FINESSE REDAKSIE RESEPTE (deel 2)
Ons het gaan uitvind wat die FINESSE redaksie en Carpe Diem Media-span se monde laat water.
2012-01-13
Ons het gaan uitvind wat die FINESSE redaksie en Carpe Diem Media-span se monde laat water.
2012-01-13
Gerinda Jooste is ons eie “master chef” en adjunkredakteur van FINESSE. Kosmaak is een van haar groot passies en beveel hierdie resep elke keer aan. “Met hierdie outjie kan jy net nie verkeerd gaan nie, want oud en jonk is absoluut gaande daaroor.”

Volstruisburger met bloukaassous
Volstruisvleis is gesonder as rooivleis en het boonop ’n heerlike smaak. Dit is laag in vet en cholesterol. Dit kan dien as ’n alternatief vir die doodgewone burger.
Bestanddele:
500 g volstruismaalvleis
250 ml vars bruinbroodkrummels
1 eier, geklits
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, gekneus
sout en peper
45 ml vars pietersielie gekap
1-2 wiele fetakaas, gekrummel
Sous :
200 g bloukaas, gekrummel
125 ml room
sout en peper
broodrolletjies
slaaiblare
tamatie in skywe gesny
uie in ringe gesny
Metode:
1. Meng al die bestanddele vir die burger goed saam. Verdeel in ses gelyke dele en vorm burgers met jou hande. Bedek en plaas in die yskas vir ’n paar uur sodat dit ferm kan word.
2. Smelt die kaas en room saam oor lae hitte en roer aanhoudend totdat dit ’n gladde sous vorm. Geur met ’n bietjie sout en peper.
3. Braai die burgers tot gaar en bedien op die broodjies saam met die slaaiblare, tamatie, uie en sous.
Bedien 6
San-Mari Erasmus is in beheer voelgoed.co.za. “Ek is 24 jaar oud en ongetroud (die enigste een in die hele kantoor), so ek spandeer nie baie tyd voor die kospotte nie. Tog is ek mal oor lekker eet en gaan elke nou en dan uit my pad met ’n lekker dis. Hierdie fillet resep is ongelooflik lekker en ek is oortuig dat ek nog my man met hierdie resep gaan vang ...”

Aandete – Peperkors-beesfilet met perfekte skyfies
Filetskywe saam met aartappelskyfies is altyd ’n gunsteling. Daar is al baie navorsing gedoen oor die perfekte skyfie. Kenners en liefhebbers van die skyfie het verskillende metodes uitgetoets en uiteindelik is die perfekte metode ontdek. Die eerste geheim is om groot, melerige aartappels te gebruik. Al die skyfies moet in dieselfde lengte en dikte gesny word sodat alles gelyktydig gaar word. Die tweede geheim is om dit vir ’n paar minute in water te laat lê en dan twee keer in olie te braai sodat die perfekte “bros buite en sag binne”-tekstuur verkry kan word.
Bestanddele:
1 kg heel beesfilet
60 ml olyfolie
100 ml peperkorrels, fyngemaal (maak dit fyn in ’n koffiemeul of voedselverwerker)
10 groot aartappels, geskil en gesny in skyfies van 1 cm dik.
olie vir diepbraai
Metode:
1. Plaas die aartappelskyfies in ’n bak met water vir 15 minute. Dreineer en droog goed af. Verhit die olie in ’n pot tot matig warm. Moenie dat dit kook nie. Braai die skyfies in die olie vir 5 minute tot sag, maar nie bruin nie. Verwyder met ’n gaatjieslepel, laat dreineer op kombuispapier en heeltemal afkoel tot koud.
2. Verhit die oond tot 200 °C en bedek ’n bakplaat met foelie.
3. Verhit weer die olie tot baie warm. Braai die skyfies tot goudbruin en bros en besprinkel met sout sodra dit uit die olie kom.
4. Bedruip die filet met olie. Gooi die peperkorrels op ’n skoon oppervlakte en rol die filet in die peper tot dit heeltemal bedek en swart is. Bak in die oond vir 20 minute of langer na smaak. Bedien dadelik saam met skyfies en slaai en geur met sout soos verkies.
Bedien 6
Lynette Botha, administratiewe assistent by Carpe Diem Media is baie lief vir pasta. “Ek sal selfs pasta vir ontbyt eet as ek kon. Hierdie vinnige pasta is baie lekker vir ’n hoofgereg of bykos. Dit is ook lekker vir die kosblik by die werk.”

Vinnige pasta
Jy kan enige geur roomkaas of vetvrye gladde maaskaas gebruik. Groente soos aspersies, murgpampoentjies, wortels en kersietamaties kan bygevoeg word.
Betsanddele:
250 g spek, in klein blokkies gekap
100 g broccoli, in kleiner stukkies gebreek
100 g babamielies, gehalveer
100 g suikerboontjies
500 g pasta van jou keuse
1 houer Simonsberg suurlemoen en swartpeper roomkaas
Metode:
Braai die spek in ’n pan tot gaar en bros en hou eenkant. Stoom die groente in kookwater gaar tot krakerig. Kook die pasta in water. Gooi die water af sodra dit gaar is en roer die roomkaas dadelik deur terwyl die pasta nog baie warm is. Voeg die res van die groente en die spek by en meng goed. Sit dadelik voor met ekstra fetakaas bo-oor gesprinkel.
Bedien 6
Erika Swanepoel is Carpe Diem Media se verkoopskonsultant. “Daar is niks so lekker soos ’n aartappelgereg nie (en nee ek praat nou nie van iets uit ’n pakkie nie). Hierdie resep is reg uit ouma se kombuis en werk heerlik saam met ’n vleisie op die vuur.”

Gebakte aartappelgereg
Bestanddele:
1 kg baba aartappels, gehalveer
1 ui in kwarte gesny
250 ml room
125 ml suurroom
2 wiele fetakaas, gekrummel
sout en peper
paar takkies vars tiemie
Metode:
1. Verhit die oond tot 180°C. Kook die aartappels vir 10 minute. Skep die aartappels en ui saam in ’n oondvaste bak.
2. Meng die room en suurroom en gooi oor die aartappels.
3. Krummel die fetakaas oor en geur goed met sout en peper en tiemietakkies.
4. Bak in die oond vir 45-55 minute totdat die aartappels gaar is en die room bruin verkleur het.
Bedien 6
Annelize Thomas, digitale media assistent. “Ek en my man hou baie van pasta en seekos. Hierdie resep is lekker want dit is “the best of both worlds”. Dit is nie ’n vinnige resep nie, maar dit is uit-en-uit die moeite werd.”

Seekospasta
Bestanddele:
40 g botter
15 ml olyfolie
1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, gekap
300 ml room
5 ml mielieblom
50 ml witwyn
5 ml suurlemoensap
sout en swartpeper
15 ml Italiaanse pietersielie
100 g gerookte salm, in repe gesny
100 g mossels, gaar gestoom
100 g garnale, skoongemaak en gaar gestoom
1 x 500 g pak tagliatelle pasta
Parmesaankaas
Metode:
• Verhit die botter en olyfolie saam in ’n groot kastrol.
• Soteer die ui vir vyf minute en voeg dan die knoffel by en soteer vir nog twee minute.
• Voeg die room by en verdik dadelik met 5 ml mielieblom aangemaak met ’n bietjie koue water.
• Kook die sous vir twee minute sodat dit kan verdik.
• Voeg die witwyn en suurlemoensap by en geur met sout en swartpeper.
• Voeg die pietersielie en gerookte salm by.
• Voeg die gaar mossels en garnale by en kook vir twee minute.
• Kook die pasta volgens die aanwysings op die pakkie en dreineer.
• Giet die sous oor die gaar pasta en meng.
• Garneer met pietersielieblare en gerasperde parmesaankaas.
Wenk: Bedien saam met ’n vars groen slaai met slaaiblare, tamatie en roketblare wat met olyfolie, suurlemoen en sout en swartpeper gegeur is.
Danelle van Aswegen, digitale inhoud bestuurder hou van enige vleisgeregte. “Hierdie varkrol resep is een van my gunsteling omdat dit ’n heerlik soet-sout kombinasie het. Hierdie is die perfekte dis vir spesiale geleenthede en natuurlik kersdag.”

Varkrol gevul met appelkose
Bestandele:
900 g varkrib ontbeen (vra jou slagter om dit te doen)
3 snye witbrood (dagoud), sonder korsies
60 ml stingelui
40 ml platblaar-pietersielie, gekap
growwesout en gemaalde swartpeper
40 ml botter
100 g gedroogde appelkose (sag), gesnipper
15 ml olie
15 ml botter
250 ml biefaftreksel
15 ml mielieblom met 30 ml koue water gemeng
kombuistou – 6 x 25 cm-stukkies
Metode:
Verhit die oond tot 190 ˚C.
• Sny die brood in 1 cm-blokkies. Sit op ’n bakplaat en in die oond vir 5 minute. Plaas in mengbak.
• Sny stingelui in 5 mm-skyfies en braai in botter tot sag. Voeg die appelkose by.
• Haal van die hitte af. Voeg die brood, pietersielie, sout en peper by.
• Vee die oop varkrol droog met kombuispapier. Strooi sout en peper oor. Plaas die vulsel in die middel. Rol styf op en bind met kombuistou vas.
• Geur die buitekant van die rol ook met sout en swartpeper.
• Verhit die botter en olie tot baie warm in ’n kastrol en braai die rol tot goudbruin reg rondom.
• Sit in ’n oondkastrol en gooi die aftreksel oor. Plaas in die voorverhitte oond vir 1 uur. Bedruip met die pansappe en laat vir nog ’n halfuur in die oond.
• Haal die vleis uit die oond en plaas op ’n snybord. Laat rus vir 15 minute.
• Voeg die mielieblom by die pansappe in die oondkastrol en roer op stoofplaat tot die sous verdik. Haal die tou af en sny die vleis in skywe. Bedien met sous.
Genoeg vir 6 persone
Suzan Laubscher is die konseptualiseerder en brein agter al ons goeie idees. “My ouers is boere en my man, Kobus, se ouers het ’n spysenering besigheid. Gevolglik is ek liewer vir tuinmaak en my man liewer vir kook. My ma-hulle bring elke nou-en-dan ’n lekker plaashoender hier aan en dis hoe ons besluit het om dié resep uit te toets.

Oosterse geroosterde hoender
Bestandele:
1 groot heel hoender, afgespoel en afgedroog
Vulsel
1 stokkie sitroengras, geskil, in stukkies gesny en gekneus
2 suurlemoene, in kwarte gesny
10 cm gemmerwortel, geskil en in stukkies gesny
2 knoffelhuisies, geskil en gehalveer
30 ml vars koljander blare, gekap
Marinade:
30 ml olie
30 ml botter, gesmelt
skil van een suurlemoen
45 ml suurlemoensap
60 ml sojasous
30 ml heuning
15 ml asyn
15 ml vars gerasperde gemmer
1 knoffelhuisie, fyngedruk
30 ml vars koljander, fyngekap
500 g baba-aartappels
1 botterskorsie in skywe gesny
200 g groenbone
Metode:
Plaas die hoender in ’n plastiek- of glasbak. Meng die sitroengras, suurlemoene, gemmerstukkies, knoffel en koljander. Stop die hoender met die mengsel. Druk nog ekstra suurlemoene in indien daar nog spasie in die holte is. Meng die bestanddele vir die marinade saam. Gooi dit oor die hoender, bedek en laat dit marineer vir ’n paar uur, selfs oornag. Hou ’n bietjie marinade om oor te gooi as dit bak. Verhit die oond tot 170 °C. Plaas die hoender en groente saam in ’n oondbak. Gooi die res van die marinade oor die hoender en groente en bak in die oond vir ’n uur of langer totdat die hoender bruin en gaar is.
Margaret Lottering is ontvangsdame by Carpe Diem en hanteer ook die Boekwinkel. “Ek hou van avontuur en doen graag goed wat die adrenalien so bietjie laat pomp. Daar is niks lekkerder as ’n bakkie melkkos vir ‘n Sondagaand happie nie, veral in die winter as die hele gesin om die verwarmer bondel.”

Melkkos met pruime in port gekaramelliseer
Bestandele:
• 50 g botter
• 80 g koekmeel, gesif
• knippie sout
• 1 liter volroommelk
• kaneelsuiker vir bediening
• 4 pruime, gehalveer en pitte verwyder
• 30 ml bruinsuiker
• 100 ml port
• 4 steranyssade
• 3 pimentokorrels
Metode:
1. Plaas die botter, koekmeel en sout in ’n mengbak en vryf die botter met die vingerpunte in die meel totdat die mengsel soos fyn krummels lyk.
2. Verhit die melk in ’n groot kastrol en roer die meelkrummels by. Verhit die melk tot net bo kookpunt en roer aanhoudend. Die mengsel sal na sowat 8 minute begin verdik. Verwyder van die hitte en hou eenkant tot benodig.
3. Verhit die pruime, bruinsuiker, port, steranys en pimento in ’n kastrol. Kook oor middelmatige hitte tot die suiker smelt en ’n gekaramelliseerde sous vorm.
4. Bedien die melkkos in bakkies met kaneelsuiker en die Port pruime.
Bedien 6-8
Chrisna Human se werk by FINESSE is om die intekenare gelukkig te hou. Ek is mal oor sjokolade en dié truffles is ’n wenner! (My man sê ook so). Die kans dat hierdie resep sal flop is baie skraal so probeer dit gerus. Geniet dit.”

Tuisgemaakte sjokoladetruffels
Bestandele:
• 200 ml vars room
• 60 g botter
• 250 g goeie donker sjokolade, opgebreek
• 40 ml likeur van jou keuse (opsioneel)
• 150 g kakaopoeier, gesif
Metode:
1. Plaas room en botter in ’n mediumgroot kastrol en verhit tot net onder kookpunt.
2. Voeg die sjokolade by en roer tot dit gesmelt is. Hou aan roer tot die mengsel glad word. Roer die likeur by.
3. Plaas die mengsel oornag in die yskas.
4. Haal die mengsel uit die yskas wanneer dit koud en geset is. Skep klein teelepels vol in jou hande en rol in balletjies.
5. Rol die balletjies in kakaopoeier.
6. Hou in die yskas tot bediening.
7. Bedien saam met koffie en likeur.
8. Jy kan elke truffel ook mooi toedraai en as geskenkies aan gaste gee.
Maak omtrent 30 truffels
argief
FINESSE REDAKSIE RESEPTE (deel 1)
Al ons gunsteling resepte het ons hier vir jou saamgevat. Bon Appétit!MAAK JOU BADKAMER MOOI
'n Badkamer moet kalmerend, ontspannend en rustig wees. Dit is oor die algemeen 'n praktiese plek.'N MANLIKE HUIS
... Ja, dit kan werk!WARM KLEURE IN JOU HUIS ...
...vir 'n snoesige winter!ROOI, ROOI, ROOI
Hoe rooier hoe mooier ...SKEP 'N HOLTE VIR JOU VOET
... met 'n huis vol karakterPERS VIR DIE PASE
Stylvolle feestafelGEBRUIK KLEIN RUIMTES SLIM
Jou dekor kan jou helpTERUG SKOOL TOE ...
Raad om die week te oorleefMOOI MET HERINNERINGE
Hoogmode oudtydse dekor


.jpg)




.jpg)

















