40 HET JY WEER GEKÓÓP? jou sukses Articles www.voelgoed.co.za

HET JY WEER GEKÓÓP?

HET JY WEER GEKÓÓP?

Neem beheer van jou koopbuie

2011-08-16

Jy stap by die winkel in. Jou kooplus skakel in hoogste versnelling. Hier is mooi goed, plesiergoed, jou tipe goed. En jou geld wáái. Al gedink hoe jy R500 per maand kan spaar deur minder geld op dié goed uit te gee? ’n Paar vroue was dapper genoeg om eerlik oor hulle geheime koopsondes te wees.

Skoonheidsmalligheid

Annette, ’n administratiewe beampte van Pietersburg (39) wil weet hoe ’n mens dit regkry om minder geld uit te gee op goed waaroor jy mal is.Sy noem haarself die cream queen van die dorp. “Ek het ’n voorliefde vir skoonheidsmiddels. Enige potjie room of badgoed op ’n winkelrak fassineer my. Om van duur parfuums en mooi spuitjies nie eers te praat nie. Ek is mal oor lekker reuke en toets alles wat lekker en nuut lyk. Menige potjie met lekker lyfgoed verskyn weekliks op my spieëlkas. Die oues is nog nie halfpad op nie, dan het ek al weer ’n nuwe een gekoop. Ek dink nie eers daaraan dat ek dit nie nodig het of dat ek nie regtig die geld daarvoor het nie. Ook nie dat die R569 dalk beter gebruik kon word nie. Ek bedoel, ek hét skuld. As ek nou daaraan dink, kan ek my skuld eintlik gouer afbetaal as ek ’n bietjie minder op dié tipe lekkertes spandeer.”

•   Oplossing

Ek sou voorstel dat Annette self vir haar reëls maak. Sy moet byvoorbeeld uitstalruimtes en winkels wat skoonheidsmiddels verkoop, vermy. Sy mag haarself beloon deur slegs een dag per maand na ’n skoonheidswinkel toe te gaan. En dan moet sy by die huis op ’n toelaatbare, realistiese aantal items besluit. Byvoorbeeld, slegs een lyfroom en een parfuum en een badmiddel. En ’n bottel vir ’n bottel. Sy mag as nog ’n beloning ’n nuwe item koop eers wanneer ’n bottel leeg is.

Annette kan ook haar eie lyfskrop maak. Neem vitamien E-room en voeg growwe sout of suiker en laventelolie by vir geur. Op hierdie manier kan daar maklik R500 in haar spaarbussie beland.

Dekordiva

Sheldene (36), ’n onderwyseres van Alberton, het ’n oneindige behoefte daaraan om versierings vir haar huis te koop. Volgens haar het haar huis gereeld ’n makeover nodig. “As ek soggens deur my huis loop, wil ek voel ek het ’n uitsonderlike huis met ’n uitsonderlike atmosfeer. Daarom koop ek gereeld ’nverskeidenheid huisprodukte, dekor en interessante goed. Dis waarvan ek hou, waarvoor ek lief is.

“My huis loop oor van dekor. Groot en klein goed. Items wat ’n mens by stalletjies koop, maar ook dié wat in glanstydskrifte geadverteer word, sien jy baie gou in my huis. Maar moenie dink my huis is nie smaakvol nie! Kaggelitems het ’n nuwe betekenis gekry. Ek stal graag uit en wys wat mooi is. Dit pla my soms ’n bietjie in die winkel as ek te veel goed koop en te veel geld daarop spandeer.

“Maar dan sê ek vir myself dis waarvoor ek lief is en daar is nou nie juis iemand wat my so sal bederf soos ekself nie. En ek geniet dit. Ander mense gee soms geld op die verkeerde goed uit, soos alkohol of dagga. Boekrakke, borde, tafeldoeke, matte, meubels, koffiebekers en fotorame waarvan ek reeds heeltemal genoeg het, stroom weekliks by my huis in. Die talle @home-winkels in die winkelsentrum se personeel ken my almal omdat ek so baie daar kom.”

•   Oplossing

Sheldene kan begin om meer funksioneel te dekoreer. Items wat nutteloos rondstaan, moet weg! Dit sal haar kooplus help in bedwang hou. Sy kan eerder items in die huis rondskuif om ’n verandering aan te bring as om iets nuuts te koop en geld uit te gee. Die ou en oorbodige goed kan sy op maandelikse garage-verkopings verkoop en so R500 per maand spaar. Die geld wat sy dan nie op dekor spandeer nie, kan hierdie spaarfonds aanvul.

Groot koslus

Belinda van Robindale (38) sê sy en haar man kan kos nie weerstaan nie. En dit meestal is supermarkkos en nie restaurantkos waarop hulle te veel geld uitgee nie. “Ons maak graag saam kos en beskou onsself as koskokkedore oor ons kort-kort met ’n groot klomp kositems by die huis kom en heerlike disse maak. Maar ons het meestal nie die helfte van die aankope nodig nie en dikwels is vermorsing die gevolg. Ons is gaande oor eksotiese kosse en moet eenvoudig alles op die proef stel as ons dit sien. Ons koop graag kosmopolitiese geure en hou beslis nie net by die supermarklysie nie.

“Vandag is daar ’n enorme verskeidenheid produkte op die rakke. Gewoonlik wil ons Brasiliaans, Keniaans, Hollands en Grieks probeer as dit by koffie kom. Die boksies lyk so mooi, ’n mens kan dit nie weerstaan nie. Kosmaak is ons stokperdjie en saans is dit amper al wat ons doen!”

•   Oplossing

Die kosliefhebbers kan begin spaar deur nie honger winkel toe te gaan nie. Bly weg van spesialiteitskoswinkels, want dis die duur winkels. Stel ’n spesifieke inkopielys op en hou daarby.

Wenke om oorspandering op kos te voorkom:

•    Stel ’n begroting vir kosuitgawes op per maand en hou daarby.
•    Maak inkopielysies en moet niks anders koop nie.
•    Bestel kos aanlyn, dan sal die versoekings in die winkel nie so erg wees nie.
•    Beloon jouself. As jy byvoorbeeld drie maande lank binne die begroting en lysie bly, kan jy vir jouself iets eksoties koop.
•    Jy kan steeds eksotiese goed koop, maar bestudeer spesifieke resepte en koop dan die regte bestanddele en hoeveelhede – dit spaar geld en voorkom vermorsing.
•    Koop bestanddele wat nie gou sleg word nie in groot hoeveelhede – soos suiker, meel, olie, melk, soppoeier en pasta. Dit is goedkoper en jy kan vooraf beplan wat om vir ’n ete by te koop.
•    Koop by markte indien moontlik. Vars groente en vrugte is goedkoper by markte as in die winkels.
•    Eet voor jy winkel toe gaan as jy graag geld op kos en lekkernye uitgee.

Wenke om spandabelrigheid te keer

•    Ken die faktore wat jou dryf om te veel geld uit te gee.
•    Vermy TV-advertensies en demonstrasies wat jou wil laat glo jy het iets nodig en wat jou kooplus stimuleer.
•    Moenie jouself toegang gee tot nuwe krediet nie. Verlaag jou kredietkaart se limiet.
•    Vergelyk winkels se pryse.
•    Dis moeiliker om te voel jy gee geld uit as jy met ’n kaart betaal. Betaal dus liewer kontant.
•    Hou rekord van hoeveel jy spandeer.

Emosionele koop


Volgens prof. Karen Pine van die Hertfordshire Universiteit in Brittanje het nuwe studies getoon dat vroue PMS probeer hanteer met uitstappies winkels toe en die koop van nuwe goed. Dit wys dat vroue tien dae voor menstruasie minder in beheer van hulle finansies (en drange) was en daarom meer geneig tot oorspandering op dinge wat hulle nie nodig het nie.

In die meeste gevalle het die groot spyt later gekom. 443 vroue tussen die ouderdom van 18 en 50 is betrek. Die koopgedrag was dikwels in reaksie op intense emosies. Gestresde en depressiewe vroue het gekoop om verligting te kry en hulleself op te beur. Dié vroue het verligting van angstigheid en ’n gevoel van behaaglikheid beleef.

Koop het ’n kort rukkie gehelp om emosies te reguleer. Andersins spandeer vroue bloot omdat dit ’n opwindende ervaring is.

So, of dit nou klere, musiek of tegnologie is waarop jy buitensporig baie geld uitgee, jy kan die spandeermonster die nekslag toedien.


Willemien Olivier

Kommentaar

gesels saam


argief

soek op voelgoed

 

 

 

voelgoed

vermaak

 

 

   vg TV [kyk dit]


  

   vg OUDIO [luister dit]