40 KIES DIE REGTE MEDIESEFONDS jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

KIES DIE REGTE MEDIESEFONDS

KIES DIE REGTE MEDIESEFONDS

Gesondheid is nie iets wat 'n mens kan koop nie.

2011-11-28

Dis ook nie iets wat jy maklik kan terugkry as dit eers verswak het nie. Daarom is dit nodig om altyd seker te maak dat jy en jou gesin die beste mediese sorg en voordele het, veral wanneer onvoorsiene omstandighede opduik.


As jy nie behoorlike dekking het nie, kan mediese uitgawes jou ’n fortuin uit die sak jaag. Sowat 7,5 miljoen mense maak elke jaar van privaat mediese fondse gebruik, terwyl meer as 40 miljoen mense van die staat afhanklik is vir mediese sorg. Dit beteken dat dit nie altyd vir die staat moontlik is om die beste mediese versorging aan pasiënte te gee nie. ’n Goeie mediese fonds is dus uiters noodsaaklik, maar jy moet weet watter opsie die beste vir jou en jou gesin se behoeftes sal sorg.

Jou opsies


Daar is deesdae talle verskillende opsies beskikbaar, wat doelgemaak is om aan jou begroting en behoeftes te voldoen. Die geheim is om die beste opsie te kies met wat jy kan bekostig. Mediese versekering bestaan hoofsaaklik uit drie aspekte, wat in die meeste gevalle gekombineer word. 

•    Hospitaaldekking Hierdie aspek dek die koste vir behandeling wanneer ’n  pasiënt in die hospitaal opgeneem word. Hospitaalkoste kan baie hoog wees. As iemand in jou gesin sonder behoorlike dekking in die noodeenheid beland, kan dit ’n klomp geld kos wat jy nie uit jou sak sal wil betaal nie. Hierdie dekking betaal nie vir uitgawes buite die hospitaal nie. Een persoon met ’n basiese plan sal 100% dekking ontvang mits die hospitaal die ooreengekome tariewe hef vir die behandeling. 

•    Dag-tot-dag-dekking Hierdie aspek dek jou dag-tot-dag mediese uitgawes. Dit is gewoonlik onderhewig aan ’n mediese spaarrekening wat gebruik word om vir uitgawes te betaal, soos doktersondersoeke, voorskrifmedisyne en X-strale. Hierdie voordeel kan baie vinnig uitgeput raak as jy dit nie behoorlik bestuur nie. Hierdie dekking sal nie vir koste binne die hospitaal betaal nie. Jou mediese spaarrekening bepaal gewoonlik dié tipe voordele vir jou dag-tot-dag-dekking.

•    Chroniesemedikasie-voordele Hierdie aspek dek die koste van die medisyne wat jy elke maand moet gebruik om chroniese toestande, soos hoë bloeddruk, hoë cholesterol, asma, ensovoorts te behandel. Daar is gewoonlik ’n beperkte aantal toestande wat behandel mag word en dit is onderhewig aan ’n jaarlikse limiet. Die meeste mediese fondse dek die 25 basiese chroniese toestande wat daar is. Om dekking te ontvang, moet jou dokter hierdie behandeling voorskryf en dan moet dit ook deur die fonds goedgekeur word.

Voordele van ’n goeie mediese fonds


Alhoewel daar graag gesê word dat mediese fondse net ’n geldmaakstorie is, is dit glad nie waar nie. Hierdie instansies verseker lede teen hospitaalkoste en ander gesondheidsuitgawes. Hulle verseker ook dat jy goed versorg word, die regte medikasie ontvang en voorkeurtariewe by hospitale en apteke kry wanneer jy van hulle dienste gebruik moet maak. 

Wanneer jy aan ’n mediese fonds behoort, sal jy nie nodig hê om in lang rye te sit en wag om die dokter te sien, opgeneem te word of medikasie te ontvang nie, wat ongelukkig die geval is by staatsinstellings.

Faktore wat jou mediese behoeftes bepaal


Oor die algemeen sal jou ouderdom en gesondheid baie te doen hê met watter tipe opsie die beste vir jou sal werk. Dit help byvoorbeeld nie om ’n hospitaalplan te kies as jy elke tweede dag by die dokter is maar nooit opgeneem word nie. Soos ’n mens ouer word, styg jou behoefte aan chroniese medikasie dikwels. Jou mediese fonds sal ook aangepas moet word wanneer daar ’n nuwe lid bykom of wegval. Wanneer jou kind 21 jaar oud word, word hy ’n volwasse afhanklike en sal jou premie hoër word as hy op die fonds bly en daal as jy hom afhaal.

Wenk: Hou vir ’n jaar boek van jou mediese uitgawes, al betaal die medies dit. Dit sal jou help om vas te stel wat julle behoeftes in randwaarde is en jou ’n beter gevoel gee watter dekking jy nodig het. As een van jou gesinslede aan ’n spesifieke toestand ly, is dit belangrik om seker te maak dat die opsie wat jy kies die toestand sal dek. 

Wat is ’n selfbetalingsgaping?

Die selfbetalingsgaping tree in werking wanneer die bedrag wat jy vir jou dag-tot-dag-uitgawes het, oorskry is. Die mediese fonds sal jou laat weet as jou mediese spaarrekening uitgeput is. Dit beteken dat jy ’n sekere deel van jou mediese uitgawes self moet betaal voordat die fonds verder sal betaal. Hierdie bedrag staan gewoonlik apart van voordele soos hospitaalkoste en chroniese medikasie omdat laasgenoemde nie van die dag-tot-dag-voordele afgetrek word nie. Jy sal dus steeds in die hospitaal opgeneem kan word al is jy in ’n selfbetalingsgaping.

Vul jou mediese fonds aan


As jy wil seker maak dat alle onvoorsiene uitgawes gedek word, soos wanneer jy ’n bybetaling op sekere operasies en prosedures moet maak, is dit ’n goeie idee om gapingsdekking te oorweeg. Dit gebeur dikwels dat die mediese fonds slegs mediesefondstariewe betaal en dat die hospitaal of diensverskaffer meer as dit kwoteer vir ’n spesifieke prosedure. Die lid moet dan self die verskil betaal. Marco Fonto, besturende direkteur van Stratum Benefits, sê dat dit moontlik is om tot 500% van hospitaalkoste te dek met gapingsdekking teen so min as R91 per maand. Om veilig te wees, is dit ’n goeie idee om hierdie dekking nie by ’n mediese fonds uit te neem nie, maar eerder by ’n onafhanklike instansie. Onthou altyd dat daar ’n drie maande wagperiode is vir die dekking om in werking te tree, behalwe in ’n noodgeval. 

Wat jy moet onthou wanneer jy aansoek doen vir ’n mediese fonds

Dit is noodsaaklik om altyd die vrae op jou aansoekvorm eerlik en noukeurig te beantwoord. As jy oneerlik is, kan dit toekomstige betalings beïnvloed. As jy voorheen lid van ’n fonds was, is dit ’n goeie idee om die fonds waarby jy aansoek doen van ’n mediesefondssertifikaat te voorsien. Bestaande mediese toestande kan lei tot ’n wagperiode van tussen 3 en 24 maande en sodra dit dan verstreke is, sal jy die volle voordeel geniet. 



Kommentaar
  • selfbetalingsgaping - weet enigiemand hoe en waar mens aansoek doen daarvoor?
  • Dit hang van jou opsie af - en is gewoonlik op die meer omvattende planne. Verwys jy nie dalk na die gapingsdekking nie? Dit kan jy doen by plekke soos PSG, Absa HCC, AF etc - dit is 'n versekerings produk wat jou help met al daai kortbetalings. En asb dit is nie omdat jy 'n slegte mediese fonds het nie - maar eerder 'n dokter wat meer soek as wat jou skema dek!!

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]