GELDSLIM KINDERS
Dit is vakansie en die lekkerste tyd om te koop en te geniet. Maak jou kinders hierdie vakansie só geldslim ...
2011-11-22
Dit is vakansie en die lekkerste tyd om te koop en te geniet. Maak jou kinders hierdie vakansie só geldslim ...
2011-11-22
3 praktiese geldoefeninge vir die vakansie
• Inkopies
Gee vir jou kinders die Kersete se spyskaart. Laat hulle die bestanddele koop binne ’n begroting van byvoorbeeld R1 500. Help hulle begroot vir elke gereg: Die groente mag byvoorbeeld net R100 kos. Hulle sal gou sien as hulle onverwerkte groente in plaas van die klaar gesnyde weergawe koop, hulle meer het om op die vleis en nagereg te spandeer!
• Vermaak
Laat jou kinders neerskryf wat hulle alles graag wil doen, en laat hulle dan telefonies of op die internet uitvind hoeveel elke uitstappie gaan kos. Deel die sakgeld in die aantal weke op. Hulle sal gou agterkom hulle kan eerder drie Dinsdae teen halfprys gaan fliek as om eenkeer Gold Reef City toe te gaan. Gee hulle die keuse oor hoe hulle die vakansie wil deurbring en wat hulle wil spandeer. Sorg net dat jy ook daarby bly ...
· • Verkoop
As julle tuis bly, kan jou kinders hulle geld ook vir hulle laat werk! Laat hulle hulle kamers en kaste regpak en ou of ongebruikte speelgoed, klere en sporttoerusting sorteer. Hulle kan die items op tweedehandse verkoopwebtuistes soos Gumtree adverteer – die plasing van die advertensie is gratis. Anders kan hulle die items na winkels neem wat tweedehandse goedere koop en herverkoop, soos Cash Crusaders. As hulle self die items skoongemaak, bemark en verkoop het, kan hulle die geld vir hulleself hou.
Die moets en moenies van finansies
MOETS
· Laat hom droom en daarvoor spaar. Moedig jou kind aan om sy drome finansieel te verwesenlik. Skryf die planne neer, koppel ’n tydraamwerk daaraan en sit die geld maandeliks opsy in ’n gemerkte koevert of deponeer dit in ’n bankrekening. Hou die droom lewendig deur gereeld daaroor te gesels en die vordering te meet.
· Verduidelik wat in jou beursie aangaan. Dit lyk mos lekker as jy die kaarte by die betaalpunt uitruk en tjoeftjaf met sakke vol aankope wegstap! Maak seker jou kind verstaan hoe jou debietkaart, kredietkaart en tjekboek werk. Verduidelik dat die transaksie ’n opdrag aan jou bank is om geld na die winkel se rekening oor te plaas. Verduidelik ook hoe jou geld in die eerste plek in jou rekening beland het!
MOENIES
· Moenie skuld ligtelik aangaan nie. Vermy dit veral om verbruikersitems soos klere of vermaak soos rekenaarspeletjies op skuld te koop. Leer jou kinders hierdie les deur nie toe te laat dat hulle voor hulle volgende betaaldag by jou leen nie. Gee ’n bietjie tough love, Ma!
· Moenie van hande-arbeid vergeet nie! Moenie vervang wat jy kan regmaak nie. Kyk of jy die bedlampie, hemp of tuinstoel kan regmaak eerder as om blitsvinnig ’n nuwe een te koop. Verduidelik dat jy so geld spaar, én dat jy die gesin se koolstofvoetspoor verklein.
5 goue reëls vir ouers en kinders
Vergeet van die verlede se finansiële foute en hou dié 5 goue reëls in gedagte wanneer julle in Januarie tuiskom – dan sal julle volgende vakansie een sonder skuld en sorge wees!
Reël 1: Begroot
Gewoonlik spandeer ’n mens meer gedurende vakansies as deur die jaar. Beplan vroegtydig: Waarsku die kinders vroeg-vroeg om hiervoor te spaar. Hou byvoorbeeld ’n groot deursigtige houer in die kombuis waarin julle ekstra kleingeld kan gooi. Dit sal almal motiveer as hulle sien watter vordering die spaarbussie maak!
Reël 2: Kweek bewustheid
Lê die vakansiebegroting vroeg in die jaar aan die gesin voor. Maak seker hulle verstaan dat die rit see toe petrolkoste, tolgeld, etes ensovoorts behels. Teken ook ekstra kostes aan soos vir die versorging van die troeteldiere asook sekuriteit. As jou kinders klein is, kan jy die begroting visueel voorstel en op ’n plakkaat teken hoe julle vorder met die spaar.
Reël 3: Geniet jou geld
Beklemtoon die feit dat die vakansie – in watter vorm ook al – ’n viering is van julle samesyn en julle prestasies. Dit gaan nie net oor geld of die tekort daaraan nie! Moenie heeltyd mor en kla oor al die uitgawes nie. Die beste dinge in die lewe is eintlik gratis – soos ’n natbeksoentjie van jou kleuter of jou graad 7-seun wat nog saam met sy ma wil Uno speel!
Reël 4: Bemagtig
Maak deur die jaar jou jonger kinders touwys in die winkel. Stuur jou dogter na ’n kiosk of ’n veilige, klein winkeltjie waar jy goed toesig kan hou. Laat sy versnaperings vir die gesin uitkies en self daarvoor met ’n geldnoot betaal. Sy sal gou leer of sy goeie keuses met haar aankope gemaak het. Onthou, moenie inmeng nie!
Reël 5: Beplan
Die Desembervakansie is die ideale tyd om as gesin julle begrotingsbeplanning vir die komende jaar te bespreek. Watter drome wil julle in 2012 nastreef? Moet Ouboet dalk ’n nuwe fiets kry of gaan Sussa begin gimnastiekles neem? Hoeveel keer wil julle op vakansie gaan? Besluit of daar opofferings sal moet wees om hierdie planne te kan uitvoer en skryf dit neer. Wanneer julle tuiskom, sit dit op die aansteekbord sodat almal kan onthou wat die jaar se doelwitte is!
Die belangrikste geldles is dat geld nie alles kan koop nie, sê Erika. “Tyd saam met mekaar, om die Kerstafel, in die branders of langs die braaier, is alles net variasies op die groot seën van bymekaar wees. Gebruik hierdie rustyd goed en trek opvoedkundige geldbordspeletjies soos Monopoly nader om jou kind speel-speel te leer dat julle geld kan beheer!”
argief
JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 6)
Kom ek deel vandag met jou die grootste spaargeheim wat ek ontdek het …ONS ALMAL MAAK FOUTE ...
... maar leer ons daaruit?JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 5)
Gaan op 'n finansiële dieetBEDERFGELD ...
... net vir jou!STAAN OP EN SÊ JOU SÊ!
... en kry só meer respekJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 4)
Die hoofmomente van spaarGEHEIME VAN SUKSESVOLLE VROUE
... en wat sê die lewensafrigter?WAT PRESIES RUK JOU SAK?
Koopverleidings wat pla ...JOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 3)
'n Praktiese raamwerkJOU 2011 SPAAAAARRR-PLAN! (deel 2)
'n nuwe benadering


.jpg)




.jpg)

















