42 SKEP ORDE VINNIG, MAKLIK jou huis Articles www.voelgoed.co.za

SKEP ORDE VINNIG, MAKLIK

SKEP ORDE VINNIG, MAKLIK

Het jy te min tyd?

2010-04-07

Ons wys jou hoe om orde in jou huis te skep met 15 maklike wenke!

WENK 1 GOOI DIT UIT


As jou huis oorvol is en jy nie meer plek oor het om iets te stoor nie, moet jy dit ernstig oorweeg om sekere items weg te gooi of weg te gee. As jy iets nuut aanskaf, moenie al die ou items in jou garage of pakkamer pak nie. Skenk dit eerder vir liefdadigheid.

WENK 2 DINK BINNE DIE BOKS

Koop houers waarin jy oortollige items kan plaas. Dit is veral handig om kratte vir jou kinders te koop waarin hulle byvoorbeeld speelgoed kan pak.

WENK 3 MAAK 'N MOLSHOOP VAN 'N BERG


Die meeste van ons kry gedurig gemorspos. Hierdie gemorspos kan vinnig in 'n berg papiere verander, so moenie toelaat dat dit ophoop nie. Lees dit onmiddellik en gooi dit dan in die asblik.

WENK 4 HOU DIT BYMEKAAR

Belangrike pos kan net so 'n kopseer soos gemorspos wees. Plaas rekeninge naby jou sodat jy dit nie uit die oog verloor en vergeet om dit te betaal nie. Hou ander belangrike pos soos uitnodigings bymekaar sodat jy daarvan onthou.

WENK 5 MOOI SONDER MOEITE

As jy versamelaars-items het wat jy graag in jou huis wil uitstal, plaas dit in 'n vertoonklas van glas. As dit op 'n gewone tafel of kas staan gaan dit vinnig stof vergader en veroorsaak dat jy meer tyd daaraan spandeer om dit af te stof as om dit te bewonder!

WENK 6 GAAN GROOT

Indien jy nog nie al die meubels gekoop het wat jy nodig het vir jou huis nie, of as jy van ou meubels ontslae wil raak en nuwe meubels wil koop, oorweeg dit om 'n paar groter stukke te koop eerder as 'n versameling kleintjies. Dit sal op die oog af lyk asof jou huis heelwat spasie het.

WENK 7 VOLKOME VOORBEREID


As jy sekere items nodig het wanneer jy uitgaan, sorg dat dit betyds by die voordeur is sodat jy nie daarna hoef te soek nie. Voorbeelde hiervan is klere wat na die droogskoonmaker toe moet gaan, winkel-items wat omgeruil moet word en items wat reggemaak moet word.

WENK 8 GOEDKOOP KOOP IS DUUR KOOP

Moenie in die versoeking kom om gedurig iets by 'n uitverkoping te koop nie. Vra jouself of jy dit regtig nodig het, want die kans is goed dat dit jou huis net nóg voller gaan maak.

WENK 9 SKEP HERINNERINGE

Neem ander mense se huise ook in ag wanneer jy vir hulle geskenke aanskaf. Moenie iets koop wat waarskynlik net 'n wit olifant gaan wees nie. In plaas daarvan om 'n geskenk te gee kan jy hulle uitneem vir ete, 'n fliek of 'n teaterstuk.

WENK 10 OOS, WES, TUIS BES

Maak seker dat alles in jou huis 'n spesifieke "tuiste" het en sorg dat almal wat in die huis woon daarvan weet en daarby hou. As 'n mens 'n item altyd op dieselfde plek bêre, sal dit nie maklik wegraak nie.

WENK 11 GERAAMTES IN DIE (KLERE)KAS


Maak jou klerekas oop en wees eerlik met jouself: dra jy alles en hou jy van alles daarin? Dit help nie om kaste vol klere te hê wat nie gebruik word nie. Gee dit eerder vir iemand wat dit wel sal dra.

WENK 12 HAAL DIE CHAOS UIT WASDAG

Wasgoed wat ophoop kan vinnig 'n kopseer word. Sorg dat elke gesinslid weet presies wanneer jy wasgoed was sodat hulle sorg dat al hulle wasgoed betyds by jou is. As dit klaar gewas is, kan elke gesinslid hulle eie klere self gaan haal en wegbêre.

WENK 13 SKOTTELGOED SONDER SUKKEL


Die sleutel tot 'n skoon kombuis is om nie skottelgoed te laat ophoop nie. Was dit so gou as moontlik of gebruik 'n skottelgoedwasser. Gesinslede kan beurte maak om skottelgoed te was.

WENK 14 WAT GELD VIR DIE HUIS, GELD VIR DIE RES

Moenie net aandag daaraan skenk om jou huis te orden nie, maar pas ook hierdie wenke op jou garage, pakkamer en tuinskuur toe. 'n Mens is geneig om te vergeet van daardie areas omdat jy nie soveel tyd daar spandeer nie.

WENK 15 ONTHOU OM TE ONTHOU


Hou aan om hierdie wenke te volg. Dit moet 'n permanente ingesteldheid word. Om elke dag tien minute te spandeer om seker te maak dat alles op hulle plek is, gaan jou ure se moeite op 'n latere stadium spaar.

Bron: www.selfgrowth.com

Kommentaar
  • DANKIE!!! Mens weet al die dinge, maar het nou en dan net so ligte skoppie onder die stert nodig om dit te onthou.....LindaR
  • Dankie, dit help......veral die klere gedeelte en opgaar van goedjies wat nooit gebruik word nie! NN
  • Dankie vir die nuttige wenke. Dis net jammer dat dit gewoonlik net mamma weet waar alles se plek is in die huis en hul weer daar terugplaas na elke gebruik. Ek is ook 'n "sucker" vir uitverkopings en is baie skuldig oor die onnodige kopies so hier en daar. OB
  • Ek hou nog altyd my maer klere vir eendag as dit my weer sal pas. Dankie vir die artikel, ek sal alles uitgooi. Sal seker nooit weer daarin pas nie. MB
  • Dankie vir die wenke, ek dink ons moetb net almal gedissiplineerd genoeg raak om hierbyb te bly, dan sal dit vir almal baie makliker wees. MW
  • Beslis 'n wenner artikel. Sal al die raad maklik en eenvoudig kan volg sonder moeite. Dankie vir die puik raad!!!
  • Nuttige wenke dankie, so hupsootjie oor die doene en nie doene ha,ha,ha

gesels saam


argief