonder haar deursettingsvermoë en 36 uur van kraam, was ek nie hier nie. Die tweede belangrikste ding wat my ma saam met my pa in my ingebou het van kleins af, is die wete dat daar 'n God is wat my gemaak het en wat vir my lief is. Dit was die boustene vir my bekering en geloofslewe wat ek vandag het.
 
Meeste mense reken ek lyk meer na my ma as my pa. Ek kom dan maar tot die gevolgtrekking dat ek my voorkoms hoofsaaklik aan my ma te danke het.
 
My ma het 'n fantastiese sin vir styl en sy het ook baie goeie smaak en veral 'n oog vir die meer duursame, en duur dinge in die lewe. Ek het dit by haar geërf. En soms tot haar frustrasie. Wanneer ons gaan klere koop het vir my het ek sonder om te probeer elke keer na die duurste broek, hemp en baadjie gestap!
 
Op 'n meer aardse vlak het ek my eerste meubels en matte by my ma-hulle geërf toe ek na Idols uit die huis getrek het. Ek het dit so 2 jaar  as meubels gehad voor ek my eie meubels aangeskaf het.
 
AAN MY MA WIL EK SÊ

Mamma, ek is innig lief vir mamma en so dankbaar vir die onvoorwaardelike liefde en aanvaarding wat ek my hele lewe lank al beleef van ma af. Jy het nie altyd saamgestem met my oor sekere besluite en opinies nie, maar ek het nooit getwyfel oor of ma lief is vir my nie. Ek weet dat saam met Johan, Mia en pa is ek ma se hoof passie in die lewe, en dit beteken vir my ontsettend baie.

Altyd jou oudste, Heinzie.

Wat ek by my ma geërf het
 
Die meer opvallende ding wat ek by my ma gekry het is haar oë, en haar wenkbroue... my groot bruin oë op ’n druppel soos my ma sin.
 
Ongelukkig het ek my ma se ou klein ronde wangetjies gekry, en as ek net vir ’n sny koek kyk dan verbreed die ronde gesiggie sommer. So ma se ronde gesiggie en klein kennetjie en hemelsdank haar dik bos hare. Ongelukkig het die hare ook ’n ou lewetjie van hulle eie en is grys beslis in onse gene, en op 28 is ek bevrees dit is nie meer lank nie dan sal ek net eenvoudig silver highlights begin dra. Ek grap nie eers nie,  jy sal van jou stoel afval as jy sien hoe grys ek is. Natuurlik kleur ek die grys weg!
 
Bo alles was en is sy vir ons die wonderlikste ma en vriendin om mee groot te word, ek kan onmoontlik nie aan een meer onselfsugtige, lieflike en ondersteunende mens op aarde dink as my ma. Ek sê altyd van al die dinge wat ek by my ma gekry het wil ek net nog een ding hê. Om selfs net 10% van die ma aan my kinders te wees as wat sy vir ons is.
 
xx
 
Cindy


Toe ek klein was het ek altyd gedink ek het alles by my pa geërf, maar soos ek ouer word, besef ek, ek is meer soos my ma. Ons lyk min na mekaar- maar ek sing soos sy en is net so emosioneel soos sy.

My ma is die gees van die partytjie. As sy nie daar is nie, het mense min pret!  Sy gee ook goeie advies, maar net as jy haar vra. Ek het dit definitief van haar geërf. Ons hanteer ook probleme dieselfde, ons raak gou bekommerd in plaas van om dit stadig aan te pak ! Maar een ding is seker, ons is lief vir mooi goed, parfuum en soetgoed! Van alles dink ek ek het haar bene. Ek onthou jonger foto’s van my ma, sy het goeie bene op haar dag gehad.
Vir een ding is ek bly - my ouers is my beste vriende, en ek en my ma geniet dit om saam te wees. Ek mis hulle sommer vanuit Johannesburg. Hulle is in Bellville.

Elana

Ek het so baie by my geërf! Haar lekker baie gesels, ons albei hou van gesels en geniet mense, sy kan lekker lag, as ons saam is, lag ons baie, ek sal nou nog die "snaaks " in dinge raaksien soos my ma, kan ons albei vir onsself lag.

My ma was nog altyd `n raakvat vrou, hardwerkend buite op die plaas en in die huis, ek glo ek het darem daardie deel geërf van aktief wees, huis skoonmaak, skottelgoed was, ek glo ek het die gene gekry van skoonmaak en huishou by haar gekry.

Ek dink my sentimentele sy het ek ook by my ma gekry, ons kan saam met iemand bly voel, saam met iemand huil...my liefde vir diere veral honde, kom van my ma af...ons liefde vir die natuur, ek is mal oor lees en flieks kyk, dis verseker van my ma geërf. Ek glo haar deursettingsvermoë is ook deel van my, ek het nooit moed opgegee vir my lewensdroom - my sangloopbaan, haar moedhou en aanhouer wen is definitief deel van my.

My mees kosbare deel wat ek van my ma geërf het is beslis geloof en om altyd te bid, maak nie saak waar jy is nie, sy sê altyd jy kan met jou oë oop ook bid, sy het my geloof, liefde, hoop en mense-mens wees gegee, ek is haar oneindig dankbaar daarvoor.

Lianie May x

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]