HEERLIKE SOMER-KOS
Eet buite, braai, pak 'n piekniekmandjie, neem die vars lug en sonskyn in.
2012-01-13
Eet buite, braai, pak 'n piekniekmandjie, neem die vars lug en sonskyn in.
2012-01-13
Die nuwe jaar het aangebreek en dis steeds somer! Nét die regte tyd vir kuier onder groot bome of op ’n kombers op die gras saam met jou familie en vriende oor die naweek.
Sosaties met 2 marinades

• Sosaties kan warm of koud bedien word. Jy kan happiegrootte sosaties maak vir ’n piekniek of voorgereg of groter sosaties vir ’n hoofgereg.
• Die marinades is baie veelsydig en kan ook op ander vleissnitte gebruik word, soos heel hoender en lamsvleis. Marinades geur nie net die vleis nie, maar dit ook sagter.
• Marineer vlies altyd in ’n bak wat nie van metaal gemaak is nie.
• Gebruik volstruisfilet of ferm wit visfilette vir ’n gesonder opsie.
• Maak groentesosaties: Ryg sampioene, murgpampoentjies, uie, soetrissies, kersietamaties en enige ander groente op ’n stokkie en maak gaar.
4 hoenderborsies, in blokkies gesny
300 g lendeskyf of kruisskyf, in blokkies gesny
een elk van rooi, groen en geel soetrissies, in blokkies gesny
marinade met suurlemoen en vars kruie
60 ml olie
15 ml sojasous
sap en skil van twee suurlemoene
2 knoffelhuisies, fyngedruk
30 ml vars koljanderblare, gekap
30 ml vars pietersielie, gekap
30 ml heuning
10 ml witwynasyn
sout en peper
Marinade met tamatie en blatjang
60 ml olie
60 ml sterk rooibostee
60 ml tamatiesous
60 ml blatjang
20 ml soetrissiesous
15 ml worcestersous
15 ml balsemasyn
2 knoffelhuisies, fyngekap
15 ml klam bruinsuiker
sout en peper
Meng al die bestanddele saam vir die afsonderlike marinades. Ryg die hoender op stokkies met ’n blokkie soetrissie tussenin, en doen dieselfde met die beesvleis. Bedruip die hoender met die suurlemoenmarinade en die beesvleis met die tamatiemarinade. Laat dit marineer vir ’n uur of meer. Braai op warm kole of in die oond vir 20 minute tot gaar.
Gerolde Mediterreense brood

• Indien die tyd min is, koop 500 g klaar deeg by die bakkery.
• Gebruik bruinbroodmeel met ekstra vesel vir ’n gesonde opsie.
• Gebruik ander kombinasies vir die vulsel, byvoorbeeld gerasperde cheddarkaas, gekapte ui en songedroogde tamaties of Engelse spinasie, fetakaas en gekapte olywe.
500 g meel
1 pakkie kitsgis
10 ml suiker
5 ml sout
ongeveer 100-125 ml warm water
30 ml botter
Vulsel
125 ml songedroogde tamaties in vinaigrette, opgesny in kleiner stukkies
125 ml basiliepesto
200 g fetakaas
125 ml olywe, ontpit en gekap
Meng die meel, gis, suiker en sout saam. Maak ’n holte en voeg ’n klein bietjie van die warm water by, meng en voeg nog water by tot ’n deeg begin vorm. Smeer botter aan jou hande en begin knie vir ongeveer 10 minute tot dit ’n sagte en elastiese deeg vorm. Bedek die deeg en laat rys op ’n warm plek tot dubbeld die grootte en knie weer af. Rol deeg uit tot dit rofweg ’n groot reghoek vorm. Smeer die deeg met pesto en sprinkel dan die songedroogde tamaties, feta en olywe eweredig oor tot op die rande. Rol die deeg styf op vanaf die smal kant. Bedek en laat weer rys tot dubbeld die grootte. Verhit die oond tot 180°C en bak die brood vir 40-50 minute tot gaar en dit hol klink wanneer jy daarop klop. Laat die brood goed afkoel en sny versigtig in dik skywe. Bedien saam met botter en smere soos hoemoes of gegeurde roomkaas.
Groenteslaai met lemmetjie-en-rissie-sous

• Indien jy nie lemmetjies in die hande kan kry nie, gebruik een groot suurlemoen se sap en skil.
• Gebruik laevet-mayonnaise of vetvrye maaskaas in plaas van gewone mayonnaise.
• Gebruik laevetklappermelk.
• Gooi orige klappermelk in ’n houer en vries tot jy dit weer kan gebruik.
• Laat die spek weg en gebruik hoenderrepies of voeg ekstra groente by soos komkommer, murgpampoentjies of broccoli wat kleiner gesny is.
2 patats, geskrop en in blokkies gesny
1 halwe botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
30 ml olie
sout en peper
125 g spek, in klein blokkies gesny
30 ml olyfolie
sout en peper
rooi en geel soetrissie, in blokkies gesny
250 g kersietamaties, gehalveer
babaspinasieblare
vars koljanderblare vir garnering
Sous
15 ml olyfolie
100 ml klappermelk
15 ml mayonnaise
15 ml soetrissiesous
1 rooi rissie, fyngekap, of brandrissiepasta (opsioneel)
15 ml witwynasyn
5 ml mosterdpoeier
5 ml fyn komyn
1 huisie knoffel, fyngedruk
sap en skil van 2 lemmetjies
30 ml vars koljander, fyngekap
sout en peper
Verhit die oond tot 180°C. Plaas die patat en botterskorsie in ’n oondvaste bak, sprinkel olie oor en geur met sout en peper. Bak in die oond vir ongeveer 25-30 minute tot sag en gaar. Hou eenkant. Braai die spek tot gaar. Pak die spinasieblare in ’n groot bak en gooi gaar botterskorsie, patat en spek oor blare. Gooi tamaties en soetrissies oor. Meng al die bestanddele vir die sous saam en drup oor die slaai. Sit dadelik voor. Bedien 6.
Gevulde varkfilet

• Vark is ’n baie ekonomiese vleisporsie om voor te sit.
• Dit bevat minder vet en cholesterol as rooivleis.
• Vir ekstra geur, draai spekrepies rondom gevulde filet en maak stewig met tandestokkies vas.
• Jy kan dit oor kole of in die oond gaarmaak.
Bedien 4 – 6
1 varkfilet (ongeveer 1 kg of groter)
100 g dadels, baie fyn gekap
6 ansjovisfilette, fyngekap
Marinade
60 ml olyfolie
30 ml suurlemoensap
30 ml sojasous
15 ml balsemasyn
20 ml heelkorrelmosterd
sout en peper
Sny die filet versigtig oop, maar moenie heeltemal deursny nie. Meng die dadels en ansjovis goed saam en pak versigtig op die oop filet. Vou dit versigtig toe en steek vas met tandestokkies of gebruik tou om dit toe te maak. Meng al die bestanddele saam vir die marinade en laat die gestopte filet oornag marineer. Draai dit ’n paar keer om. Braai dit op die kole tot goed deurgaar en bedruip met die orige marinade. Of bak in die oond: Verhit die oond tot 180°C, bedek ’n bakplaat met foelie en bak die filet in die oond vir 40-50 minute tot deurgaar. Bedruip met die orige marinade terwyl dit in die oond bak. Bedien saam met vars slaai en aartappels.
Vars koekstruif

Bedien 6
• Maak die koekstruif in individuele plastiekglasies as jy dit wil inpak vir piekniek of ’n strandete. Of maak dit in glasbotteltjies met dekseltjies, en gee vir elkeen sy eie botteltjie.
• Bedien sonder die room vir ’n gesonder opsie.
• Gebruik vars gemengde bessies soos frambose, appelliefies en kersies vir ekstra geure.
• Jy kan klaar gebakte sponskoek by die bakkery koop as jy dit nie self wil bak nie.
1 sponskoek in kleiner blokkies gesny
200 g vars aarbeie, afgespoel en in kwarte gesny
200 g meringues, in kleiner stukkies gebreek
1 blikkie kondensmelk
60 ml suurlemoensap
100 g okkerneute, gekap
250 ml room, styfgeklits
Meng die kondensmelk met die suurlemoensap en laat dit goed styf word. Gooi ekstra suurlemoensap by indien dit nie styf genoeg is nie. Gebruik ’n klein glas of groot glasbak, plaas ’n paar koekblokkies onder, gooi ’n bietjie van die kondensmelkmengsel oor, dan ’n paar aarbeistukkies, dan gebreekte stukkies meringue en neute. Begin daarna weer met die koekblokkies en pak verder in lae. Sprinkel ekstra aarbeie en neute heel bo oor en bedien saam met vars room.
Foto’s: Julia Saker
Resepte en stilering: Christien Durand
argief
FINESSE REDAKSIE RESEPTE (deel 1)
Al ons gunsteling resepte het ons hier vir jou saamgevat. Bon Appétit!MAAK JOU BADKAMER MOOI
'n Badkamer moet kalmerend, ontspannend en rustig wees. Dit is oor die algemeen 'n praktiese plek.'N MANLIKE HUIS
... Ja, dit kan werk!WARM KLEURE IN JOU HUIS ...
...vir 'n snoesige winter!ROOI, ROOI, ROOI
Hoe rooier hoe mooier ...SKEP 'N HOLTE VIR JOU VOET
... met 'n huis vol karakterPERS VIR DIE PASE
Stylvolle feestafelGEBRUIK KLEIN RUIMTES SLIM
Jou dekor kan jou helpTERUG SKOOL TOE ...
Raad om die week te oorleefMOOI MET HERINNERINGE
Hoogmode oudtydse dekor


.jpg)




.jpg)

















