FINESSE REDAKSIE RESEPTE (deel 1)
Al ons gunsteling resepte het ons hier vir jou saamgevat. Bon Appétit!
2012-01-13
Al ons gunsteling resepte het ons hier vir jou saamgevat. Bon Appétit!
2012-01-13
Venessa, handelsmerkdirekteur van FINESSE en Carpe Diem Media, is ma van ’n pragtige tweeling. “My werk hou my baie besig, so vir kosmaak is daar nie altyd baie tyd nie. Hierdie groenteslaai is lekker en vinnig om te maak en die kinders is ook mal daaroor.”

Groenteslaai met lemmetjie-en-rissie-sous
Bestanddele:
2 patats, geskrop en in blokkies gesny
1 halwe botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
30 ml olie
sout en peper
125 g spek, in klein blokkies gesny
30 ml olyfolie
sout en peper
rooi en geel soetrissie, in blokkies gesny
250 g kersietamaties, gehalveer
babaspinasieblare
vars koljanderblare vir garnering
Sous:
15 ml olyfolie
100 ml klappermelk
15 ml mayonnaise
15 ml soetrissiesous
1 rooi rissie, fyngekap, of brandrissiepasta (opsioneel)
15 ml witwynasyn
5 ml mosterdpoeier
5 ml fyn komyn
1 huisie knoffel, fyngedruk
sap en skil van 2 lemmetjies
30 ml vars koljander, fyngekap
sout en peper
Metode:
Verhit die oond tot 180°C. Plaas die patat en botterskorsie in ’n oondvaste bak, sprinkel olie oor en geur met sout en peper. Bak in die oond vir ongeveer 25-30 minute tot sag en gaar. Hou eenkant. Braai die spek tot gaar. Pak die spinasieblare in ’n groot bak en gooi gaar botterskorsie, patat en spek oor blare. Gooi tamaties en soetrissies oor. Meng al die bestanddele vir die sous saam en drup oor die slaai. Sit dadelik voor.
Bedien 6
Yolandi North is leefstylredakteur vir FINESSE wat mal is oor kos maak, maar het nie altyd baie tyd in die week om lang ingewikkelde resepte te maak nie. “Hierdie pasta is dus ’n heerlike opsie omdat mens dit warm of koud kan bedien. Dis ook baie lekker om die volgende dag in te pak werk toe. Ek is mal oor Mediterreense tipe geregte, en hierdie resep bevat al my gunsteling bestanddele – olywe, songedroogde tamaties, fetakaas, spek en roket!”

Pasta slaai met olywe, songedroogde tamaties en spek
Heerlik, bedien warm of koud as ’n ligte maaltyd of as ’n bykos vir ’n braai.
Bestanddele:
500 g strikkies “Bow ties” pasta
150 g calamata-olywe, gedreineer
200 g songedroogde tamaties in vloeistof, in stukkies gesny (behou vloeistof)
200 g fetakaas, in blokkies gesny
200 g bros gebraaide spek
15 ml korreltjie mosterd
50 ml olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper
2 handevol roketblare
Metode:
1. Kook pasta volgens aanwysings op pakkie.
2. Meng intussen olywe, songedroogde tamaties, fetakaas en spek saam.
3. Dreineer pasta en roer een eetlepel olyfolie daarin.
4. Voeg gaar pasta by olyf en songedroogde tamatie mengsel.
5. Maak ’n sous deur 50-100 ml vloeistof (van songedroogde tamaties) te meng met korreltjie mosterd en 50 ml olyfolie. Giet oor pasta mengsel en meng deur.
6. Geur met sout en swartpeper en garneer met vars roketblare.
Bedien 6
Annelize Opperman, FINESSE se skoonheid- en moderedakteur. Ek dink as ek nie vrouens aangetrek het vir ʼn lewe nie sou ‘kosstillis’ my hartsnare (of eerder my smaaksnare kon roer). Lasagne is een van my gunsteling pasta disse en hierdie resep is ’n wenner!

Pannekoeklasagne
Ons het beesmaalvleis vir die resep gebruik. Jy kan fyn hoender, tuna of varkmaalvleis gebruik. As jy weer pannekoek bak as dit reën, maak sommer ’n paar ekstra pannekoeke wat jy vir die resep kan gebruik.
Pannekoek:
500 ml meel
5 ml sout
5 ml bakpoeier
2 eiers
500 ml melk
15 ml olie
Vulsel:
30 ml olie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
125 g spek, in klein stukkies gesny
500 g beesmaalvleis
sout en peper
1 pakkie (50 g) tamatiepasta
1 blikkie (400 g) gekapte tamaties
5 ml suiker
15 ml blatjang
60 ml beesaftreksel
60 ml vars gekapte origanum of 30 ml droë origanum
125 ml kaas
250 ml room
Metode:
Sif die meel, sout en bakpoeier saam. Klits die eiers en melk saam, voeg by die meel en meng goed. Verhit ’n bietjie olie in ’n pan en bak pannekoeke. Lewer 12 pannekoeke. Hou eenkant. Verhit olie in ’n kastrol en braai die ui en knoffel tot sag en geurig. Voeg die spek by en braai tot gaar. Voeg die maalvleis by, geur goed met sout en peper, en braai tot bruin en gaar. Voeg die tamatiepasta, gekapte tamaties, suiker, blatjang en beesaftreksel by. Bring tot kookpunt en laat prut vir 20 – 30 minute. Geur goed met sout, peper en origanum. Laat die maalvleis afkoel. Vul elke pannekoek met maalvleis en rol op. Pak styf langs mekaar in ’n oondvaste bak. Strooi die kaas oor, bedek goed met kleefplastiek en vries. Laat die gereg ontdooi voor gebruik. Verhit die oond tot 180°C. Gooi die room oor en bak in die oond vir 30 minute. Bedien saam met vars slaai.
Bedien 8
Melani de Swart is Carpe Diem Media se finansiële assistent wat sorg dat al die geldsake vlot verloop. “Ek is mal oor hierdie resep omdat dit maklik is om te maak en is absoluut watertand lekker. Elke nou en dan het mens bietjie bederf nodig en díé kaaskoekresep is net die regte ding daarvoor. Dit werk ook heerlik om daardie spesiale mense in jou lewe kosbaar te laat voel.”

Mini gebakte kaaskoek
Hier is ’n maklike kaaskoekresep wat meer in die vorm van ’n tert is. Dit kan bedien word as nagereg saam met vars bessies of as koek saam met tee.
Bedien 6-8
Bestanddele:
1 x 200 g pakkie growwebeskuitjies
100 g botter, gesmelt
15 ml bruin suiker
2 x 250 g houers gladde roomkaas
sap en skil van 1 suurlemoen
5 ml vanieljegeursel
3 eiers
180 g strooisuiker
30 ml koekmeel
vars aarbeie vir versiering
15 ml versiersuiker om bo-oor te sif
Metode:
1. Maak die beskuitjies fyn in ’n voedselverwerker en voeg die botter en bruinsuiker by. Meng goed.
2. Druk die kors vas in die bodem van ’n 30 cm springvorm koekpan.
3. Voorverhit die oond op 200 tot ºC.
4. Meng die roomkaas, suurlemoensap en skil en vanieljegeursel saam.
5. Klits die eiers en suiker saam tot liggeel en roer in die kaasmengsel in.
6. Vou die meel bietjie vir bietjie by die beslag.
7. Giet die beslag in die koekpan bo-oor die kors en bak vir sowat 30-40 minute of totdat die koek ligbruin verkleur.
8. Laat afkoel en sny in skywe.
9. Bedien met vars aarbeie en sif versiersuiker bo-oor vir versiering.
Nandi Smit. “Ek is 23, pas getroud en het onlangs begin werk as n grafiese ontwerper by FINESSE. Ek is mal oor soetgoed en hierdie koekies is heerlik saam met koffie en tee of sommer net vir ’n middag happie. Ek hou ook daarvan dat jy jou eie lekkernye kan byvoeg om dit verskillende te laat proe elke keer.

Skatkiskoekies
Hierdie koekies word so genoem met ’n rede. Jy kan lekkernye byvoeg om dit interessant te maak: minder of meer sjokolade, neute of Smarties.
Bestanddele:
250 g sagte botter
2 eiers, geklits
60 ml karringmelk (maak self deur 10 ml suurlemoensap of asyn by 60 ml melk te gooi)
5 ml vanieljegeursel
250 ml bruinsuiker
500 ml meel
250 ml hawermout
5 ml koeksoda
5 ml fyn kaneel
5 ml fyn naeltjies (opsioneel)
Lekkergoed:
2 x 100 g sjokoladeplakke, een melk en een donker, of Top Deck
250 ml gekapte neute (ek het okkerneute, haselneute en amandels gebruik)
1 x 100 g-pakkie Smarties
Metode:
Klits die botter sag, voeg die eiers, karringmelk en geursel by en meng. Voeg die suiker, meel, hawermout, koeksoda, kaneel en naeltjies by en meng goed. Voeg al die lekkergoed by en meng goed tot alles eweredig versprei is. Dit sal moeilik roer en ’n redelik stywe deeg wees. Verhit die oond tot 180 °C en berei ’n bakplaat voor met kleefwerende kossproei en bakpapier. Skep groot lepels vol ver uit mekaar op die bakplaat en bak vir 20-25 minute. Laat die koekies goed op ’n draadrak afkoel tot stewig en bros. Verpak in ’n lugdigte houer.
Lewer 12 groot koekies
Amanda Siemens hanteer die intekenare van FINESSE en is baie lief vir pannekoek gevul met enigiets sout of soet. “Geen verskoning word gemaak as dit by pannekoek kom nie. Ek is ’n ma van drie, almal uit die skool en besig met hulle eie loopbane. Dít los my om weer as ma myself te vind.

Pannekoek met salm en avokado
Bestanddele:
100 g koekmeel
1 knippie sout
2 groot eiers
300 ml vetvrye melk
30 ml sonneblomolie
250 g crème fraîche
60 ml vars dille, gekap
1 suurlemoen (slegs sap)
200 g gerookte salm, in repe gesny
3 avokado’s, in skywe gesny
2 suurlemoene, in wiggies gesny
growwesout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Metode:
• Sif die koekmeel en sout in ’n groot mengbak. Maak ’n holte in die middel.
• Meng die eiers, olie en helfte van die melk en gooi in die holte.
• Klits tot ’n egalige mengsel.
• Voeg die res van die melk by en klits tot die deeg ’n romerige tekstuur het.
• Bedek met kleefplastiek en laat 20 minute rus (dit kan ook die vorige aand gemaak word).
• Maak ʼn sous van die crème fraîche, gekapte dille en suurlemoensap.
• Bak die pannekoeke oor medium hitte in ’n gesmeerde pan.
• Plaas elke pannekoek op ’n bord en rangskik salm en avokado op een helfte. Drup sous oor. Voeg sout en peper na smaak by.
• Vou die ander helfte oor en bedien met ’n suurlemoenskyfie.
Genoeg vir 6 persone
Nikita Strydom “Ek is redaksionele assistent hier by FINESSE en my “moto” is “chocolate is a girl’s best friend!” Ek het twee dogtertjies wat net so lief is vir soetgoed. Hierdie sjokolade mousse is heerlik vir na daardie groot familie etes of sommer net saam met die gesin vir ’n lekkerny.”

Sjokolademousse
Bestanddele:
200 g donkersjokolade, in blokkies
30 g botter
4 eiergele, geklits
250 ml room
4 eierwitte
15 ml brandewyn
Metode:
- Plaas die sjokoladestukkies in ’n dubbelkoker en smelt oor lae hitte, roer gereeld.
- Roer die botter by.
- Verwyder van hitte en laat effens afkoel.
- Roer geklitste eiergele by.
- Klits room styf en vou by sjokolademengsel in.
- Klits die eierwitte tot styf en vou by sjokolademengsel in, voeg nou die brandewyn by.
- Skep in mooi glase.
- Bedek met kleefplastiek en verkoel in die yskas om te stol.
Versier met gesmelte wit sjokolade, donker sjokoladekrulle of ’n sjokoladewafelbeskuitjie.
8 porsies
Elsabé Botha, bemarker vir Carpe Diem Media en FINESSE, hou net so baie van sjokolademousse. “Ek is oor die algemeen ’n groot soettand, sjokolis. Dié resep is my gunsteling en is werklik blitsig om te maak. Interessante feit vir die dag: Hitte laat dinge uitsit. So daar het jy dit, ek’s nie vet nie – ek’s net HOT!”

Blitsige sjokolademousse
Hierdie is beslis die maklikste en lekkerste sjokolademousse ooit!
Bestanddele:
200 g wit malvalekkers, gesnipper
50 g ongesoute botter
250 g donker sjokolade, in kleiner blokkies gebreek
30 ml kitskoffiepoeier, opgelos in 60 ml kookwater
250 ml room, styfgeklits
vars bessies vir opdiening (opsioneel)
Metode:
1. Plaas die malvalekkers, botter, sjokolade en koffie in ’n kastrol. Smelt dit oor baie lae hitte terwyl dit heeltyd geroer word totdat alles opgelos is en ’n gladde, blink mengsel vorm.
2. Maak seker dat alles goed gemeng en glad is, verwyder van die hitte en laat afkoel.
3. Vou die room versigtig in en meng goed. Skep in glase of klein bakkies en verkoel in die yskas.
4. Bedien saam met vars bessies van jou keuse.
Bedien 6
Bemarkings koördineerder, Annemie Raath is beheer van al die groot projekte soos die voelgoed ekspo, bootreis en vele meer. “As ’n mamma van 2 wonderlike dogtertjies, 5 en 8 jaar oud, is my gunsteling resep dié Bessie Tertjies. Dit is ietsie lekkers en vinnig om te maak saam my twee prinsesse en dan kan ons heerlik ons eie tee partytjie hou.”

Bessietertjies
Hierdie resep kan met enige vars bessies gemaak word wat beskikbaar is. Aarbeie en bloubessies werk goed. As jy sukkel om vars bessies te kry, kan jy gevriesde bessies gebruik wat ontdooi is.
Bestanddele:
1 rol broskors (kyk by die gevriesde afdeling in supermark)
125 ml bessiekonfyt
200 ml vars bessies
2 eierwitte
190 ml strooisuiker
200 ml klapper
Metode:
Verhit die oond en sproei ’n muffinpan met kleefwerende kossproei. Rol die deeg uit en voer muffinpannetjies daarmee uit. Laat dit ’n rapsie oorhang oor die kante. Blindbak dit vir 10 minute tot effens bros en laat afkoel. Vul elke doppie met 10 ml konfyt en pak bessies bo-op. Klits die eierwitte styf, voeg die strooisuiker geleidelik by en meng goed tot glad en blink. Vou die klapper by en skep ’n lepel bo-op elke tertjie wat met bessies gevul is. Bak in die oond vir 15 minute tot goudbruin en bros. Bedien saam met tee.
Lewer 12 tertjies
Karen Canale is die uitlegkunstenaar van FINESSE en is mal oor piekniek hou. “Ek en my man is mal daaroor om buite te wees en gaan hou gereeld piekniek. Hierdie Baquette is een van ons gunstelinge vir die piekniekmandjie.”

Piekniek-baguette
Gebruik hierdie resep slegs as ’n riglyn. Kombineer jou gunsteling koue vleis en slaaibestanddele en bou ’n baguette wat almal kan deel.
Bestanddele:
2 lang baguettes (Franse brood)
botter of margarien
2 x 125 g dun gesnyde ham
150 g snye edamkaas
100 g kersietamaties, gehalveer
mengsel van babaspinasie en slaaiblare
heelkorrelmosterd
Metode:
1. Sny die baguettes oop en smeer met botter of margarien.
2. Pak die baguettes vol met ham, kaas, tamaties en blare.
3. Bedruip met heelkorrelmosterd.
4. Draai die brood in waspapier toe en sny in kleiner stukke as jy by jou piekniek kom.
Bedien 6
Pauline Branard is FINESSE se fotoredakteur is mal oor mooi dinge. “Hierdie gereg is nie net lekker nie, maar ook lekker om na te kyk. Dit is nie moeilik om voor te berei nie en is altyd ’n treffer onder my familie.”
Risotto met spek, botterskorsie en fetakaas
Bestanddele:
½ botterskorsie, geskil en pitte verwyder en in 2 cm-blokkies gesny
45 ml botter
1 ui gekap
2 knoffelhuisies, gekap
125 g spek, in stukkies gesny
250 ml risotto-rys
250 ml droë witwyn
1 liter hoenderaftreksel
sout en swartpeper na smaak
30 ml salieblare, gekap
2 wiele fetakaas, gekrummel
Metode:
1. Voorverhit die oond tot 200ºC. Plaas die botterskorsieblokkies in ’n oondbak en rooster vir 20 minute tot sag.
2. Verhit die botter in ’n groot kastrol en braai die ui en knoffel tot sag. Voeg die spek by en braai tot gaar en bros.
3. Voeg die risotto-rys by en roer sodat dit goed bedek is met botter.
4. Voeg die wyn by en laat prut tot die wyn amper weggekook is.
5. Voeg daarna ’n bietjie aftreksel by totdat dit alles geabsorbeer is. Voeg die aftreksel koppie vir koppie by en maak seker dat dit weggekook is voordat die volgende koppie bygevoeg word. Hou aan vir sowat 20-30 minute totdat die risotto gaar en romerig is.
6. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.
7. Roer die botterskorsie, fetakaas en salie by. Sprinkel ekstra fetakaas en salie bo-oor voor bediening en bedien warm.
Bedien 6
argief
FINESSE REDAKSIE RESEPTE (deel 1)
Al ons gunsteling resepte het ons hier vir jou saamgevat. Bon Appétit!MAAK JOU BADKAMER MOOI
'n Badkamer moet kalmerend, ontspannend en rustig wees. Dit is oor die algemeen 'n praktiese plek.'N MANLIKE HUIS
... Ja, dit kan werk!WARM KLEURE IN JOU HUIS ...
...vir 'n snoesige winter!ROOI, ROOI, ROOI
Hoe rooier hoe mooier ...SKEP 'N HOLTE VIR JOU VOET
... met 'n huis vol karakterPERS VIR DIE PASE
Stylvolle feestafelGEBRUIK KLEIN RUIMTES SLIM
Jou dekor kan jou helpTERUG SKOOL TOE ...
Raad om die week te oorleefMOOI MET HERINNERINGE
Hoogmode oudtydse dekor


.jpg)




.jpg)

















