57 MY VRIENDIN HET SELFMOORD GEPLEEG! ons GELOOF kenner Articles www.voelgoed.co.za

MY VRIENDIN HET SELFMOORD GEPLEEG!

MY VRIENDIN HET SELFMOORD GEPLEEG!

Hoe verwerk ek die dood van ’n vriendin wat selfmoord gepleeg het? Hoe troos ek myself? Hoe troos ek die familie? Gaan sy hemel toe?

2012-03-09Liesel Krause-Wiid

Troos kom deur God se genade. Genesing vat tyd. Neem een dag op ’n slag. Moet nooit skuldig voel oor wat gebeur het nie. Jou vriendin het self gekies om haar lewe te beëindig. Niemand mag die blaam dra nie. Moenie jouself kasty met gedagtes soos: “As ek maar net besef het sy dink aan selfmoord.” Dis normaal om so te reageer, maar dit gaan jou nie help om die verlies te verwerk nie.

Jy is heel moontlik kwaad vir haar. Kenners sê dis normaal. Moenie dit onderdruk nie, dit vertraag net die rouproses. Moet jouself ook nie teister met ’n menigte ‘waaroms?’ nie. Jy gaan nooit in hierdie lewe antwoorde op al jou vrae kry nie. 

Die enigste manier om haar familie te troos is om te luister. Hulle wil nie advies hê of ’n preek hoor nie. Net ’n oor, en iemand wat saam kan huil. Nou is die tyd vir saamwees, stilwees, omgee. Moenie oordeel of beskuldig nie. Help eerder op ’n praktiese manier. Maak kos. Ry rond. Dis sulke goed wat hulle deur die seer tye gaan dra. Moedig hulle aan om met kenners oor hulle gevoelens te praat. 

Jesus het aan die kruis vir ons sondes gesterf en so ons skuld betaal. As jy sê dat iemand wat selfmoord pleeg, nie gered kan word nie, ontken jy God se genade. Sy liefde en begrip mag nooit buite rekening gelaat word nie. Dit is tog die boodskap van die Bybel: God se ewige, ondeurgrondelike genade! Ons weet nie wat in die laaste oomblikke, net voor die selfmoord, tussen haar en God gebeur het nie. 

In Romeine 8 staan daar dat niks ons van die liefde van God kan skei nie, die liefde wat daar in Christus Jesus, ons Here, is. Net so kan selfmoord ons nie van die liefde van God skei nie. Ons dien ’n God van tweede kanse. In Sy Woord belowe Hy dat Hy ons sondes vergewe. Hoekom sal die sonde van selfmoord dan uitgesluit wees? 

Kies om nie moed te verloor nie. Gaan sien ’n berader. Dis ’n reis saam met God, waar Hy tog genesing sal bring.
 
soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]