42 ORGANIES = LEKKER! jou huis Articles www.voelgoed.co.za

ORGANIES = LEKKER!

ORGANIES = LEKKER!

Jy hoor deesdae gereeld van organiese kos, maar is dalk skrikkerig om dit self te probeer. 'n Paar bekendes wys jou hoe maklik (en lekker) organiese resepte kan wees!

2009-04-09Liesl de Vos

Chris chameleon

Die gewilde sanger Chris Chameleon se gunsteling "groen" resep is Libanees en word gemaak met koljander en spinasie uit sy eie kruie- en groentetuin.

SPINASIE MET RYS


1 eetlepel ekstra suiwer olyfolie
1 groot ui, fyngekap
6 takkies koljander, slegs blare en sagte stingels, gekap
675 g spinasie, harde stingels verwyder, gekap
200 g langkorrel witrys, verkieslik basmatie
½ teelepel gemaalde kaneel
¼ teelepel varsgemaalde swartpeper
½ teelepel "allspice"
1¼ teelepels sout (of na smaak)
•    Verhit die olie in ’n mediumgrootte dikboompan oor medium tot hoë hitte. Voeg die uie by en kook tot sag (ongeveer 2-3 minute) terwyl konstant geroer word.
•    Voeg die koljander by, verlaag die hitte tot medium en soteer deur vir ’n paar sekondes te roer.
•    Voeg die spinasie bietjie vir bietjie by.
•    Terwyl dit in grootte afneem, voeg die rys by, roer versigtig en geur met die kaneel, peper en "allspice".
•    Roer en voeg 200-250 ml water en die sout by.
•    Bring tot by kookpunt, verlaag die hitte tot laag, bedek en laat vir 10 minute prut (of tot die rys sag is).
•    Skakel die hitte af en los die bedekte pan vir 2 minute voor bedien word.
Bedien alleen of met joghurt.

Michelle Garforth-Venter

Die TV-aanbieder Michelle Garforth-Venter word as 'n "organiese ghoeroe" beskryf. Sy en haar man, Riaan, is besig om hulle huis so ekovriendelik as moontlik te maak.

Sy beskryf haar gunsteling resep as "fantasties" en geskik vir vegetariërs.

ORGANIESE GROENTE-GENOT

1 koppie ertjies
1 koppie gekapte boontjies
1 koppie gekerfte wortels
1 koppie blomkool
1 koppie broccoli
½ gekerfte Engelse komkommer
1 blaarslaai, gekerf
1 kopkool, gekerf
2 koppies kersietamaties
2 avokadopere, gekerf
1 koppie grasuie, gekap
1 koppie pitlose swart olywe
2 gekookte aartappels, in die skil
•    Stoom ertjies, boontjies, wortels, blomkool en broccoli liggies.
•    Laat afkoel. Meng blaarslaai, kopkool, tamaties, komkommer, avokadopere, grasuie en olywe met afgekoelde groente en aartappels.
•    Gooi jou gunsteling slaaisous oor die mengsel en geniet.
•    Dit kan as 'n slaai, hoofgereg of saam met salm (of ander vis van jou keuse) bedien word.

Louise Carver

Die sangeres Louise Carver hou van hierdie resep omdat dit eenvoudig, gesond en vullend is.

CASTIS-SLAAI

botterslaai
'n handvol varsgesnyde raket
komkommer
1 rooipeper, dun gesny
1 blik keker-ertjies
fetakaas
½ klein flessie kappertjies
peper
'n knippie sout
balsamiese asyn
olyfolie
•    Meng bestanddele en sprinkel fetakaas bo-oor.
•    Voeg balsamiese asyn en olyfolie laaste by.
•    Voeg altyd olyfolie eerste by (voor asyn) sodat die asyn iets het om aan vas te kleef.


Groen vingers en ziploc-sakkies

Verskeie internasionale bekendes verkies ook 'n organiese leefstyl. Die aktrise Gwyneth Paltrow is deur haar ma, wat sy as die "groenste" persoon in haar familie beskryf, geïnspireer. "As gevolg van my ma was en hergebruik ons Ziploc-sakkies. Ons is fanaties daaroor!" Haar gesin het die plastiekbottels in hulle huis heeltemal uitgeroei en stoor water in bottels met kurk- en glasproppe. Hulle gebruik ook organiese skottelgoedseep en skoonmaakmiddels. "Nadat ek kinders gehad het, het ek baie daarna begin oplet, want ek wou nie al daardie chemikalieë in die omtrek hê nie," sê sy.

Nog 'n aktrise, Nicole Kidman, probeer om 'n bietjie "groen" by haar lewe te voeg. Sy en haar man, die sanger Keith Urban, het 'n plaas in Tennessee waar sy met 'n organiese groentetuin begin het. "Dit is 'n pad wat ek nog nooit voorheen gevolg het nie. My ma was nog altyd lief vir tuinmaak. My suster ook. En nou volg ek ook die Kidman-vroue se stokperdjie!"

Bronne: www.ozolife.com; www.ecorazzi.com

Kommentaar
  • Waar kan mens Bokasji koop,wat gebruik word in die maak van kompos? wat is die prys.
    Waar kan mens in groot maat koringkiem koop en molasse.
  • kwl

gesels saam


argief