58 AS ONGEDULD DIE OORHAND KRY! ons SELF kenner Articles www.voelgoed.co.za

AS ONGEDULD DIE OORHAND KRY!

AS ONGEDULD DIE OORHAND KRY!

Sommige mense is nou maar eenmaal meer geneig tot ongeduld. Dis deel van hulle persoonlikheid.

2012-03-06Eugene Kemp

So verontskuldig ons dié wat kort van draad is. Baie ongeduldige mense skuil agter hierdie veralgemening. Maar as jy na die gevolge van ongeduld kyk, is dit nodig om dit daadwerklik aan te spreek. Slegs dan besef ’n mens hoe nodig dit is om meer verdraagsaam te word en beheer oor jou eie emosies te kry.

Soos ek met paartjies werk, besef ek dat dit veral onafgehandelde, opgekropte ervarings en belewenisse vanuit hulle geskiedenis is wat bepaal hoe kort hulle lont is. Hierdie oorreaksie is meestal omdat hulle te bang is om die ongenoemde dinge in die oë te kyk. Nou oorreageer hulle maar op die klein dingetjies. Dus, as die kwessies van gister nie afgehandel word nie, spoel dit oor na vandag. 

Die selfhelpghoeroe Steven Covey skryf dat hoogs effektiewe mense, voldoende afstand tussen die stimulus en respons toelaat. Die emosionele deel van die brein reageer vinniger as die logiese, rasionele deel. Daarom is dit ’n wonderlike gewoonte om tot tien te tel of oor iets te slaap. Dit skep tyd vir die logiese denke om in te tree. 

Die motief vir jou respons is ook belangrik. Gaan dit oor wen? Of is dit ’n billike saak waar jy ongeregtigheid wil beveg? Onthou, hóé die boodskap oorgedra word, beïnvloed ook die inhoud van die boodskap. 

Patrone van ongeduld word oor jare gevestig. Daardie suksesvolle vloermoer van ’n kind wat nie haar sin kan kry nie, sit jou op die pad van manipulasie en ongeduld as volwassene. Hierdie patroon van ongeduld kan en moet verbreek word. Raak bewus van jou emosies en gevoel van ongeduld. Redeneer met jouself, sodat jy ’n beter begrip van jou gevoelens kan kry. Stap weg. Bid vir wysheid. Partykeer is dit werklik die enigste uitweg: om stil te word voor die Here en te vra wat Hy van jou in hierdie situasie verwag. Volg Sy voorbeeld van oneindige geduld. Neem verantwoordelikheid vir jou optrede.
 
Jy is nie net ’n produk van jou emosies nie. Jy kán en móét ingryp. Dink aan die gevolge van jou ongeduld. Dis gewoonlik ’n goeie afskrikmiddel. 
 
soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]