JOU SOETSTE DROME
Is jy skrikkerig om 'n entrepreneur te word? Leer gerus by Megan Blankendaal, eienaar van Cupcake in Stellenbosch.
2009-04-09Liesl de Vos
Is jy skrikkerig om 'n entrepreneur te word? Leer gerus by Megan Blankendaal, eienaar van Cupcake in Stellenbosch.
2009-04-09Liesl de Vos
Die storie...
Megan vertel dat sy van kleins af 'n entrepreneur was. "Ek het gedurig planne uitgedink om geld mee te maak: uitloting, kar was, skottelgoed was en om my pa te laat betaal elke keer as hy 'n vloekwoord gebruik!" Gedurende haar hoërskoolloopbaan het sy ook in haar pa se restaurant gewerk en haar eie "dream-catcher"-besigheid gehad.
Maar hoe het sy in die kolwyntjiebedryf beland? "Ek het oorspronklik koekies vir deli's gebak. Toe ek my man ontmoet, het hy my die idee gegee om 'n besigheid te begin wat kinderpartytjies reël," vertel sy. Hulle idee van heilsame koekies (gemaak met egte botter, plaaseiers en natuurlike vanielje) het oorgespoel na die partytjies. Hierdie partytjiebesigheid, wat nie meer bestaan nie as gevolg van haar drukprogram nie, se naam was Cupcake, vandaar die besluit om kolwyntjies te begin bak.
"Hierna wou ek 'n inspirerende, oorspronklike geskenkwinkel vir kinders begin, vol herinneringe wat ouers en grootouers aan hulle kinders kan oordra en met mooi goedjies waarmee ma haarself kan bederf," sê sy. "En natuurlik moes ons kolwyntjies bedien, saam met koffie en tee."
Cupcake is gebore. Megan onthou dat die opening daarvan vir haar skrikwekkend was. "Ek het gewonder of enigiemand gaan weet ek is daar en of hulle daarvan sal hou. Ek het ook gewonder of dít is wat ek wou gehad het." Maar sy was verniet bekommerd. "Ek is baie trots op dit wat ons hier bereik het. Dit is 'n droom wat waar geword het," vertel sy.
Die winkel is die tipe plek waar Megan haar hele dag wil spandeer. "Om by Cupcake te wees, is soos om tyd in jou ma se kombuis deur te bring. Dis eenvoudig, vars en heilsaam. Dis 'n geheime ontmoetingsplek vir vriende om op te vang," verduidelik sy. Dis ook hierdie "tuis" gevoel wat vir haar die beste deel daarvan is om haar eie winkel te hê. "Dit voel nie asof ek werk toe gaan nie!" Haar dogter, Olivia (9 maande), bring die helfte van haar dag by die winkel deur en dit is vir Megan baie spesiaal.
Sukses beteken vir haar om gemaklik te wees met haarself. "Dis om gelukkig met myself saam te leef, sonder om te voel dat ek meer moet wees as wat ek wil wees," verduidelik sy. "Dis belangrik om jou droom te volg. Dit verhoed enige kans op spyt. Die lewe is te kort om te wonder oor wat kon gewees het."
Megan se raad aan jong of opkomende entrepreneurs is om seker te maak dít wat jy aanpak is wat jy regtig wil doen. Sy voel ook jy moet altyd eerlik wees met jouself en getrou bly aan jouself. "Ek het nog altyd positief gebly en die rigting ingeslaan wat die lewe my gegee het. Tot dusver is ek nie teleurgestel nie! En ek kan nie wag om te sien wat die toekoms inhou nie."
Soete kolwyntjie-verleiding!
Natuurlik het ons gesorg dat Megan een van haar lekker kolwyntjie-resepte met ons deel. "Die geheim lê in die bestanddele. Goeie bestanddele maak goeie kos! Gebruik natuurlike vanielje, organiese eiers, egte botter en meel wat geen preserveermiddels bevat nie."
VANIELJE-KOLWYNTJIES
125 g bruismeel
125 g strooisuiker
125 g botter
2 eiers
1 teelepel vanielje-ekstrak
2-3 eetlepels melk
Meng bestanddele in 'n menger en voeg dan twee tot drie eetlepels melk by terwyl geroer word. Skep 'n eetlepel van die mengsel in elke kolwyntjiehouer en bak teen 180 °C vir 10-12 minute.
VERSIERSUIKER
Meng 3 koppies gesifte versiersuiker in klein hoeveelhede water tot verlangde dikte verkry word (moet redelik dik wees). Voeg klein hoeveelheid kleursel by. Smeer op kolwyntjie. Versier met lekkertjies, 'n suigstokkie of kleurstrooisel.
Vir meer inligting oor Cupcake, bel 021 886 6376 .
argief
FINESSE REDAKSIE RESEPTE (deel 1)
Al ons gunsteling resepte het ons hier vir jou saamgevat. Bon Appétit!MAAK JOU BADKAMER MOOI
'n Badkamer moet kalmerend, ontspannend en rustig wees. Dit is oor die algemeen 'n praktiese plek.'N MANLIKE HUIS
... Ja, dit kan werk!WARM KLEURE IN JOU HUIS ...
...vir 'n snoesige winter!ROOI, ROOI, ROOI
Hoe rooier hoe mooier ...SKEP 'N HOLTE VIR JOU VOET
... met 'n huis vol karakterPERS VIR DIE PASE
Stylvolle feestafelGEBRUIK KLEIN RUIMTES SLIM
Jou dekor kan jou helpTERUG SKOOL TOE ...
Raad om die week te oorleefMOOI MET HERINNERINGE
Hoogmode oudtydse dekor


.jpg)




.jpg)

















