42 OULIKE KOSBLIK-IDEES VIR DIE HELE GESIN jou huis Articles www.voelgoed.co.za

OULIKE KOSBLIK-IDEES VIR DIE HELE GESIN

OULIKE KOSBLIK-IDEES VIR DIE HELE GESIN

Vergeet van vervelige toebroodjies vir die kosblikke. Bederf jou man, kinders en jouself met hierdie lekker resepte.

2012-01-20

Hoe gemaak as die honger jou by die werk oorval en die enigste opsie is die stalletjie op die hoek se olierige samoesas wat al weer met jou dieet gaan inmeng? Die kinders is ook lus vir iets anders as ’n toebroodjie met kaas vir pouse. En manlief sal ook iets anders as gisteraand se oorskiet of grondboontjiebotter broodjies waardeer. Hier is ’n paar idees en wenke vir ’n gesonde kosblik vir jou, manlief en die kroos by die skool.


Gevulde pitabrode


Kinders en volwassenes se behoeftes en smake verskil baie, maar almal hou van interessante kos en bestanddele. Meng en pas die bestanddele soos jy wil. Verpak die pitas in bruin papiersakkies en plak stewig toe met ’n helder plakker sodat al die bestanddele vars bly en jy elkeen se pita kan uitken.

Pitabrood vir kinders:     962 kilojoules
Pitabrood vir vroue:     1 084 kilojoules
Pitabrood vir mans:     1 196 kilojoules

Pitabrood vir kinders (2 porsies)
2 pitabrode
1 blikkie tuna, gedreineer
2 wortels, geskil en in klein stukkies gesny
½ komkommer, gehalveer, sagte binnekant verwyder en in klein blokkies gesny
80 ml ongegeurde jogurt of mayonnaise
sout en peper

Pitabrood vir jou
1 pitabrood
30 ml vetvrye maaskaas
handvol roketblare
6 druiwekorrels in kwarte gesny
6 snytjies brie-kaas
halwe groen appel in dun skyfies gesny
45 ml okkerneute, gekap

Pitabrood vir jou man
1 pitabrood
30 ml vetvrye maaskaas
4 snye salami
4 songedroogde tamaties, in stukkies gesny
paar snye mozzarellakaas
10 olywe, ontpit en in klein stukkies gekap
geroosterde eiervrug, in ringe gesny (opsioneel)
vars slaaiblare

Verhit die oond tot 180°C en plaas die pitabrode vir 10 minute in die oond. Sny met ’n skerp mes in die helfte, en sny die pita oop. Wees versigtig dat jy nie die pitabrood deursny nie.
Vir kinders: Meng al die bestanddele saam en skep groot lepels vol in die halwe pitabrode.
Vir vroue: Smeer die maaskaas aan die binnekant van die halwe brood, en pak die blare, kaas, druiwe en appel in lae in die pitabrood. Sprinkel die neute oor en geur met sout en peper.
Vir mans: Smeer die maaskaas aan die binnekant van die brood. Pak die tamaties, salami, kaas en eiervrug in lae in die pitabrood, sprinkel olywe oor en druk ekstra blare in langs die kant. Geur met sout en peper.
Die pitabrode is heerlik koud, of jy kan dit ’n paar minute lank rooster.
 


Rolletjies (wraps)

Rolletjies is ’n wonderlike plaasvervanger vir toebroodjies. Jy kan die rolletjie met enigiets vul, selfs gisteraand se oorskietkerrie, of kraakvars groente en blare. Dit is egter belangrik om bestanddele te gebruik wat nie die rolletjie pap sal maak nie. Die geheim is hoe jy die rolletjie vou. Plaas al die bestanddele in die middel van die rolletjie. Vou die kante in, vou die helfte naaste aan jou oor, en maak stewig. Rol nou styf op en sny in die helfte.

Rolletjie vir kinders:     1 072 kilojoules
Rolletjie vir volwassenes:    1 203 kilojoules

Rolletjie vir kinders (2 porsies)
30 ml laevetmaaskaas
1 gerookte hoenderborsie, in klein stukkies gesny
½ pynappel, geskil en in blokkies gesny
1 avokado, in blokkies gesny
slaaiblare
2 rolletjies (wraps)

Rolletjie vir volwassenes (2 porsies)
80 ml hoemoes
2 hoenderborsies, gaar en in stukkies gesny (opsioneel)
250 ml Bulgaarse koring (Bulgar wheat) of koeskoes
½ ui, fyn gekap
2 tamaties, pitte verwyder en in stukkies gekap
125 ml pietersielie, fyngekap
125 ml mentblare, fyngekap
sap en skil van 1 suurlemoen
sout en peper
2 rolletjies (wraps)


Meng al die bestanddele saam vir die twee afsonderlike rolletjies. Smeer die maaskaas of hoemoes op die rolletjies. Plaas die verskillende mengsels in die rolletjie en rol styf op. Sny in die helfte en draai elke halwe rolletjie goed toe met kleefplastiek, sodat dit stewig en vars bly. Die bestanddele vir die volwassenes se rolletjie kan ook as ’n slaai bedien word.
 

Pastaslaai

Wanneer jy die pasta dreineer, bedruip dit goed met olyfolie terwyl dit nog warm is.  Dit sal sorg dat die pasta nie aanmekaar vassit nie en langer vars bly.

Pastaslaai vir kinders:     1 367 kilojoules
Pastaslaai vir volwassenes:     1 256 kilojoules

Pastaslaai vir kinders (2 porsies)
500 ml gaar macaroni
100 g gouda-kaas, in klein blokkies gesny
5 velle ham, in klein blokkies gesny
125 ml ertjies
125 ml heelpitmielies
10 kersietamaties, gehalveer
sout en peper

Meng die kaas, ham, ertjies, mielies en tamaties saam met die macaroni. Geur met sout en peper en plaas in ’n kosblik wat dig kan seël.

Pastaslaai vir volwassenes (2 porsies)
500 ml gaar volgraanskroefpasta
100 ml basiliepesto
15 ml olyfolie
30 ml suurlemoensap
200 g kersietamaties, gehalveer
100 g fetakaas, gekrummel
’n hand vol basilieblare, geskeur
sout en peper

Meng die pesto, olyfolie en suurlemoensap saam. Gooi oor die pasta en meng goed sodat alles bedek is. Voeg die tamaties, fetakaas en basilieblare by. Geur met sout en peper. Indien verkies, voeg ’n gaar hoenderborsie by wat in repies gesny is.
 

Keker-ertjie-en-boontjiesop

Hierdie sop is heerlik warm of koud. Geur met ekstra brandrissies en chorizo-worsies as jy wil. Verpak dit in porsiegrootte-houertjies en vries tot wanneer jy dit wil gebruik.

Sop: 723 kilojoules

30 ml olie
1 ui gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
2 selderystokkies, in stukkies gesny
15 ml komyn
15 ml koljander
1 blikkie gekapte tamaties
750 ml aftreksel van jou keuse
1 blikkie keker-ertjies, gedreineer
1 blikkie rooi nierboontjies, gedreineer
sout en peper
sap en skil van een suurlemoen
45 ml vars gekapte koljanderblare
brood vir opdiening

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die ui, knoffel en seldery tot sag. Voeg die komyn en koljander by, en braai vir 1 minuut tot geurig. Voeg die tamaties by, roer en braai vir nog ’n minuut. Voeg die aftreksel by, bring tot kookpunt, en laat daarna stadig prut vir 10 minute. Voeg die keker-ertjies en rooi nierbone by. Geur goed met sout, peper, suurlemoen en koljanderblare.
Lewer 1 liter sop. Bedien saam met vars brood en botter.
 

Gesonde happies vir die kosblik

Voor middagete en later in die dag kan ’n mens mos vreeslik honger word. Hier is ’n paar idees vir gesonde happies wat jou heeltemal sal laat vergeet van soetgoed.

Springmielies per 50 g:         797 kilojoules
Neute per 50 g:                1 372 kilojoules
Pitabroodskyfies per 50 g:     915 kilojoules
Ryskoekie alleen:             156 kilojoules

Gegeurde springmielies
•    Springmielies is hoog in vesel en laag in vet, en ’n goeie vuller in honger tye.
•    Geur warm springmielies met gerasperde parmesaankaas. Die kaas verskaf genoeg sout, so, los die soutpotjie eenkant.
•    Maak ’n mengsel van suiker, kaneel en naeltjies, en strooi oor warm springmielies vir ’n suikertand.
•    Meng springmielies met sonneblompitte, amandelsplinters en ander neute vir ’n interessante peuselhappie.

Geurige neute
Meng saam:
30 ml olyfolie
10 ml komyn
10 ml koljander
10 ml sout
5 ml swart peper
5 ml rissiepoeier (opsioneel)
500 ml kasjoeneute
Braai die speserye in ’n groot pan vir 2 minute, voeg die neute by en braai tot alles goed bedek is. Laat afkoel en verseël in ’n lugdigte houer.

Pitabroodskyfies
Gebruik oorskietpitabrode wat nie meer so vars is. Skakel die oondrooster aan. Trek die pitabrode van mekaar af dat dit net ’n dun lagie is, sny dit in driehoekies, plaas op ’n bakplaat en sprinkel gerasperde parmesaankaas oor. Rooster tot die kaas gesmelt en die broodjies bros is. Verpak in ’n lugdigte houer.

Ryskoekies
•    Ryskoekies hoef nie vervelig te wees nie. Maak jou eie avokadosmeer deur ’n halwe avokado fyn te druk en met 30 ml soetrissiesmeerkaas te meng. Geur met suurlemoensap, sout en peper. Verpak in ’n klein bakkie, en smeer vir jou ’n ryskoekie by die werk.
•    Gebruik enige smeerkaas van jou keuse, en sit tamatieskywe of vars groente of vrugte op om ryskoekies op te kikker.


Vrugtedrankies (smoothies)

Bessies bevat baie antioksidante wat help om jou gesond te hou. Die papaja-, pynappel- en piesangdrankie bevat weer baie vitamien C en is vullend, supergesond en verfrissend.

Bessiedrankie:                848 kilojoules
Papaja-pynappel-en-piesangdrankie:     798 kilojoules


Bessiedrankie
250 ml gemengde bessies
250 ml vars aarbeie, in stukkies gesny
250 ml sap
125 ml gewone jogurt
15 ml heuning

Meng al die bestanddele met ’n elektriese handmenger tot glad.


Papaja-pynappel-en-piesangdrankie
½ papaja, geskil, pitte verwyder en in blokkies gesny
½ pynappel, geskil en in blokkies gesny
1 piesang, in ringe gesny
250 ml sap
125 ml gewone jogurt
15 ml heuning

Meng al die bestanddele met ’n elektriese handmenger tot glad.

 
Kosblik ekstra’s



Willow Creek Gourmet Squeeze Estate Blend

Willow Creek se pryswenner, ’n 100% herwinbare PET plastiekbottel gevul met die landgoed se olyfolie, het boonop ’n tuit sodat jy presies kan beheer hoeveel olyfolie jy gebruik. Die onbreekbare bottel hou die olie twee jaar lank vars en is baie nuttig.

Ceres Full Moon Harvest-vrugtesap

Ceres Full Moon Harvest 100% vrugtesap is ’n kombinasie van verskillende vrugte met bessie-, peer- en perskegeure wat heerlik in jou smoothies sal smaak. 

Vital Multigrain-koekies

Vital Multigrain-koekies word van 6 verskillende grane gemaak, elk met ’n unieke voordeel, en is ’n goeie bron van vesel en antioksidante. Dit is laag in vet, en is ’n heerlike smulhappie enige tyd van die dag.


Kommentaar
  • dit klink wonderlik maar onthou nie almal kan bekostig om elke dag so te eet nie........Ek het verlede week net vir n week vrugte vir smoothies ,yogurt en nog n paar goed gekoop om redelik gesond te eet alles het my amper R200 gekos.......al hoe graag meeste mense gesond wil eet kan ek as enkel ouer dit nie bekostig nie wat van die mense wat minder as ek verdien

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]