'N KANTOOR WAT JOU KREATIEF LAAT WERK
Alles is gereed en jy is reg om aan die werk te spring. Maar dit is asof iets in jou pad staan ...
2012-01-19
Alles is gereed en jy is reg om aan die werk te spring. Maar dit is asof iets in jou pad staan ...
2012-01-19
Al werk jy nie van 9 tot 5 nie en al is jou werkplek nie die tradisionele kantoor nie, die plek waar jy jou “geld” verdien moet jou inspireer.
Jy ken dalk die gevoel. Jy is in jou kantoor. Alles is gereed en jy is reg om aan die werk te spring. Maar dit is asof iets in jou pad staan; asof jou skeppende kant nie wil saamwerk nie. As jy sukkel om aan die werk te kom of as die muse wat jou inspireer net wegbly, is dit dalk nie net aan jou gebrekkige verbeelding toe teskryf nie. Jou kantoor of werkspasie, die plek waar jy as werkende vrou waarskynlik die meeste van jou tyd deurbring, kan ’n groot rol speel in jou produksievlakke en konsentrasie.
Iemand wat haar lewe bestee om kreatief te wees, is Theofista Ellis. Sy is ’n vennoot in ’n produksiemaatskappy wat glansgeleenthede aanbied. “Omdat dit ons werk is om regtig kreatief te wees, moet jou basis (jou kantoor) regtig vir jou werk. Ek is baie dankbaar en gelukkig dat ek van die huis af werk. Ons het glad nie ’n 9 tot 5 werkdag nie maar is eintlik 24 uur “aan diens”. Dit is ’n leefwyse en my werk ís my lewe, iets wat my baie gelukkig maak,” vertel Theofista.Hiermee stem André Moolman, verkoopsbestuurder van Hartmann & Keppler volkome saam. “Om optimaal te presteer, moet jy vir jou ’n inspirerende omgewing skep“.
Kleur
In ’n kantoor is helder kleure belangrik, maar ’n mens kan baie gou moeg raak daarvoor. Kies dus versigtig. Koop jou basiese toerusting in basiese kleure en helder dit op met aksentkleure. Jou mure moet ook in neutrale basiskleure geverf word sodat ’n rustige atmosfeer geskep word. Dit moet dien as die agtergrond waarteen die res van die kantoor moet goed lyk. Jou kantoormeubels is ’n langtermynbelegging waarmee jy dalk jare lank gaan saam leef. Mik vir iets elegant, tydloos en neutraal soos bruin leer. Dit maak die omgewing ook kalm.
Volgens André bly wit-en-swart-kombinasies wat met een ander kleur, byvoorbeeld ’n rooi bank, gekombineer word, steeds ’n veilige modekeuse.
Meubels
Koop die beste basiese items wat jy kan bekostig: ’n goeie lessenaar, stoele vir jouself en vir besoekers en ’n lamp. “Besluit of jou styl klassiek of kontemporêr gaan wees en koop dan iets wat nie net ’n staatmaker is in terme van jou werkbehoeftes nie, maar wat ook lank in die mode gaan bly,” sê André.
Jou stoel is ook baie belangrik. Wie kan werk met ’n seer nek en rug of as jy te laag of te hoog en sonder die regte ondersteuning moet sit. Die mat waarop jy besluit, kan die atmosfeer van die res van die kantoor bepaal.
Volgens Theofista is die posisie van meubelstukke vir haar belangrik. “Ek hou van ’n kantoor wat net die regte grootte is, nie te groot om weg te raak nie en nie te beknop nie. Ek hou ook daarvan dat my lessenaar met jou rug na ’n hoek staan sodat jy ’n oop uitsig voor jou het. Verkieslik ook ’n sofa en nie te veel losstaande stoele nie. Op die sofa kan jy soms net gaan lê en rus oor die dag of oor ’n volgende funksie waarvoor jy voorberei.”
Beligting
Die lig in die werksarea moet sag op die oog val, maar helder genoeg wees om goed te kan sien waarmee jy besig is. Buisligte is nie ’n goeie keuse nie. Dit is ongesellig en koud en nie goed vir jou oë nie. “Posisioneer jou lessenaar na gelang van die natuurlike lig tot jou beskikking. Maak seker jy kyk teen die lig, sodat dit nie van agter af in jou rekenaarskerm weerkaats nie. Plaas ook ’n goeie leeslamp wat 'n skerp lig gooi vir ’n spesifieke area.
Plante
Plante gee persoonlikheid aan ’n kantoor. Dit is nie net mooi nie, maar kan ook die gehalte van die lug in jou kantoor verbeter en kan 'n rol speel in die verligting van die sogenaamde “siek gebou”-sindroom. Kantore met plante se geraasvlakke is laer waar dit as buffers dien tussen verskillende groepe mense wat saam werk. Dit het ook ’n sielkundige uitwerking op mense en navorsing het getoon dat die teenwoordigheid daarvan help met die verlaging van stresvlakke.
Muurbehangsels
Muurbehangsels gee definisie aan ’n vertrek en is uitstekend om die aksentkleure in jou werkspasie mee te herhaal of te inisieer. “Dit hang alles af van wat jy teen jou mure hang. As jy oorspronklike kunswerke as fokuspunt wil gebruik, maak seker dat dit iets is waarvoor jy lief is en waarmee jy daagliks kan saamleef. Herhaal dan kleure uit die werke op klein skaal in die res van die vertrek.
Geure
Geur kry nie genoeg aandag in die werksomgewing nie. ’n Mens moet jou eie sintuie en dié van jou kliënte prikkel soveel as wat jy kan, meen André. “Wees versigtig vir 'n té oorheersende reuk in 'n klein kantoor. Hou dit vars en neutraal met 'n geur soos vanielje. Potpourri of gegeurde kerse kan ook goed werk, en die kerse hoef nie op jou lessenaar te staan nie. Plaas dit buite sig in 'n veilige hoekie.
“Mense assosieer reuke met gevoelens. ’n Aangename reuk gaan dus ook vir hulle 'n aangename atsmosfeer en gevoel skep.” Lugreëling behoort gereeld gediens te word om ’n ou gebou-reuk te voorkom en rook is ’n groot nee-nee as jy ’n professionele beeld wil skep.
Hoe jy jou kantoor ook al inrig, is dit belangrik om te onthou dat daar geen vaste reëls is nie. Dit het alles te doen met jou persoonlikheid en die soort werk wat jy moet verrig. Theofista sê haar eie styl is simplistiek en elegant. “Ek is nie ’n modeslaaf nie maar gebruik sekere elemente van die jongste giere wat ek dan by my persoonlike smaak aanpas. Ek sien dus my kantoor soos ’n skoen, dit moet net reg pas en mooi wees!”
argief
JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 6)
Kom ek deel vandag met jou die grootste spaargeheim wat ek ontdek het …ONS ALMAL MAAK FOUTE ...
... maar leer ons daaruit?JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 5)
Gaan op 'n finansiële dieetBEDERFGELD ...
... net vir jou!STAAN OP EN SÊ JOU SÊ!
... en kry só meer respekJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 4)
Die hoofmomente van spaarGEHEIME VAN SUKSESVOLLE VROUE
... en wat sê die lewensafrigter?WAT PRESIES RUK JOU SAK?
Koopverleidings wat pla ...JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 3)
'n Praktiese raamwerkJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 2)
'n nuwe benadering


.jpg)




.jpg)

















