40 SLIM SUPERMARKFOEFIES jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

SLIM SUPERMARKFOEFIES

SLIM SUPERMARKFOEFIES

Jy glip gou by die winkel in om brood en melk te koop, maar stap dan uit met 'n hele trollie vol inkopies...

2012-01-13

Dit is tyd dat jy bewus word van die slim maniere waarop supermarkte jou om die bos lei om meer te koop as wat jy kan bekostig!

Die hoofrede waarom jy soms meer geld uit te gee as wat jy kan bekostig, is dat supermarkte wil hê jy moet. Hulle stel nie belang daarin om vir jou geld te bespaar nie, hulle wil eintlik hê jy moet meer uitgee as wat jy van plan was. Daarom gebruik hulle verskeie slim foefies om jou te manipuleer om te verseker dat dit gebeur. Hierdie taktieke verskil van winkel tot winkel en is gemik op die behoeftes en denkwyse van die teikenmark. Jy moet daarom weet van sulke streke as jy binne jou begroting wil bly.

Aan die neus rondgelei


Wanneer jy by die supermark instap, is die kans groot dat die eerste afdeling waarin jy jou gaan vasloop, die bakkery, vleisafdeling of blommeafdeling sal wees. Dit is bedoel om jou lus te maak om verder inkopies te doen omdat die geur van varsgebakte brood, geroosterde hoender of vars rose jou sal laat goed voel. En as jy goed voel, is jy meer geneig om geld uit te gee.

Die nodige oogkontak

Supermarkte is baie spesifiek oor hoe hulle winkels uitlê en waar hulle produkte pak. As jy net gou winkel toe gaan om basiese items soos melk, brood en eiers te koop, sal jy vind dat hierdie produkte in teenoorgestelde dele van die winkel gevind kan word. Kenners meen dat tussen 40% en 60% van alle kruideniersaankope op die ingewing van die oomblik gemaak word en winkels wil graag die beste van elke geleentheid maak. Hulle weet dat die meeste mense net winkel toe kom om die basiese dinge te koop en plaas dit daarom ver uitmekaar. Hulle hoop dan jy sal swig onder die versoeking om ander lekkernye te koop wat hulle op ’n slim manier tussen hierdie produkte ingewerk het.

Wat rakspasie aanbetref, het jy dalk al agtergekom dat die goedkoper “geen naam”-produkte op die boonste of onderste rakke geplaas word, terwyl die duurder produkte ooghoogte geplaas word. Die rede is dat die duurder produkte jou oog moet vang en jy nie moet aandag gee aan die goedkoper alternatiewe nie. Die mense wat verantwoordelik is vir die plasing van produkte neem ook nie net volwassenes in ag nie. Graanvlokkies, speelgoed, lekkergoed en ander kinderprodukte word dikwels laer geplaas om die aandag van die jongelinge te trek wat saam met hulle ouers winkel toe kom. Verder word die gewildste produkte ook in die middel van die ry aangetref sodat jy met elke gangetjie moet afgaan om te kry waarna jy soek – en dan vang ander produkte jou oog wat jy nie noodwendig nodig het nie, maar jy koop dit in elk geval. 

Sjokolade-verleiding

Om in ’n lang ry te wag om vir jou inkopies te betaal kan baie vervelig wees. Jy is moeg, honger en geïrriteerd en is skielik sommer lus vir die sjokolade wat langs jou op die rak lê. Terwyl jy wag, trek die prikkel op die voorblad van die tydskrif op die rak langs jou jou aandag en jy sit dit in jou mandjie sodat jy die betrokke artikel kan lees. Dis ’n bose kringloop. Winkeleienaars weet dit, daarom word daar soveel interessanthede en lekkernye rondom betaalpunte geplaas. Wees bedag hierop en probeer om hierdie items te ignoreer as jy dit nie regtig nodig het nie.

Goedkoop koop is duurkoop

Winkels is mal daaroor om afslag te belowe ten einde potensiële klante na die winkel te lok. Wanneer daar ’n hoop produkte aan die einde van ’n ry is, neem jy sommer dadelik aan dat dit afgemerk is. Supermarkte maak staat op daardie aanname en hou daarvan om sulke hopies ten toon te stel en soms is dit nie eers afgemerk nie. 

Supermarkte probeer om jou te oortuig dat jy iets nodig het en dat jy dit dadelik nodig het. Dit is hoekom hulle ’n tydsduur aan uitverkopings haak, want dan voel klante dat hulle nie die kans vir ’n winskopie kan laat verbygaan nie. Hulle koop dan die produk of hulle dit nou nodig het of nie.

Dit is maklik om oorweldig te voel by die supermark met alles wat jy sien, ruik en hoor. Winkeleienaars bestee baie tyd daaraan om uit te vind hoe hulle jou kan manipuleer om meer geld te spandeer. So, volgende keer as jy weer winkel toe gaan, staan sterk en moenie swig voor al hierdie verleidings nie.

Bronne: divinecaroline.com
srph.it
healthcompareguide.com
helium.com



5 wenke om geld te spaar wanneer jy inkopies doen:


1. Stel ’n inkopielys op en hou daarby. Moenie iets koop as jy dit nie nodig het nie. Hou ook ’n klein sakrekenaar in jou handsak.
2. Eksperimenteer met goedkoper alternatiewe, want baiekeer sal jy nie eers die verskil agterkom nie. 
3. Moet nooit op ’n leë maag gaan inkopies doen nie, want dan sal geure en kitskos jou beslis verlei om meer te spandeer as wat jy beplan het.
4. Los jou krediet- en debietkaart by die huis en neem net genoeg geld saam om te koop wat jy beplan het om te koop.
5. Moenie verlei word deur ’n mooi verpakking nie. Dink altyd aan die produk binne die verpakking en die gehalte daarvan voordat jy koop. Partykeer betaal jy meer vir die verpakking as vir die produk.


Kommentaar
  • Great artikel, advertensies word ook so ontwerp dat dit reseptore in jou brein "bypass" sodat jy goed koop wat jy nie werklik nodig het nie

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]