54 JY EN JOU DROME ... ALLES WAAROOR JY WONDER AKTUEEL Articles www.voelgoed.co.za

JY EN JOU DROME ... ALLES WAAROOR JY WONDER

JY EN JOU DROME ... ALLES WAAROOR JY WONDER

Wat gebeur regtig in droomland?

2012-01-23

Vroue is sensitiewe wesens. Ons is ingestel op intuïsie, ons filosofeer oor tekens en simboliek, ons neem besluite op gevoel ... en wanneer ons ná ’n besondere droom wakker word, wil ons graag glo dat daar méér agter die deurmekaar storielyn lê. Maar wat gebeur regtig in droomland? Wat is die betekenis van jou droom en is drome boodskappe van God?


Waar kom ons drome vandaan?

Die antieke Grieke en Romeine het geglo dis profetiese boodskappe van die hemele af. Die psigo-analis, Sigmund Freud, het geglo dat drome jou brein se manier is om onvervulde wense en begeertes uit te leef. In die 1970’s het twee navorsers van die Harvard Universiteit met die ongewilde teorie vorendag gekom dat ons drome niks anders as senuwee-impulse van ons brein is nie. Maar meer onlangse navorsing plaas ons terug op Freud se spoor. Navorsers kan nou al met verbeterde tegnologie bewys dat dit die emosionele deel van jou brein is wat die aktiefste is wanneer jy droom.

Sommige sielkundiges meen juis dat die emosies wat jy in jou drome ervaar, belangriker is as die beelde wat jy sien of die situasies waarin jy jou bevind. Hulle raad is om te onthou wat jy gevóél het tydens jou droom. Was dit vrees, magteloosheid, frustrasie, vrede, geluk – en hoe pas hierdie emosie in by wat jy die afgelope ses dae (ook volgens navorsing) in die werklike lewe ervaar het?

Watter drome is belangrik?

Die drome wat die belangrikste is om oor na te dink is dié wat herhaal word, wat baie helder in jou gedagtes vassteek of wat later in die dag by jou opkom. Dis waarskynlik die dinge wat jou onderbewussyn onder jou aandag probeer bring.

Maar drome kan ook bonatuurlik geïnspireerd wees, soos Ira Milligan, skrywer van Understanding the dreams you dream – Biblical keys for hearing God’s voice, glo. Hy sê dat net soos in die Bybel – soos onder andere met Josef, koning Nebukadneser, die farao van Egipte, Jakob – God vandag nog met mense, gelowig en ongelowig, deur drome praat.

“Maar,” voeg hy by, “net jý sal in jou binneste weet of jou droom iets besonders beteken of nie. Maak staat op jou gut feeling.”

Wat van droomsimboliek?

Vir Milligan is ’n droom soos ’n foto wat ’n oomblik in jou lewe vasvang. Niemand kan hierdie foto beter ontleed as jyself nie, want net jy ken die persoonlike besonderhede van jou lewe. Vir jou man kan ’n deur dalk net ’n toevalligheid in sy droom wees. Vir jou vriendin kan dit op ’n nuwe wending in haar lewe dui. Vir jou beteken dit dalk ’n blokkasie op jou pad.

In ’n gemeenskap waar die dra van klere ’n belangrike sosiale norm is, sal ’n droom waarin jy kaal is, heel moontlik daarop dui dat jy op een of ander manier ontbloot of weerloos voel.

Om te vlieg word weer algemeen geïnterpreteer as ’n gevoel van vryheid of to be on top of things. Hier is ’n paar universele droomsimbole, maar onthou dat dit nie noodwendig vir almal dieselfde betekenis sal hê nie:

•    Rigting: Vorentoe of om voor iets te wees, dui op die toekoms, net soos agtertoe of agter, die verlede simboliseer. Opwaarts/hoog kan op die geestelike of intellektuele dui, terwyl afwaarts/onder kan verwys na instink, die fisiese of om geanker te wees. Regs dui op logika, terwyl links simbolies is van die emosionele of innerlike. Ondergronds/in die nag/donker kan dui op iets in jou onderbewussyn, terwyl lig weer jou bewuste simboliseer.
•    Kleure: Swart kan skuldgevoel of swaarmoedigheid beteken, terwyl wit kan dui op reinheid of die spirituele. Groen kan genesing beteken en blou is koninklik.
•    Perspektief: Om in die eerste persoon te droom, waar jy jouself speel, kan daarop dui dat jy ’n vaste identiteit of karakter het, jy weet wie jy is. In die derde persoon, waar jy van iewers af dophou wat gebeur, kan beteken dat jy nie deel van ’n sekere situasie in jou lewe voel nie.
•    Die plek waar jou droom afspeel, kan wys op watter deel van jou lewe jou droom van toepassing is. Woestyne sonder water: gevoelens waaraan jy nie baie aandag gee nie. Oseane: die groot dieptes van jou siel en psige.
•    Magtige weer- en natuurelemente, soos reusebranders, storms, tornado’s en orkane, simboliseer sterk emosies en veranderinge in jou lewe.
•     Seisoene kan dui op ’n sekere bui of lewensfase. Winter: ’n tyd van hiberneer of bevrugting. Lente: die begin van nuwe lewe. Somer: die hoogtepunt van groei. Herfs: ’n tyd van oes of ’n natuurlike einde.
•    Die tipe vertrek in jou droom kan dui op die deel van jou self waaroor jou droom handel. Kombuis of eetkamer: selfkoestering of jou sosiale aard. Slaapkamer: verhoudings. Badkamer: privaatheid of om van gemors ontslae raak. Motorhuis: prestasie of iets wat jy opgaar.
•    Menslike liggaam: Jou vel of velprobleme dui op emosionele uitdagings. Bloed: energie of lewenskrag. Hande: skeppend. Voete: die lewenspad wat jy loop.
•    Diere kan dui op instink of jou emosionele natuur. Voëls kan byvoorbeeld vryheid of innerlike bewuswording beteken. Die assosiasie wat jy met die tipe dier in die regte lewe maak, kan dui op wat dit in jou droom verteenwoordig.

Het jy dit ook al gedroom?
Navorsers het ’n lys van top tien droomtemas en hulle moontlike betekenisse opgestel. Volgens hulle is hierdie die drome wat deur die meeste mense gedroom word.

Jy word aangeval of gejaag – Dit kan beteken dat jy onder baie stres is.

Jy kry seer of sterf – Dit kan beteken dat iets in jou lewe besig is om te verwelk of “dood te gaan”, soos ’n verhouding of ’n persoonlike eienskap/gewoonte.

Jy verloor iets waardevols, soos jou huis wat afbrand – Dit kan beteken dat jy bang is jy verloor iets wat kosbaar is vir jou. Dit kan ook jou onderbewussyn se manier wees om een of ander vorm van verlies te verwerk.

Val of verdrink – Dit kan beteken dat jou huidige situasie besig is om jou te oorweldig. Party mense sê wanneer jy droom dat jy val, kan jy doodgaan as jy die grond in jou drome tref en nie betyds wakker word nie. Moenie bekommerd wees nie, dis net ’n storie.

Kaal in die openbaar – Dit kan jou gevoel van weerloosheid in die werklike lewe weerspieël.

Laat vir ’n bus, vliegtuig, trein – Dis dalk jou onderbewuste se manier om te sê: “Ek is nie deel van wat gebeur nie. Ek is besig om die geleentheid mis te loop.”

Drome was húlle inspirasie

Stephen King, Paul McCartney, Abraham Lincoln en die skrywer van die Twilight-reeks sê almal dat drome ’n betekenisvolle invloed op hulle lewens gehad het. Baie van Stephen King se boeke is gebaseer op die drome wat hy kry.

Paul McCartney van die Beatles het vroegoggend in 1965 ’n droom gehad oor ’n klassieke stryk-ensemble wat ’n besondere melodie speel. Gelukkig was daar ’n klavier langs sy bed. Hy het opgestaan met die deuntjie in sy kop, die note gaan tokkel en gehoor dat dit regtig iets spesiaals was. Die deuntjie het sy megatreffer Yesterday geword!

Vir Stephenie Meyer het haar Twilight-reeks ook met ’n droom begin. Sy vertel dat sy een oggend wakker geword het met ’n baie helder droom in haar kop van twee mense, ’n gewone meisie en ’n baie aantreklike vampier, wat in ’n woud gestaan en gesels het. Sy het die detail dadelik op papier vasgelê en die res is geskiedenis.

Die 16de president van Amerika, Abraham Lincoln, het baie waarde aan sy drome geheg en dit selfs ingespan wanneer hy groot besluite moes neem. ’n Paar dae voor sy sluipmoord het hy gedroom van mense wat verskriklik huil. Hy het in sy droom opgestaan en deur die huis gestap. In elke vertrek het hy dieselfde gehuil gehoor, maar daar was niemand nie. Uiteindelik het hy in ’n vertrek gekom waar ’n lyk in grafklere gelê het, omring deur soldate. Toe Abraham vra wie dood is, het een van die soldate geantwoord: “Dis die president.”

Nie alle drome is lewensveranderend of boodskappe van Bo nie, maar dit kan jou help om jou gemoed en situasie beter te verstaan. Lekker droom!


Kommentaar
  • ek kry gereeld die droom van iemand wat ek ken wat dood is maar wat dan weer lewend is in my droom kan jul my dalk daarmee help
  • Wat se tipe Gelowige boek kan iemand vir my voorstel waar ek die betekening van verskillende aspekte van my droome kan oplees. Ek wil nie sommer net 'n boek gryp en dit het nie 'n gelowige agtergrond nie. Verkieslik in Afrikaans.

gesels saam


argief